GENESIS 30:1-22

GENESIS 30:1-22 NLV

Toe Ragel besef dat sy nie kinders kan kry nie, het sy jaloers geword op haar suster. “As jy my nie kinders gee nie, sal ek sterf!” sê sy vir Jakob. Jakob het baie kwaad geword vir Ragel. “Is ek dan God?” vra hy. “Hy verhoed dat jy kinders kry!” Ragel sê toe vir hom: “Gaan slaap by my slavin Bilha. Sy sal namens my vir jou ’n kind in die wêreld bring.” So het Ragel Bilha as vrou vir Jakob gegee en Jakob het by haar gaan slaap. Bilha het swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun. Ragel het hom Dan genoem, want, het sy gesê: “God het in my guns uitspraak gelewer. Hy het my versoek gehoor en vir my ’n seun gegee.” Bilha het weer swanger geword en het aan ’n tweede seun geboorte gegee. Ragel het hom Naftali genoem, want sy het gesê: “Ek is in ’n hewige stryd met my suster gewikkel, maar nou begin ek wen!” Intussen het Lea besef dat sy nie meer swanger gaan word nie. Toe gee sy haar slavin Silpa as vrou vir Jakob. Daarna het Silpa ook geboorte gegee aan ’n seun vir Jakob. Lea het hom Gad genoem, want sy het gesê: “Hoe gelukkig is ek!” Daarna het Silpa geboorte gegee aan ’n tweede seun. Lea het hom Aser genoem, want sy het gesê: “Watter vreugde het my te beurt geval! Die ander vroue sal my sekerlik as gelukkig beskou!” Eendag het Ruben tydens die oestyd op liefdesappels in die veld afgekom. Hy het dit vir sy ma, Lea, gebring. Ragel pleit toe by Lea om daarvan vir haar te gee. Maar Lea het haar vererg en gesê: “Is dit nie genoeg dat jy my man gevat het nie? Nou wil jy nog boonop my seun se liefdesappels ook vat?” Ragel sê toe vir haar: “Hy kan vannag by jou slaap in ruil vir die liefdesappels.” Daardie aand, toe Jakob uit die veld tuiskom, gaan Lea hom tegemoet. “Jy moet vanaand by my slaap,” sê sy. “Ek het daarvoor betaal met die liefdesappels van my seun.” Jakob het toe by haar geslaap. God het haar gebede verhoor. Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n vyfde seun. Sy het hom Issaskar genoem, want sy het gesê: “God het my beloon omdat ek my slavin vir my man as vrou gegee het.” Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n sesde seun. Sy het hom Sebulon genoem, want sy het gesê: “God het ’n goeie geskenk vir my gegee. Nou sal my man by my kom bly, want ek het vir hom al ses seuns gegee.” Later het sy ook aan ’n dogter geboorte gegee en haar Dina genoem. Uiteindelik het God aan Ragel gedink en haar gebede verhoor deur vir haar kinders te gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid