PREDIKER 7:1-14

PREDIKER 7:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Dit is goed om lekkerruik-olie te gebruik, maar dit is beter wanneer mense jou respekteer. Die dag toe jy gebore is, was 'n goeie dag, maar die dag wanneer jy sal sterf, sal 'n beter dag wees. Dit is goed om na 'n huis te gaan waar die mense feesvier, maar dit is beter om na 'n huis te gaan waar die mense rou. Want al die mense moet sterf, en die mense wat lewe, moet dit onthou. Dit is goed om te lag, maar dit is beter om hartseer te wees, want wanneer jou gesig wys dat jy swaarkry, dan wys dit dat jy goed dink. Wyse mense wil in 'n huis wees waar die mense rou, dwase wil in 'n huis wees waar die mense feesvier. Dit is beter om te luister wanneer 'n wyse mens met jou raas as om te luister wanneer dwase sing, want wanneer 'n dwaas lag, dan raas dit soos doringtakkies in die vuur onder 'n pot. Dit is ook nie reg nie. Maar die persoon wat wysheid het, word ook 'n dwaas wanneer iemand hom afpers, en wanneer iemand 'n present kry sodat hy iets moet doen wat verkeerd is, dan hou hy op om verstandig te wees. Dit is beter om op te hou praat as om te begin praat, dit is beter om geduldig te wees as om hoogmoedig te wees. Jy moenie gou kwaad word oor dinge wat gebeur nie, want dit is dwase wat gou kwaad word. Jy moenie vra hoekom alles voorheen beter was as nou nie, want wanneer jy dit vra, dan het jy nie wysheid nie. Wanneer jy wysheid het, dan is dit so goed soos wanneer jy iets erf, dit help baie vir 'n mens wat lewe, want wysheid beskerm jou soos geld jou beskerm. Wanneer iemand weet hoe om te lewe, dan gee wysheid vir hom 'n lang lewe. Jy moet goed kyk hoe God dinge gemaak het, want as Hy iets krom gemaak het, dan kan niemand dit reguit maak nie. Wanneer dit goed gaan, dan moet jy dit geniet, en wanneer dit sleg gaan, dan moet jy onthou: God het die goeie én die slegte dinge laat gebeur, sodat 'n mens nie sal weet wat later sal gebeur nie.

PREDIKER 7:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N GOEIE naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na 'n klaaghuis as om te gaan na 'n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem. Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is, gaan dit goed met die hart. Die hart van die wyse manne is in die klaaghuis, maar die hart van die dwase in die huis van vreugde. Dit is beter om te luister na die bestraffing van 'n wyse as dat 'n mens luister na die lied van die dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Dit is dan ook tevergeefs. Sekerlik, afpersing maak 'n wyse dwaas, en 'n geskenk bederwe die hart. Die einde van 'n saak is beter as sy begin; 'n lankmoedige is beter as 'n hoogmoedige. Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase. Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie. Wysheid is net so goed as 'n erfdeel en 'n voordeel vir die wat die son sien. Want wysheid is 'n beskutting, geld is 'n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe. Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink dan: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie, daarom dat die mens ná sy dood niks meer sal ontdek nie.

PREDIKER 7:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Goeie naam is beter as goeie reukolie, en die sterfdag as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na 'n huis waar gerou word, as om te gaan na 'n huis waar fees gevier word; want in 'n huis waar gerou word, eindig alle mense, en die lewende moet dit ter harte neem. Verdriet is beter as lag, want met 'n droewige gesig gaan dit goed met die hart. Die hart van wyses is in 'n huis waar gerou word, maar die hart van dwase is in 'n huis waar plesier is. Dit is beter om te luister na die vermaning van 'n wyse, as wanneer iemand luister na die lied van dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Ook dit is sinloos: dat afpersing 'n wyse dwaas maak, en 'n geskenk 'n hart vernietig. Die einde van 'n saak is beter as die begin daarvan; iemand wat lankmoedig is, is beter as iemand wat hoogmoedig is. Moenie in jou gees haastig wees om jou te vererg nie, want verdriet is tuis op die skoot van dwase. Moenie sê, “Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie?” nie; want dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vrae stel nie. Wysheid is goed saam met 'n erfporsie en is 'n voordeel vir dié wat die son sien; want die wysheid bied beskutting. Geld bied beskutting, maar die voordeel daarvan om die wysheid te ken, is: Die wysheid hou dié wat haar besit, lewend. Kyk na die werk van God: Wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? As dit die dag goed gaan, geniet die voorspoed, maar as dit die dag sleg gaan, besef: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie een; gevolglik kan die mens nie enigiets ontdek wat in die toekoms wag nie.

PREDIKER 7:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

'n Goeie naam is beter as kosbare salf; en die dag van dood as die dag van iemand se geboorte. Dit is beter om na die huis van rou te gaan as om na die huis van maaltyd te gaan; want dit is die einde van alle mense; en die lewende sal dit aan sy hart lê. Droefheid is beter as lag, want deur die droefheid van die aangesig word die hart beter. Die hart van die wyse is in die huis van rou; maar die hart van die dwase is in die huis van vrolikheid. Dit is beter om die teregwysing van die wyse te hoor as dat 'n man die gesang van die dwase hoor. Want soos die geknetter van dorings onder 'n pot, so is die gelag van die dwaas: ook dit is nietigheid. Waarlik, onderdrukking maak 'n wyse man kranksinnig; en 'n gawe vernietig die hart. Die einde van 'n ding is beter as die begin daarvan, en die geduldige van gees is beter as die hoogmoediges. Moenie haastig wees in jou gees om toornig te word nie, want toorn rus in die boesem van die dwase. Sê nie: Wat is die oorsaak dat die vorige dae beter was as hierdie nie? want jy vra nie wys hieroor nie. Wysheid is goed met 'n erfdeel, en daardeur is daar voordeel vir die wat die son sien. Want wysheid is 'n beskutting en geld is 'n beskutting, maar die voortreflikheid van kennis is dat wysheid lewend maak aan die wat dit het. Kyk na die werk van God, want wie kan dit regmaak wat Hy krom gemaak het? Wees bly op die dag van voorspoed, maar let op in die dag van teëspoed: God het ook die een teenoor die ander gestel, sodat die mens niks ná hom sou vind nie.