Jesaja 28:1-13

Jesaja 28:1-13 AFR20

Wee die trotse kroon van die dronkes van Efraim! Dit is 'n verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei. Wee hulle wat deur wyn oorweldig is! Kyk, my Heer het iemand wat sterk en kragtig is – soos 'n wolkbreuk met hael, soos 'n vernietigende storm. Soos 'n wolkbreuk met kragtige, verspoelende water sal hy dit teen die grond gooi met mag. Dit sal met voete vertrap word – die trotse kroon van die dronkes van Efraim. Die verwelkende blom, sy pragtige sieraad aan die bopunt van 'n vrugbare vallei, sal soos een van die vallei se vroeë vye voor die someroes wees. Dit is skaars in sy handpalm, of die een wat dit raakgesien het, sluk dit weg. Op daardie dag sal die HERE, Heerser oor alle magte, 'n sierlike kroon, 'n eervolle krans word vir die oorblyfsel van sy volk. Hy sal 'n gees van geregtigheid wees vir hulle wat gaan sit vir die regspraak, en heldekrag vir hulle wat die geveg terugdryf na die stadspoort. Ook hierdie mense slinger van wyn en waggel van sterk drank: Priester en profeet slinger van sterk drank, hulle is verwar deur wyn, hulle waggel van sterk drank; hulle slinger tydens 'n visioen, hulle steier tydens 'n uitspraak. Ja, alle tafels is vol braaksel, vomeersel, sonder 'n skoon plek. Vir wie wil hy dan kennis leer, vir wie die boodskap verduidelik? Vir hulle wat van melk gespeen is, van die borste afgehaal is? Die boodskap is: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar. ” Ja, deur honende lippe en deur 'n vreemde taal sal die HERE met hierdie volk praat – Hy wat vir hulle gesê het: “Hier is die rusplek. Gee rus aan die een wat uitgeput is! Hier is die verposing.” Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees: “ Saw lasaw, saw lasaw, kaw lakaw, kaw lakaw; 'n bietjie hier, 'n bietjie daar, sodat hulle gaan en agtertoe struikel, gebreek, verstrik en gevang word.”