Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet vir die koning van die stad Tirus sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was baie hoogmoedig, jy het gesê: ‘Ek is 'n god, ek woon in die middel van die see in die plek waar die gode woon.’ Maar jy is 'n mens, jy is nie 'n god nie. Jy het gemaak of jy 'n god is. Jy het meer wysheid gehad as Daniël, jy kon help met al die probleme. Jy het jou wysheid en verstand gebruik om ryk te word. Jy het jou stoorkamers vol goud en silwer gemaak. Jy het jou groot wysheid gebruik om goed te koop en te verkoop en jy het nóg ryker geword. Maar toe het jy hoogmoedig geword omdat jy ryk is.”
Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het gemaak of jy 'n god is, daarom sal Ek vreemde mense bring om jou aan te val. Hulle is wrede mense en hulle sal jou met hulle swaarde doodmaak, jy, die mooi en wyse koning. Hulle sal jou lig dof laat word. Hulle sal jou laat afgaan na die doderyk, jy sal in die middel van die see sterf soos iemand in 'n oorlog sterf. Sal jy dan nog sê dat jy 'n god is, daar voor die mense wat jou doodmaak? Sal jy dit sê wanneer hulle met jou doen wat hulle wil? Nee. Jy is 'n mens, jy is nie 'n god nie. Jy sal sterf, en niemand sal jou respekteer nie. Vreemde mense sal jou doodmaak, want Ek het gepraat.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet 'n klaaglied begin sing oor die koning van die stad Tirus. Jy moet vir hom sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Jy was op 'n baie mooi seël, jy was vol wysheid en jy was so mooi soos die mooiste mens. Jy was in Eden, die godetuin, en jou klere was van al die kosbare edelstene: karneool, topaas, jaspis, chrisoliet, oniks, opaal, saffier, turkoois en smarag. Ek het jou tamboeryne van goud gemaak en Ek het jou uit goud gesny. Dit is hoe Ek jou gemaak het. Jy het gelyk soos 'n gerub, jou vlerke was oop en jy moes die tuin beskerm. Ek het jou op die heilige godeberg gesit. Jy het daar tussen die blink edelstene geloop. Jy het heeltemal reg gelewe vandat Ek jou gemaak het. Maar toe het jy begin om verkeerd te doen. Jy het meer en meer goed gekoop en verkoop, maar jy het ook meer en meer slegte dinge aan jou mense gedoen. Jy het sonde gedoen, en daarom het Ek jou weggevat van die godeberg. Jy was die gerub wat die tuin moes beskerm, maar Ek het jou weggevat tussen die blink edelstene. Jy het hoogmoedig geword omdat jy mooi was, jy het jou wysheid verloor toe die lig om jou geskyn het. Ek het jou op die grond gegooi voor die konings en Ek het jou daar laat lê sodat hulle jou kon sien. Jy het baie verkeerde dinge gedoen, jy was baie onregverdig toe jy goed gekoop en verkoop het. So het jy jou tempels ontwy. Daarom het Ek vuur in jou laat kom, en dit het jou gebrand, jy het as geword op die grond. Almal kon dit sien. Al die volke wat jou geken het, het geskrik toe hulle sien wat gebeur het met jou. Jy het baie wreed gesterf, jy sal nooit weer lewe nie.”