'n Goeie naam is beter as goeie reukolie, en die sterfdag as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na 'n huis waar gerou word, as om te gaan na 'n huis waar fees gevier word; want in 'n huis waar gerou word, eindig alle mense, en die lewende moet dit ter harte neem. Verdriet is beter as lag, want met 'n droewige gesig gaan dit goed met die hart. Die hart van wyses is in 'n huis waar gerou word, maar die hart van dwase is in 'n huis waar plesier is. Dit is beter om te luister na die vermaning van 'n wyse, as wanneer iemand luister na die lied van dwase. Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n dwaas. Ook dit is sinloos: dat afpersing 'n wyse dwaas maak, en 'n geskenk 'n hart vernietig. Die einde van 'n saak is beter as die begin daarvan; iemand wat lankmoedig is, is beter as iemand wat hoogmoedig is. Moenie in jou gees haastig wees om jou te vererg nie, want verdriet is tuis op die skoot van dwase. Moenie sê, “Waarom was die vroeëre dae beter as hierdie?” nie; want dit is nie uit wysheid dat jy daaroor vrae stel nie. Wysheid is goed saam met 'n erfporsie en is 'n voordeel vir dié wat die son sien; want die wysheid bied beskutting. Geld bied beskutting, maar die voordeel daarvan om die wysheid te ken, is: Die wysheid hou dié wat haar besit, lewend. Kyk na die werk van God: Wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het? As dit die dag goed gaan, geniet die voorspoed, maar as dit die dag sleg gaan, besef: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie een; gevolglik kan die mens nie enigiets ontdek wat in die toekoms wag nie.
Lees Prediker 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: Prediker 7:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's