JESAJA 28:1-13

JESAJA 28:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Dit sal sleg gaan met die stad Samaria. Die mense van Efraim wat altyd dronk is, is trots op Samaria. Die stad is op 'n berg bokant 'n vrugbare vallei, en dit is 'n mooi stad. Maar dit sal word soos 'n blom wat droog word en afval. Die Here sal nou iemand stuur wat sterk is en wat kan doen wat hy wil. Hy sal kom soos 'n hael-storm, 'n stormwind wat alles verwoes. Hy is soos 'n groot reën-storm en hy sal die stad verwoes. Die dronk mense van Efraim is nou trots op hulle stad, maar ander mense sal met hulle voete trap op die stad. Hierdie stad wat op 'n berg is bokant 'n vrugbare vallei, hierdie mooi stad sal word soos 'n blom wat droog word en afval. Die stad sal word soos die eerste vy wat ryp word: Iemand sien die vy en hy pluk dit en sluk dit in. Die mense wat oorgebly het van die volk van die Here, sal daardie dag trots wees op Hom, hulle sal trots wees op die Here wat oor alles regeer. Hy sal vir hulle leer om in die poort reg te besluit oor mense. Hy sal die mense sterk maak wat die vyande moet keer wat in die stad wil inkom. Die priesters en die profete is ook dronk. Hulle het wyn en bier gedrink en hulle loop val-val. Hulle weet nie wat hulle doen nie, hulle weet nie waar hulle is nie. Die Here wys vir hulle wat sal gebeur, maar hulle loop val-val. Hulle moet sê wat is reg, maar hulle kan nie regop staan nie. Hulle word naar en gooi op en mors op al die tafels in die tempel. Hulle sê: “Ons is nie klein kindertjies nie, hoekom wil Jesaja vir ons leer? Hoekom wil hy vir ons vertel wat die Here vir hom gesê het? Ja, hy praat aanmekaar, hy hou aan om vir ons te sê wat ons moet doen.” Ja, hulle spot, maar nou sal die Here ook met húlle spot, Hy sal op 'n ander manier met hierdie volk praat. Hy het voorheen vir sy volk gesê: “Hier is die plek waar julle kan rus, hier moet julle die mense wat moeg is, laat rus, hier kan julle veilig woon.” Maar hulle wou nie luister nie. Nou sal die Here weer met hulle praat. Hy sal aanhou om vir hulle te sê wat hulle moet doen. Hy sal dit doen totdat hulle agteroor val en seerkry, totdat die vyande hulle vang en hulle wegvat.

JESAJA 28:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WEE die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is. Kyk, die Here het een wat sterk en magtig is, soos 'n haelstorm, 'n storm vol verwoesting, soos 'n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die grond gooi met krag. Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim; en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal, sal wees soos 'n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg. In dié dag sal die HERE van die leërskare wees tot 'n sierlike kroon en 'n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk, en tot 'n gees van strafgerig vir hom wat sit oor die gereg, en tot 'n sterkte vir hulle wat die geveg terugdring na die poort toe. En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak. Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie. Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier 'n bietjie, daar 'n bietjie. Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur 'n vreemde tong met hierdie volk spreek, Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier 'n bietjie, daar 'n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.

JESAJA 28:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ellende wag vir Samaria, die kroon, die trots van die dronkaards van Efraim, die roem van die drankverslaafdes, die krans van verwelkte blomme, dié stad hoog bokant die vrugbare vallei. Die Here het iemand tot sy beskikking wat sterk en magtig is en wat dié kroon grond toe sal bring soos 'n haelstorm, soos 'n vernietigende stormwind, soos stortreëns uit 'n wolkbreuk. Dié kroon, die trots van die dronkaards van Efraim, sal met die voete vertrap word, dié krans van verwelkte blomme waaroor hulle roem, die stad hoog bokant die vrugbare vallei is soos 'n ryp voorvy: wie hom sien, pluk hom en kyk skaars na hom voor hy hom wegsluk. Daardie dag sal die Here die Almagtige die kroon wees, die krans waaroor dié sal roem wat van sy volk oor is. Hy sal aan dié wat reg moet spreek, 'n sin vir reg gee, Hy sal krag gee aan dié wat die aanval moet afslaan by die stadspoorte. Maar ook die priesters en profete hier in Jerusalem slinger en waggel van dronkenskap; hulle slinger, hulle is beneweld, hulle waggel van die wyn en die drank; die profete slinger wanneer hulle gesigte moet uitlê, die priesters loop twee rye spore wanneer hulle regsbeslissings moet maak. Al die tafels is vol braaksel, daar is nie 'n plek wat nie bemors is nie. Hulle sê: “Vir wie wil Jesaja leer, vir wie wil hy die boodskap uitlê wat hy sou gehoor het? Ons is nie kinders wat pas gespeen is, wat nou net van hulle ma's se borste af weggevat is nie! Wat ons van hom hoor, is 'n bietjie brabbeltaal hier en 'n bietjie brabbeltaal daar!” Hy sál in die vervolg met dié volk praat met stotterende woorde, in 'n vreemde taal. Hy het vir hulle gesê: Die rus moet hier wees, gee hier vir die vermoeide rus, hier is die plek vir vrede! Maar hulle wou nie luister nie. Die woord van die Here tot hulle sal nou wees 'n bietjie brabbeltaal hier en 'n bietjie brabbeltaal daar, sodat hulle sal struikel waar hulle ook gaan, verstrik sal raak, gevang en vernietig sal word.

JESAJA 28:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wee die trotse kroon van die dronkes van Efraim! Dit is 'n verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei. Wee hulle wat deur wyn oorweldig is! Kyk, my Heer het iemand wat sterk en kragtig is – soos 'n wolkbreuk met hael, soos 'n vernietigende storm. Soos 'n wolkbreuk met kragtige, verspoelende water sal hy dit teen die grond gooi met mag. Dit sal met voete vertrap word – die trotse kroon van die dronkes van Efraim. Die verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei, sal soos een van die vallei se vroeë vye voor die someroes wees. Dit is skaars in sy handpalm, of die een wat dit raakgesien het, sluk dit weg. Op daardie dag sal die HERE, Heerser oor alle magte, 'n sierlike kroon, 'n eervolle krans word vir die oorblyfsel van sy volk. Hy sal 'n gees van geregtigheid wees vir hulle wat gaan sit vir die regspraak, en heldekrag vir hulle wat die geveg terugdryf na die stadspoort. Ook hierdie mense slinger van wyn en waggel van sterk drank: Priester en profeet slinger van sterk drank, hulle is verwar deur wyn, hulle waggel van sterk drank; hulle slinger tydens 'n visioen, hulle steier tydens 'n uitspraak. Ja, alle tafels is vol braaksel, vomeersel, sonder 'n skoon plek. Vir wie wil hy dan kennis leer, vir wie die boodskap verduidelik? Vir hulle wat van melk gespeen is, van die borste afgehaal is? Die boodskap is: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar. ” Ja, deur honende lippe en deur 'n vreemde taal sal die HERE met hierdie volk praat – Hy wat vir hulle gesê het: “Hier is die rusplek. Gee rus aan die een wat uitgeput is! Hier is die verposing.” Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar, sodat hulle gaan en agtertoe struikel, gebreek, verstrik en gevang word.”

JESAJA 28:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Wee die kroon van trots, die dronkaards van Efraim, wie se heerlikheid 'n verwelkende blom is, wat op die top van die vet valleie is van die wat oorweldig is deur die wyn! Kyk, die HERE het 'n magtige en sterk, wat soos 'n storm van hael en 'n verwoestende storm, soos 'n vloed van geweldige waters wat oorstroom, met die hand na die aarde sal neerwerp. Die kroon van trots, die dronkaards van Efraim, sal vertrap word; En die heerlike prag wat op die top van die vet dal is, sal 'n bloeiende blom wees en soos die haastige vrugte voor die somer; en wanneer hy wat daarna kyk, sien, terwyl dit nog in sy hand is, eet hy dit op. In dié dag sal die HERE van die leërskare vir die oorblyfsel van sy volk wees tot 'n kroon van heerlikheid en 'n sieraad van skoonheid, En as 'n gees van oordeel vir hom wat in die gereg sit, en tot krag vir die wat die geveg na die poort bring. Maar hulle het ook gedwaal deur wyn, en deur sterk drank is hulle uit die weg; die priester en die profeet het gedwaal deur sterk drank, hulle is verslind deur die wyn, hulle is uit die weg deur sterk drank; hulle dwaal in visioen, hulle struikel in die oordeel. Want al die tafels is vol uitbraaksel en vuilheid, sodat daar geen rein plek is nie. Wie sal hy kennis leer? en wie sal hy die leer laat verstaan? hulle wat van die melk gespeen en van die bors onttrek is. Want gebod moet op gebod wees, gebod op gebod; reël op reël, reël op reël; hier 'n bietjie, en daar 'n bietjie: Want met stamelende lippe en 'n ander tong sal Hy met hierdie volk spreek. Aan wie Hy gesê het: Dit is die rus waarmee julle die vermoeide tot rus kan bring; en dit is die verkwikking; maar hulle wou nie hoor nie. Maar die woord van die HERE was vir hulle gebod op gebod, gebod op gebod; reël op reël, reël op reël; hier 'n bietjie, en daar 'n bietjie; sodat hulle kan gaan en agteruit val en gebreek en gevang en gevang word.

JESAJA 28:1-13 Die Boodskap (DB)

’n Groot krisis gaan Samaria tref, die trots van die dronk leiers van Efraim. Die stad wat hoog op die berg lê en afkyk op die vrugbare vallei se grootheid is aan die verdwyn, net soos die verlepte blomkrone op sy dronk leiers se koppe. Want die Here het iemand wat sterk en magtig is gereed om hulle aan te val. Hierdie vyand sal toeslaan met die geweld van ’n haelstorm en verwoestende stormwinde. Hy sal alles voor hom platvee soos ’n rivier wat in vol vloed afkom. Samaria, die trots van sy dronk leiers, sal deur die vyand tot stof vertrap word. Die pragtige stad wat so hoog op die berg sit en afkyk op die vrugbare vallei is klaar besig om te verdwyn. Dit sal met Samaria gaan soos met die vroeë vye wat voor die somer ryp word: as iemand so ’n vy sien, pluk hy dit dadelik en eet dit op sonder om eers daaroor te dink. Op daardie dag sal die Here die Almagtige die Een wees oor wie sy volk sal roem. Soos mense met verwondering na ’n pragtige kroon kyk wat ’n koning dra, so sal die mense wat van sy volk oorgebly het, na die Here kyk. Vir die regters wat die hofsake moet hanteer, sal Hy ’n sin vir reg en regverdigheid gee en vir die soldate wat die stad teen aanvalle van buite moet beskerm, sal Hy moed gee. Selfs die priesters en profete loop en slinger in die strate. Hulle is so dronk van die wyn en ander drank wat hulle drink dat hulle nie hulle ampspligte behoorlik kan uitvoer nie. Die profete is te beneweld om die visioene te verstaan wat die Here vir hulle gee en die priesters is so dronk dat hulle nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie. Daar is nie ’n plek op hulle tafels wat nie met hulle braaksel bemors is nie. Hulle spot met my en vra: “Wie dink Jesaja miskien is hy dat hy ons wil kom leer? Wat kan hy ons vertel wat ons nie self weet nie? Dink hy ons is ’n klomp pap babatjies? Hy is net soos ’n ma wat vir haar kind ’n rympie wil leer. Letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël, alles word oor en oor gesê.” Hoor mooi wat ek vir julle sê: Julle wil nie na my luister nie, daarom gaan God vreemdelinge stuur om met julle te praat in ’n taal wat julle nie verstaan nie. Dit sal julle ’n les leer! God het vir sy volk rus en vrede in hierdie land belowe as hulle na Hom sou luister, maar hulle wou nie. Daarom spel die Here nou sy boodskap vir hulle uit in heel eenvoudige taal, letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël. Ten spyte hiervan sal hulle oor hierdie eenvoudige woorde struikel en val om nooit weer op te staan nie. Hulle sal gewond, gevang en met toue vasgebind word.

JESAJA 28:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verwoesting wag vir die stad Samaria, die trots en vreugde van Israel se dronklappe! Die stad is in ’n ryk vallei, maar sy prag sal skielik verdwyn. Verwoesting wag verseker vir daardie stad, die trots van die mense wat neerslaan van die wyn. Want die Here het iemand wat sterk en magtig is. Hy is soos ’n magtige haelstorm en swaar reën wat oor hulle sal losbars en hulle teen die grond neergooi. Die trotse stad van Samaria, die trots en vreugde van Israel se dronklappe, sal vertrap word onder die voete van die vyande. Die stad is in ’n vrugbare vallei, maar sy prag sal skielik verdwyn. Dit sal wees soos ’n ryp vy voor die oes. As iemand dit sien, sal hy dit vat en insluk. Dan sal die HERE die Almagtige self Israel se kroon en eer wees. Hy sal die trots en vreugde wees van die oorblyfsel van sy volk. Hy sal aan hulle regters ’n begeerte gee om reg te spreek. Hy sal groot moed gee vir hulle soldate wat die stadspoorte beskerm. Maar nou is dit dronklappe wat Israel regeer! Die priesters en die profete slinger en waggel van al die wyn en sterk drank. Hulle maak dom besluite as hulle verantwoordelik moet optree. Hulle tafels is vol braaksel. Niks en niemand is skoon nie. Hulle sê: “Vir wie probeer hy leer? Aan wie verduidelik hy sy boodskap? Is dit babatjies wat pas gespeen is, wat so pas van hulle ma’s se borste weggevat is? Want dit is: Doen dit en doen dat, doen dit en doen dat, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie en daar ’n bietjie!” Omdat hulle weier om te luister, sal God met hulle praat deur die onbekende taal van vreemde verdrukkers! Hy het vir hulle gesê: “Hier kan julle rus! Hier kan julle die moeë mense laat rus. Hier is alles rustig.” Maar hulle het geweier om te luister. Daarom gaan die HERE weer met hulle praat. Hy gaan sê: Maak sus en maak so, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie en daar ’n bietjie! Hieroor sal hulle agteroorval, beseer en gevang word, en as ballinge weggevoer word.