Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, sê vir die regeerder van Tirus: So sê die Here my God: In jou hooghartigheid het jy gesê: ‘Ek is 'n god, ek woon op die woonplek van die gode, omring deur die see.’
“Maar jy is 'n mens, nie 'n god nie. Jy het jou verbeel jy is 'n god. Jou wysheid het selfs dié van Daniël oortref. Watter geheimenis daar ook al was, niemand kon vir jou kers vashou nie. Jy het met jou wysheid en insig vir jou rykdom verwerf, jou skatkamers gevul met goud en silwer. Jy het met jou groot wysheid en met handel jou rykdom nog meer gemaak, maar dit was juis jou rykdom wat jou hooghartig gemaak het.
“Daarom,” sê die Here my God, “omdat jy jou verbeel het jy is 'n god, daarom gaan Ek ander nasies, wrede volke, teen jou laat optrek. Hulle sal die prag wat jou wysheid vir jou gebring het, met die swaard aanval en jou prag skend. Hulle sal jou in die graf in laat stort, jy sal die dood van 'n gesneuwelde sterf daar op jou eiland in die see. Sal jy vir dié wat aan jou 'n einde gaan maak, nog kan sê jy is 'n god? Vir dié wat vir jou dood gaan sorg, sal jy 'n mens wees, nie 'n god nie. Ander volke gaan jou 'n eerlose dood laat sterf. Ek het gepraat,” sê die Here my God.
Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, sing 'n treurlied oor die koning van Tirus. Sê vir hom: So sê die Here my God:
“Jy was 'n seël wat met sorg vervaardig is,
'n pragtige produk van volmaakte vakmanskap:
jy is uitgebeeld in die godetuin Eden,
omring deur kosbare edelstene:
karneool, topaas, jaspis,
chrisoliet, oniks, opaal,
saffier, turkoois, smarag,
en die reliëfwerk aan jou was van goud.
So is jy gemaak die dag toe jy geskep is.
Jy is uitgebeeld as die gerub
wat met uitgestrekte vlerke moes waghou,
Ek het jou die opdrag gegee.
Jy was op die heilige godeberg,
daar het jy rondgestap tussen glinsterende edelstene.
Jou optrede was onbesproke vandat jy geskep is
totdat jy begin onreg doen het.
Jou uitgebreide handelsbedrywigheid
het geweld deel van jou lewe gemaak
en jou laat sondig.
“Daarom het Ek jou verstoot van die godeberg af,
Ek het jou, gerub wat moes waghou,
tussen die glinsterende edelstene uit verwyder.
Jou prag het jou hooghartig laat word,
jou stralende glans het jou jou wysheid laat verloor.
Ek het jou op die grond gegooi,
jou daar voor ander konings laat lê
dat hulle jou kon bekyk.
“Met jou baie oortredings, met die onreg in jou handel,
het jy jou heiligdomme ontwy.
Daarom het Ek 'n vuur uit jou laat kom
wat jou verteer het.
Ek het jou 'n hopie as op die grond laat word
voor die oë van almal wat toegekyk het.
Almal onder die volke wat jou geken het,
is skrikbevange oor wat met jou gebeur het.
Jy het 'n afskrikmiddel vir ander geword,
dit is vir altyd klaar met jou.”