ESEGIËL 28:1-19

ESEGIËL 28:1-19 NLV

Die HERE het vir my gesê: “Mensekind, sê vir die koning van Tirus die oppermagtige HERE sê: “Ewe trots het jy verklaar: ‘Ek is god! Ek sit op die gode se troon in die hart van die see.’ Maar jy is net ’n mens, nie ’n god nie. Jy dink jy is slimmer as Daniël, en dat daar geen geheim is wat jy nie ken nie. Jy het groot rykdom versamel met jou wysheid en insig. Vol goud en silwer is jou skatkamers. Jou vaardigheid in handeldryf het jou baie ryk gemaak, en dis juis jou rykdom wat jou so hooghartig gemaak het. “Daarom, so sê die oppermagtige HERE: Jy dink jy is slimmer as ’n god. Daarom laat Ek ’n vyandige, ’n wrede leër teen jou optrek. Hulle sal jou wysheid aanval en al jou aansien verwoes. Hulle sal jou in die graf laat beland. Jy sal gewelddadig doodgaan in die hart van die see. Sal jy by dié wat jou doodmaak, nog spog: ‘Ek is ’n god!’? Voor hulle sal jy nie ’n god wees nie, maar net ’n mens. Vreemdelinge sal jou doodmaak soos ’n heiden doodgemaak word. Ek, die oppermagtige HERE, sê so!” Die HERE het ook vir my gesê: “Mensekind, sing ’n begrafnislied oor die koning van Tirus. Sê vir hom die oppermagtige HERE sê: Jy het wysheid en prag vervolmaak. Jy was in Eden, die tuin van God. Jou klere was versier met kosbare stene: robyn, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois, en smarag. Hulle was almal in goud geset. Jy het dit gekry die dag toe jy gemaak is. Jy is aangestel as die gerub wat alles oppas. Ek het dit so bepaal. Jy was op die heilige berg van God. Tussen glinsterende edelstene het jy rondgestap. “Jy was onbesproke in alles wat jy gedoen het, vanaf die dag dat jy geskep is tot op die dag toe boosheid in jou gevind is. Jou uitgebreide handelsbetrekkinge het jou gewelddadig gemaak en jou laat sondig. Daarom het Ek jou verban van die godeberg af. Ek het jou verdryf, o gerub wat moes waghou! Ek het jou verwyder van tussen die glinsterende edelstene. “Jy het trots geword oor jou prag. Jou aansien het veroorsaak dat jy jou wysheid verloor het. Daarom het Ek jou op die aarde neergegooi, voor konings wat toekyk. Met jou sondes en oneerlike handelspraktyke het jy jou heiligdomme besoedel. Daarom brand Ek jou af tot net as sal oorbly, terwyl almal toekyk. Almal wat jou geken het, staan verstom oor wat met jou gebeur het. ’n Verskriklike einde het jou getref, en jy bestaan nie meer nie.”