HOSEA 11:1-9

HOSEA 11:1-9 AFR83

Toe Israel nog 'n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep. Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring. Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie. Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer. Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het. Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, 'n juk wat nie afgegooi sal word nie! Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie 'n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.