Die HERE het vir my gesê: “Mensekind, sê vir die koning van Tirus die oppermagtige HERE sê:
“Ewe trots het jy verklaar:
‘Ek is god!
Ek sit op die gode se troon
in die hart van die see.’
Maar jy is net ’n mens,
nie ’n god nie.
Jy dink jy is slimmer as Daniël,
en dat daar geen geheim is
wat jy nie ken nie.
Jy het groot rykdom versamel
met jou wysheid en insig.
Vol goud en silwer
is jou skatkamers.
Jou vaardigheid in handeldryf
het jou baie ryk gemaak,
en dis juis jou rykdom
wat jou so hooghartig
gemaak het.
“Daarom,
so sê die oppermagtige HERE:
Jy dink jy is slimmer as ’n god.
Daarom laat Ek ’n vyandige,
’n wrede leër teen jou optrek.
Hulle sal jou wysheid aanval
en al jou aansien verwoes.
Hulle sal jou in die graf
laat beland.
Jy sal gewelddadig doodgaan
in die hart van die see.
Sal jy by dié wat jou doodmaak,
nog spog: ‘Ek is ’n god!’?
Voor hulle
sal jy nie ’n god wees nie,
maar net ’n mens.
Vreemdelinge
sal jou doodmaak
soos ’n heiden
doodgemaak word.
Ek, die oppermagtige HERE,
sê so!”
Die HERE het ook vir my gesê:
“Mensekind,
sing ’n begrafnislied
oor die koning van Tirus.
Sê vir hom
die oppermagtige HERE sê:
Jy het wysheid en prag
vervolmaak.
Jy was in Eden,
die tuin van God.
Jou klere was versier
met kosbare stene:
robyn, topaas, jaspis, chrisoliet,
oniks, opaal, saffier, turkoois,
en smarag.
Hulle was almal in goud geset.
Jy het dit gekry
die dag toe jy gemaak is.
Jy is aangestel
as die gerub wat alles oppas.
Ek het dit so bepaal.
Jy was op die heilige berg
van God.
Tussen glinsterende edelstene
het jy rondgestap.
“Jy was onbesproke
in alles wat jy gedoen het,
vanaf die dag dat jy geskep is
tot op die dag
toe boosheid in jou gevind is.
Jou uitgebreide handelsbetrekkinge
het jou gewelddadig gemaak
en jou laat sondig.
Daarom het Ek jou verban
van die godeberg af.
Ek het jou verdryf,
o gerub wat moes waghou!
Ek het jou verwyder
van tussen die glinsterende
edelstene.
“Jy het trots geword
oor jou prag.
Jou aansien het veroorsaak
dat jy jou wysheid verloor het.
Daarom het Ek jou
op die aarde neergegooi,
voor konings wat toekyk.
Met jou sondes
en oneerlike handelspraktyke
het jy jou heiligdomme
besoedel.
Daarom brand Ek jou af
tot net as sal oorbly,
terwyl almal toekyk.
Almal wat jou geken het,
staan verstom
oor wat met jou gebeur het.
’n Verskriklike einde
het jou getref,
en jy bestaan nie meer nie.”