Jesaja 28:1-13

Jesaja 28:1-13 ABA

Dit sal sleg gaan met die stad Samaria. Die mense van Efraim wat altyd dronk is, is trots op Samaria. Die stad is op 'n berg bokant 'n vrugbare vallei, en dit is 'n mooi stad. Maar dit sal word soos 'n blom wat droog word en afval. Die Here sal nou iemand stuur wat sterk is en wat kan doen wat hy wil. Hy sal kom soos 'n hael-storm, 'n stormwind wat alles verwoes. Hy is soos 'n groot reën-storm en hy sal die stad verwoes. Die dronk mense van Efraim is nou trots op hulle stad, maar ander mense sal met hulle voete trap op die stad. Hierdie stad wat op 'n berg is bokant 'n vrugbare vallei, hierdie mooi stad sal word soos 'n blom wat droog word en afval. Die stad sal word soos die eerste vy wat ryp word: Iemand sien die vy en hy pluk dit en sluk dit in. Die mense wat oorgebly het van die volk van die Here, sal daardie dag trots wees op Hom, hulle sal trots wees op die Here wat oor alles regeer. Hy sal vir hulle leer om in die poort reg te besluit oor mense. Hy sal die mense sterk maak wat die vyande moet keer wat in die stad wil inkom. Die priesters en die profete is ook dronk. Hulle het wyn en bier gedrink en hulle loop val-val. Hulle weet nie wat hulle doen nie, hulle weet nie waar hulle is nie. Die Here wys vir hulle wat sal gebeur, maar hulle loop val-val. Hulle moet sê wat is reg, maar hulle kan nie regop staan nie. Hulle word naar en gooi op en mors op al die tafels in die tempel. Hulle sê: “Ons is nie klein kindertjies nie, hoekom wil Jesaja vir ons leer? Hoekom wil hy vir ons vertel wat die Here vir hom gesê het? Ja, hy praat aanmekaar, hy hou aan om vir ons te sê wat ons moet doen.” Ja, hulle spot, maar nou sal die Here ook met húlle spot, Hy sal op 'n ander manier met hierdie volk praat. Hy het voorheen vir sy volk gesê: “Hier is die plek waar julle kan rus, hier moet julle die mense wat moeg is, laat rus, hier kan julle veilig woon.” Maar hulle wou nie luister nie. Nou sal die Here weer met hulle praat. Hy sal aanhou om vir hulle te sê wat hulle moet doen. Hy sal dit doen totdat hulle agteroor val en seerkry, totdat die vyande hulle vang en hulle wegvat.