Genesis 30:1-22

Genesis 30:1-22 AFR20

Toe Ragel sien dat sy nie vir Jakob kinders in die wêreld kan bring nie, was sy afgunstig op haar suster. Sy het vir Jakob gesê: “Gee vir my kinders! Indien nie, dan sterf ek!” Jakob het kwaad geword vir Ragel en gevra: “Is ek in die plek van God, wat van jou die vrug van die moederskoot weerhou?” Sy sê toe: “Hier is my slavin Bilha. Gaan by haar in, sodat sy op my knieë geboorte kan gee en ook ek deur haar 'n familie kan opbou. ” Sy het toe haar slavin Bilha vir hom as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan. Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. Toe sê Ragel: “God het aan my reg verskaf en my ook verhoor toe Hy vir my 'n seun gegee het.” Daarom het sy hom Dan genoem. Bilha, die slavin van Ragel, het weer swanger geword en vir Jakob 'n tweede seun in die wêreld gebring. Ragel het toe gesê: “Ek het 'n bomenslike worstelstryd met my suster gehad, maar het ook oorwin!” Sy het hom Naftali genoem. Toe Lea sien dat sy opgehou het om kinders in die wêreld te bring, het sy Silpa, haar slavin, geneem en haar vir Jakob as vrou gegee. Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob 'n seun in die wêreld gebring. Lea het gesê: “Geluk het gekom!” Sy het hom Gad genoem. Silpa, Lea se slavin, het vir Jakob 'n tweede seun in die wêreld gebring. Lea het gesê: “Tot my geluk! Want die vroue sal my gelukkig noem.” Sy het hom Aser genoem. Ruben het in die tyd van die koringoes uitgegaan en in die land op alruin afgekom. Hy het dit vir Lea, sy moeder, geneem. Ragel het vir Lea gesê: “Gee asseblief vir my van jou seun se alruin.” Maar sy het haar geantwoord: “Was dit nie vir jou genoeg om my man te vat nie, dat jy ook nog my seun se alruin wil vat?” Daarop sê Ragel toe: “Nou goed, hy mag maar vannag by jou slaap in ruil vir jou seun se alruin.” Toe Jakob teen die aand van die land af kom, het Lea uitgegaan om hom te ontmoet en vir hom gesê: “Na my moet jy kom, want ek het jou eerlik gehuur met my seun se alruin.” Hy het toe daardie nag by haar geslaap. God het Lea verhoor; sy het swanger geword en vir Jakob 'n vyfde seun in die wêreld gebring. Lea sê toe: “God het my beloning vir my gegee, omdat ek my slavin vir my man gegee het.” Sy het hom Issaskar genoem. Lea het weer swanger geword en 'n sesde seun vir Jakob in die wêreld gebring. Lea het gesê: “God het vir my 'n mooi geskenk gegee! Hierdie keer sal my man sy intrek by my neem, want ek het vir hom ses seuns in die wêreld gebring.” Sy het hom Sebulon genoem Daarna het Lea geboorte gegee aan 'n dogter, en sy het haar Dina genoem. God het ook aan Ragel gedink. God het haar verhoor en haar moederskoot oopgemaak.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid