PREDIKER 7:1-14

PREDIKER 7:1-14 AFR83

'n Goeie naam is beter as reukolie, die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om na 'n huis toe te gaan waar daar gerou word as na 'n huis waar daar feesgevier word. Elkeen wat lewe, moet ter harte neem wat die uiteinde van die mens is. Droefheid is beter as lag; agter 'n somber gesig skuil 'n helder gees. Wie wysheid het, voel hom tuis waar daar gerou word, die dwaas voel hom tuis waar daar plesier is. Dit is beter om vermaan te word deur iemand wat wysheid het, as om besing te word deur 'n dwaas. Soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so klink die gelag van 'n dwaas. Ook hier kom dit tot niks. Afpersing maak van 'n verstandige mens 'n dwaas, 'n omkoopgeskenk vernietig die goeie oordeel. 'n Voltooide taak is beter as een wat pas begin is. Geduld is beter as hoogmoed. Moenie gou kwaad word nie: dit is 'n dwaas wat gou kwaad word. Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie. Wysheid saam met besittings is goed; dit is 'n voordeel vir elkeen wat leef. Wysheid bied beskerming soos geld beskerming bied; kennis en wysheid verryk die lewe van hom wat dit besit. Kyk na die werk van God: wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie.