HOSEA 11:1-9

HOSEA 11:1-9 Die Boodskap (DB)

“Toe Israel nog ’n seuntjie was, was Ek al lief vir hom. Ek het hom uit Egipte uit laat kom om my seun te kom word. Hoe meer Ek egter na hulle geroep het, hoe meer het hulle agter afgode aangeloop. Hulle het vir die Baäls offers gebring. Hulle het vir die beelde van gode wierook gebrand. “Ek self het babatjie Efraim geleer om te loop. Ek het Efraim soos ’n babatjie in my arms rondgedra. Ek het hulle vertroetel. Nou wil hulle dit nie meer onthou nie. Ek het vir hulle omgegee. Ek het met liefde saam met hulle geloop. Ek was vir hulle soos iemand wat by ’n dier kom wat swaarkry en die swaar gewig van sy nek afhaal. Ek het vir hulle kos gegee. Maar hulle weier steeds om na My toe terug te kom. Hulle sal nie na Egipte toe hoef terug te gaan nie. Assirië sal hulle baas wees. Die vyand sal hulle stede aanval. Hulle sal die hekke van hulle stede afbreek. Hulle sal hulle eie planne moet maak om te bly leef. My volk word nie moeg om van My af weg te loop nie. Ek roep hulle om terug te kom, maar hulle weier om ’n voet te versit.” “Ek kan jou nie sommerso laat weggaan nie, Efraim. Ek kry dit nie oor my hart om jou sommer vir jou vyand te gee nie, Israel. Ek kan nie met jou maak soos Ek met Adma gemaak het nie. Ek kan nie met jou laat gebeur wat Ek met Sebojim laat gebeur het nie. Ek baklei met Myself om te besluit wat Ek met jou moet maak. Ek gee te veel om vir jou. Ek sal nie in woede teen jou losbars nie. Ek sal nooit so ver gaan om Efraim heeltemal uit te roei nie. Ek is immers God. Ek is nie ’n mens nie. Ek is die hoë God wat by julle woon. Ek sal nie met my woede op julle lostrek nie.

HOSEA 11:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gesê: “Toe Israel 'n jong seun was, was Ek lief vir hom. Ek het my seun uit Egipte geroep. Ek het die mense van Israel geroep, maar hulle het weggegaan van My. Hulle het vir die Baäls gaan offer, hulle het vir beelde offers gebring. Dit was Ék wat vir Efraim geleer het om te loop. Ek het hulle in my arms gedra, maar hulle het nie onthou dat dit Ek is wat hulle gesond maak nie. Ek was goed vir hulle, Ek was lief vir hulle. Ek het hulle gedra soos 'n mens 'n baba dra, Ek het gebuk en vir hulle kos gegee. Ek wou nie hê hulle moet teruggaan na Egipte nie, en Ek wou nie hê die koning van Assirië moet oor hulle regeer nie. Maar hulle wou nie terugkom na My toe nie. Daarom sal die vyande die mense doodmaak binne-in die stede. Die vyande sal die poorte oopbreek en hulle sal die raadgewers van die koning doodmaak.” Die Here het gesê: “My volk het vas besluit om My nie meer te dien nie. Hulle vra vir 'n afgod om hulle te help, maar hy kan hulle nie optel en help nie. Maar Ek wil julle nie laat gaan nie, mense van Efraim! En mense van Israel, Ek wil julle nie vir 'n ander god gee nie! Ek wil julle nie laat gaan soos Ek by die stad Adma gedoen het nie. Ek wil nie met julle doen soos Ek met die stad Seboïm gedoen het nie. My hart is seer, Ek is baie jammer vir julle. Ek is kwaad, maar Ek sal nie die mense van Efraim doodmaak nie, want Ek is God, Ek is nie 'n mens nie. Ek is die heilige God wat by jou is. Ek sal nie kwaad wees wanneer Ek kom nie.