GENESIS 30:1-22

GENESIS 30:1-22 AFR83

Toe Ragel merk dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld bring nie, het sy jaloers geword op haar suster. Ragel het vir Jakob gesê: “Gee vir my seuns, anders sterf ek.” Jakob het hom vererg vir Ragel en vir haar gevra: “Kan ek God se werk oorneem? Dit is Hy wat sorg dat jy nie swanger word nie.” Ragel het vir hom gesê: “Hier is my slavin Bilha. Hou gemeenskap met haar sodat sy haar kind op my knieë in die wêreld kan bring en ek deur haar 'n kind kan hê.” Ragel het vir Bilha aan Jakob gegee as vrou en hy het met haar gemeenskap gehad. Sy het swanger geword en vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. Toe sê Ragel: “God het in my guns uitspraak gelewer, Hy het my gebed verhoor en vir my 'n seun gegee.” Daarom het sy hom Dan genoem. Bilha die slavin van Ragel het weer swanger geword en 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring. Ragel het toe gesê: “Ek was in 'n bitter swaar stryd gewikkel met my suster, maar ek het gewen.” Toe noem sy die seun Naftali . Toe Lea besef sy bring nie meer kinders in die wêreld nie, het sy haar slavin Silpa gevat en vir Jakob gegee as vrou. Sy het vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en Lea het gesê: “Nou is ek gelukkig!” Sy het die seun Gad genoem. Daarna het Lea se slavin Silpa 'n tweede seun vir Jakob in die wêreld gebring, en Lea het gesê: “Hoe gelukkig is ek. Die vrouens sal my Die Gelukkige noem!” Toe noem sy die seun Aser . Op 'n keer het Ruben in die oestyd veld toe gegaan en liefdesappels gepluk. Hy het dit vir sy ma Lea gebring. Ragel het vir haar gesê: “Gee vir my van die liefdesappels wat jou seun gebring het.” Toe vra Lea vir haar: “Is jy nie daarmee tevrede dat jy my man gevat het nie? Wil jy nou nog ook die liefdesappels vat wat my seun gebring het?” Daarop het Ragel geantwoord: “In ruil daarvoor mag Jakob vannag by jou slaap.” Toe Jakob die aand van die veld af kom, gaan Lea hom tegemoet en sê vir hom: “Jy moet na my toe kom, want om jou te kry, het ek die volle prys betaal met die liefdesappels wat my seun gebring het.” Daardie nag het Jakob toe by haar geslaap. God het Lea se gebed verhoor, en sy het swanger geword en 'n vyfde seun vir Jakob in die wêreld gebring. Sy het gesê: “God het my 'n loon gegee omdat ek my slavin aan my man gegee het.” Toe noem sy die seun Issaskar . Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring. Toe sê sy: “God het hierdie keer 'n mooi geskenk aan my gegee. Nou sal my man by my bly, want ek het ses seuns vir hom in die wêreld gebring.” Toe noem sy die seun Sebulon . Daarna het sy 'n dogter in die wêreld gebring en haar Dina genoem. God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor. Hy het haar nie langer kinderloos gelaat nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid