ESEGIËL 28:1-19
ESEGIËL 28:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, sê vir die leier van Tirus, ‘So sê my Heer, die HERE: “Omdat jou hart hoogmoedig geraak het, het jy gesê, ‘Ek is 'n god; in die tuiste van die gode woon ek in die hart van die seë.’ Maar jy is net 'n mens, nie 'n god nie. Jy stel jou insig gelyk aan die insig van gode! Kyk, jy is slimmer as Danel! Geen geheim is vir jou duister nie! Deur jou wysheid en jou insig het jy vir jou vermoë verwerf, goud en silwer in jou skatkamers weggesit. Deur jou buitengewone handelsvernuf het jy jou vermoë vergroot. Maar jou hart het hoogmoedig geraak oor jou rykdom. Daarom,” so sê my Heer, die HERE, “omdat jy jou insig gelykstel aan die insig van gode, daarom, kyk, Ek bring vreemdes na jou, die gewelddadigstes van die nasies. Hulle sal die swaard trek teen die skoonheid wat jou wysheid gebring het; hulle sal jou skitterende prag ontwy. Na die grafkuil sal hulle jou laat afdaal; jy sal die dood van 'n deurboorde sterf in die hart van die seë. Sal jy steeds sê, ‘Ek is 'n god’, in die teenwoordigheid van hom wat jou doodmaak, en as jy – 'n mens, nie 'n god nie – in die hande is van hulle wat jou deurboor? Jy sal die dood van 'n onbesnedene sterf aan die hand van vreemdes, want Ek het gepraat.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ ” Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, hef 'n treurlied aan oor die koning van Tirus en sê vir hom, ‘So sê my Heer, die HERE: “Jy was die toonbeeld van voortreflikheid, vol wysheid, volmaak in skoonheid. In Eden, die tuin van God, daar was jy. Jy was bedek met alle soorte edelstene: •karneool, •topaas, •akwamaryn, •chrisoliet, •oniks, •jaspis, •lasuursteen, •malagiet en •smarag. Van goud was die insetsels en graverings aan jou bedekking. Die dag toe jy geskep is, was dit gereed by 'n glansende gerub met vlerke wat beskutting bied. Ek het jou daar geplaas; op die heilige berg van gode was jy; tussen klippe van vuur het jy rondgestap. Onberispelik was jy in jou optrede vanaf die dag dat jy geskep is, totdat onreg in jou ontdek is. Deur jou uitgebreide handel is jou binneste met geweld gevul; jy het gesondig. Ek het jou as 'n onheilige uitgewerp, weg van die godeberg af. 'n Gerub met vlerke wat beskut, het jou tussen die klippe van vuur uit verdryf. Jou hart het hoogmoedig geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid nutteloos gemaak oor jou skitterende prag. Op die grond het Ek jou neergegooi; voor konings het Ek so met jou gemaak dat hulle hulle in jou kan verlustig. Oor jou baie sondeskuld weens jou onregmatige handelspraktyke, het jy jou heiligdomme ontheilig. Ek het vuur uit jou binneste laat kom; dit het jou verteer. Ek het jou soos as op die grond gemaak voor die oë van almal wat na jou kyk. Almal onder die volke wat jou geken het, was verslae oor jou. Jy het 'n verskrikking geword, jy sal nooit weer bestaan nie.” ’ ”
ESEGIËL 28:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het vir my gesê: “Mensekind, sê vir die koning van Tirus die oppermagtige HERE sê: “Ewe trots het jy verklaar: ‘Ek is god! Ek sit op die gode se troon in die hart van die see.’ Maar jy is net ’n mens, nie ’n god nie. Jy dink jy is slimmer as Daniël, en dat daar geen geheim is wat jy nie ken nie. Jy het groot rykdom versamel met jou wysheid en insig. Vol goud en silwer is jou skatkamers. Jou vaardigheid in handeldryf het jou baie ryk gemaak, en dis juis jou rykdom wat jou so hooghartig gemaak het. “Daarom, so sê die oppermagtige HERE: Jy dink jy is slimmer as ’n god. Daarom laat Ek ’n vyandige, ’n wrede leër teen jou optrek. Hulle sal jou wysheid aanval en al jou aansien verwoes. Hulle sal jou in die graf laat beland. Jy sal gewelddadig doodgaan in die hart van die see. Sal jy by dié wat jou doodmaak, nog spog: ‘Ek is ’n god!’? Voor hulle sal jy nie ’n god wees nie, maar net ’n mens. Vreemdelinge sal jou doodmaak soos ’n heiden doodgemaak word. Ek, die oppermagtige HERE, sê so!” Die HERE het ook vir my gesê: “Mensekind, sing ’n begrafnislied oor die koning van Tirus. Sê vir hom die oppermagtige HERE sê: Jy het wysheid en prag vervolmaak. Jy was in Eden, die tuin van God. Jou klere was versier met kosbare stene: robyn, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois, en smarag. Hulle was almal in goud geset. Jy het dit gekry die dag toe jy gemaak is. Jy is aangestel as die gerub wat alles oppas. Ek het dit so bepaal. Jy was op die heilige berg van God. Tussen glinsterende edelstene het jy rondgestap. “Jy was onbesproke in alles wat jy gedoen het, vanaf die dag dat jy geskep is tot op die dag toe boosheid in jou gevind is. Jou uitgebreide handelsbetrekkinge het jou gewelddadig gemaak en jou laat sondig. Daarom het Ek jou verban van die godeberg af. Ek het jou verdryf, o gerub wat moes waghou! Ek het jou verwyder van tussen die glinsterende edelstene. “Jy het trots geword oor jou prag. Jou aansien het veroorsaak dat jy jou wysheid verloor het. Daarom het Ek jou op die aarde neergegooi, voor konings wat toekyk. Met jou sondes en oneerlike handelspraktyke het jy jou heiligdomme besoedel. Daarom brand Ek jou af tot net as sal oorbly, terwyl almal toekyk. Almal wat jou geken het, staan verstom oor wat met jou gebeur het. ’n Verskriklike einde het jou getref, en jy bestaan nie meer nie.”
ESEGIËL 28:1-19 Bybel vir almal (ABA)
Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet vir die koning van die stad Tirus sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was baie hoogmoedig, jy het gesê: ‘Ek is 'n god, ek woon in die middel van die see in die plek waar die gode woon.’ Maar jy is 'n mens, jy is nie 'n god nie. Jy het gemaak of jy 'n god is. Jy het meer wysheid gehad as Daniël, jy kon help met al die probleme. Jy het jou wysheid en verstand gebruik om ryk te word. Jy het jou stoorkamers vol goud en silwer gemaak. Jy het jou groot wysheid gebruik om goed te koop en te verkoop en jy het nóg ryker geword. Maar toe het jy hoogmoedig geword omdat jy ryk is.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het gemaak of jy 'n god is, daarom sal Ek vreemde mense bring om jou aan te val. Hulle is wrede mense en hulle sal jou met hulle swaarde doodmaak, jy, die mooi en wyse koning. Hulle sal jou lig dof laat word. Hulle sal jou laat afgaan na die doderyk, jy sal in die middel van die see sterf soos iemand in 'n oorlog sterf. Sal jy dan nog sê dat jy 'n god is, daar voor die mense wat jou doodmaak? Sal jy dit sê wanneer hulle met jou doen wat hulle wil? Nee. Jy is 'n mens, jy is nie 'n god nie. Jy sal sterf, en niemand sal jou respekteer nie. Vreemde mense sal jou doodmaak, want Ek het gepraat.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet 'n klaaglied begin sing oor die koning van die stad Tirus. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was op 'n baie mooi seël, jy was vol wysheid en jy was so mooi soos die mooiste mens. Jy was in Eden, die godetuin, en jou klere was van al die kosbare edelstene: karneool, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois en smarag. Ek het jou tamboeryne van goud gemaak en Ek het jou uit goud gesny. Dit is hoe Ek jou gemaak het. Jy het gelyk soos 'n gerub, jou vlerke was oop en jy moes die tuin beskerm. Ek het jou op die heilige godeberg gesit. Jy het daar tussen die blink edelstene geloop. Jy het heeltemal reg gelewe vandat Ek jou gemaak het. Maar toe het jy begin om verkeerd te doen. Jy het meer en meer goed gekoop en verkoop, maar jy het ook meer en meer slegte dinge aan jou mense gedoen. Jy het sonde gedoen, en daarom het Ek jou weggevat van die godeberg. Jy was die gerub wat die tuin moes beskerm, maar Ek het jou weggevat tussen die blink edelstene. Jy het hoogmoedig geword omdat jy mooi was, jy het jou wysheid verloor toe die lig om jou geskyn het. Ek het jou op die grond gegooi voor die konings en Ek het jou daar laat lê sodat hulle jou kon sien. Jy het baie verkeerde dinge gedoen, jy was baie onregverdig toe jy goed gekoop en verkoop het. So het jy jou tempels ontwy. Daarom het Ek vuur in jou laat kom, en dit het jou gebrand, jy het as geword op die grond. Almal kon dit sien. Al die volke wat jou geken het, het geskrik toe hulle sien wat gebeur het met jou. Jy het baie wreed gesterf, jy sal nooit weer lewe nie.”
ESEGIËL 28:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, sê aan die vors van Tirus: So spreek die Here HERE: Omdat jou hart hoogmoedig was en jy gesê het: Ek is 'n god, ek bewoon 'n godewoning in die hart van die seë — terwyl jy tog 'n mens is en geen god nie — en jou hart gemaak het soos die hart van 'n god; kyk, jy is wyser as Daniël, alles wat verborge is, is vir jou nie te duister nie! Deur jou wysheid en deur jou verstand het jy vir jou rykdom verkry, ja, jy het goud en silwer in jou skatkamers verwerf; deur die grootheid van jou wysheid in jou koophandel het jy jou rykdom vermeerder, en jou hart het hoogmoedig geword deur jou rykdom; daarom, so sê die Here HERE: Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van 'n god, daarom, kyk, Ek bring vreemdes oor jou, die geweldigste nasies, en hulle sal hul swaarde trek teen die skoonheid wat jou wysheid verwerf het, en jou glans ontheilig. In die kuil sal hulle jou laat neerdaal, en jy sal in die hart van die seë die bittere dood sterwe van een wat verslaan is. Sal jy werklik sê, in die aangesig van hom wat jou doodmaak: Ek is 'n god! — terwyl jy tog 'n mens is in die hand van hulle wat jou deurboor, en geen god nie? Jy sal die dood van onbesnedenes sterwe, deur die hand van vreemdes; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE. Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, hef 'n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was 'n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op 'n heilige berg; 'n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien. Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek 'n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het. Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het 'n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.
ESEGIËL 28:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, sê vir die regeerder van Tirus: So sê die Here my God: In jou hooghartigheid het jy gesê: ‘Ek is 'n god, ek woon op die woonplek van die gode, omring deur die see.’ “Maar jy is 'n mens, nie 'n god nie. Jy het jou verbeel jy is 'n god. Jou wysheid het selfs dié van Daniël oortref. Watter geheimenis daar ook al was, niemand kon vir jou kers vashou nie. Jy het met jou wysheid en insig vir jou rykdom verwerf, jou skatkamers gevul met goud en silwer. Jy het met jou groot wysheid en met handel jou rykdom nog meer gemaak, maar dit was juis jou rykdom wat jou hooghartig gemaak het. “Daarom,” sê die Here my God, “omdat jy jou verbeel het jy is 'n god, daarom gaan Ek ander nasies, wrede volke, teen jou laat optrek. Hulle sal die prag wat jou wysheid vir jou gebring het, met die swaard aanval en jou prag skend. Hulle sal jou in die graf in laat stort, jy sal die dood van 'n gesneuwelde sterf daar op jou eiland in die see. Sal jy vir dié wat aan jou 'n einde gaan maak, nog kan sê jy is 'n god? Vir dié wat vir jou dood gaan sorg, sal jy 'n mens wees, nie 'n god nie. Ander volke gaan jou 'n eerlose dood laat sterf. Ek het gepraat,” sê die Here my God. Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, sing 'n treurlied oor die koning van Tirus. Sê vir hom: So sê die Here my God: “Jy was 'n seël wat met sorg vervaardig is, 'n pragtige produk van volmaakte vakmanskap: jy is uitgebeeld in die godetuin Eden, omring deur kosbare edelstene: karneool, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois, smarag, en die reliëfwerk aan jou was van goud. So is jy gemaak die dag toe jy geskep is. Jy is uitgebeeld as die gerub wat met uitgestrekte vlerke moes waghou, Ek het jou die opdrag gegee. Jy was op die heilige godeberg, daar het jy rondgestap tussen glinsterende edelstene. Jou optrede was onbesproke vandat jy geskep is totdat jy begin onreg doen het. Jou uitgebreide handelsbedrywigheid het geweld deel van jou lewe gemaak en jou laat sondig. “Daarom het Ek jou verstoot van die godeberg af, Ek het jou, gerub wat moes waghou, tussen die glinsterende edelstene uit verwyder. Jou prag het jou hooghartig laat word, jou stralende glans het jou jou wysheid laat verloor. Ek het jou op die grond gegooi, jou daar voor ander konings laat lê dat hulle jou kon bekyk. “Met jou baie oortredings, met die onreg in jou handel, het jy jou heiligdomme ontwy. Daarom het Ek 'n vuur uit jou laat kom wat jou verteer het. Ek het jou 'n hopie as op die grond laat word voor die oë van almal wat toegekyk het. Almal onder die volke wat jou geken het, is skrikbevange oor wat met jou gebeur het. Jy het 'n afskrikmiddel vir ander geword, dit is vir altyd klaar met jou.”
ESEGIËL 28:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord van die HERE het weer tot my gekom en gesê: Mensekind, sê vir die vors van Tirus: So spreek die HERE HERE; Omdat jou hart verhewe is en jy gesê het: Ek is 'n God, Ek sit in die troon van God, in die middel van die see; tog is jy 'n mens en nie God nie, al stel jy jou hart as die hart van God. Kyk, jy is wyser as Daniël; daar is geen geheim dat hulle vir jou kan wegkruip nie: Met jou wysheid en met jou insig het jy rykdom vir jou verkry en goud en silwer in jou skatte gekry. Deur jou groot wysheid en deur jou handeldryf het jy jou rykdom vermeerder, en jou hart is verhef vanweë jou rykdom. Daarom, so sê die HERE HERE: Omdat jy jou hart as die hart van God gestel het; Kyk, daarom bring Ek vreemdelinge oor jou, die verskriklike van die nasies, en hulle sal hul swaarde uittrek teen die prag van jou wysheid, en hulle sal jou glans verontreinig. Hulle sal jou in die kuil afbring, en jy sal die dood sterf van die wat verslaan is in die middel van die see. Wil jy nog sê voor hom wat jou doodmaak: Ek is God? maar jy sal 'n man en geen God wees in die hand van hom wat jou doodmaak nie. Jy sal die dood van die onbesnedenes deur die hand van vreemdes sterf, want Ek het dit gespreek, spreek die HERE HERE. Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, hef 'n klaaglied aan oor die koning van Tirus en sê vir hom: So spreek die HERE HERE; U verseël die som vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; elke edelgesteente was jou bedekking, die sardius, topaas en die diamant, die beriel, die oniks en die jaspis, die saffier, die smarag en die karbonkel en goud; in jou op die dag dat jy geskape is. U is die gesalfde gérub wat bedek; en Ek het jou so gestel: jy was op die heilige berg van God; jy het op en af geloop tussen die vuurklippe. U was volmaak in u weë van die dag af dat u geskape is, totdat ongeregtigheid in u gevind is. Deur die menigte van jou koopware het hulle jou midde met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom sal Ek jou as onheiliges van die berg van God af verwerp; en Ek sal jou verdelg, o bedekkende gérub, uit die midde van die klippe van vuur. Jou hart is verhewe vanweë jou skoonheid, jy het jou wysheid verderf deur jou glans; Ek sal jou op die grond gooi, Ek sal jou voor konings neerlê, dat hulle jou kan aanskou. U het u heiligdomme verontreinig deur die menigte van u ongeregtighede, deur die ongeregtigheid van u handeldryf; daarom sal Ek 'n vuur uit jou midde laat voortkom, dit sal jou verteer, en Ek sal jou tot as op die aarde bring voor die oë van almal wat jou aanskou. Al die wat jou onder die volke ken, sal oor jou verstom staan; jy sal 'n verskrikking wees en jy sal nooit meer wees nie.
ESEGIËL 28:1-19 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir my gesê: “Mens, sê vir die regeerder wat oor Tirus heers: Die Here, die God van Esegiël, sê vir jou: Jy was so trots op wie jy is en wat jy alles besit. Jy het so groot geword dat jy selfs begin sê het: ‘Ek is ’n god! Ek sit op ’n troon op hierdie eiland soos ’n god!’ “Maar jy het vergeet dat jy maar net ’n mens is wat sal doodgaan op sy tyd. Selfs al dink jy jy is ’n god, sal jy op die harde manier uitvind jy is nie. Jy dink jy is slimmer as die profeet Daniël wat drome vir konings kon uitlê. Jy dink jy weet alles. Jy ken alle geheime. Ja, jy het baie geld en besittings bymekaargemaak. Dis waar. Jy kan goed besigheid doen. Jy het baie silwer en goud. En jy is slim. Ja, jou slimheid het jou ryk gemaak. Maar toe word jy trots omdat jy so skatryk is. “Daarom,” sê die Here, Esegiël se God, “omdat jy gedink het jy is slimmer as Ek, bring Ek ’n klomp vyande om teen jou te veg. Ek roep al die nasies nader om jou vyand te word. Hulle sal skielik op jou toesak en jou met hulle oorlogswapens op jou knieë bring. Jy sal onkant betrap word, al is jy so slim en ryk! En hierdie vyande van jou sal jou doodmaak, sonder om genade te bewys. Jy sal daar in jou huis op die eiland doodgemaak word. Jy bly mos in die middel van die see; daarom het jy gedink jy is veilig. Jy sal van jou baie wonde doodgaan. En sal jy dan nog kan spog dat jy ’n god is? Sal jy vir jou vyande wat jou doodmaak, vertel dat hulle nie met ’n gewone mens te doen het nie, maar met ’n god? Hulle sal sien wat jy is: ’n gewone mens wat doodgaan soos enige ander mens. Ja, jy sal doodgaan soos iemand wat weggedryf is uit die geselskap van mense. Vreemde mense wat jy nie ken nie, sal jou doodmaak. Dit is my woord oor jou. Ek is die Here, die God van Esegiël.” Toe praat die Here verder met my. Hy sê: “Mens, huil oor die koning van Tirus asof hy doodgegaan het. Gaan sê vir hom die Here, jou God, sê oor hom: Jy was volmaak. Jy was so slim. En jy was so mooi. Jy het in die tuin van Eden gebly. Dit was die tuin waar God by mense gaan kuier het. Jou klere was die mooiste en die beste wat ’n mens kan kry. Jy het die duurste edelstene gedra. Jy was skatryk. Hulle het vir jou al hierdie skatte gegee die dag toe jy geskep is. Ek het jou daardie dag aangestel om die leier van my boodskappers in die hemel te wees. Jy moes hulle saam met My oppas. Jy kon enige tyd na My toe kom, niemand het jou gekeer nie. Ja, jy het rondgeloop waar Ek was, en waar alles skoon was. “Jy het niks ooit verkeerd gedoen nie. Jy het reg gelewe en goedgedoen, tot daardie dag dat jy die slegte dinge begin doen het. Jy het die slegte begin doen omdat jy so ryk was. Jy het groot mag oor mense gehad. Toe het jy verkeerde dinge begin doen. Daarom het Ek jou weggejaag sodat jy nooit weer voor My mag kom nie. Jy was die magtige boodskapper wat my huis in die hemel moes oppas, maar Ek het jou weggejaag. Jy sal nie weer kom waar Ek is nie omdat dit daar te skoon vir jou is. “Jy het so trots op jouself geword omdat jy mooi en slim en ryk was. En toe het jy skelm geword sodat jy nog meer geld in die hande kon kry. Jy het almal om jou belieg en bedrieg. Daarom het Ek jou uit die hemel gegooi. Ek het jou op die aarde neergegooi. Die heersers en belangrike mense op die aarde het gekyk hoe jy verneder word. Jy het alles rondom jou vuil gesmeer. Jy het almal met wie jy besigheid gedoen het, bedrieg. Daarom het Ek ’n vuur binne-in jou aan die brand gesteek. En hierdie vuur sal jou verteer. Ek sal jou tot as verbrand. En al die mense van die aarde sal kyk hoe Ek dit doen. Al die mense wat jou op aarde geken het, sal skrik en bewe as hulle sien wat met jou gebeur. Ek maak jou ’n voorbeeld sodat hulle nie sal doen wat jy gedoen het nie. Ek maak ’n verskriklike einde aan jou. Jy sal nie meer bestaan nie!”