“Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit. “Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het. Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. “Dit is vir my soos volg verklaar: Die vierde dier is 'n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan en wat anders sal wees as al die ander koninkryke. Hy sal die hele wêreld insluk, dit verwoes en vertrap. Wat die tien horings betref: in daardie koninkryk sal tien konings een na die ander regeer, en ná hulle sal daar een kom wat heeltemal anders sal wees as die voriges, en hy sal drie konings onderwerp. Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal probeer om die godsdienstige feeste en wette te verander, en die heiliges van die Allerhoogste sal in sy mag oorgegee word vir die hele vasgestelde tyd. Dan sal die hof sit en sal daardie koning se heerskappy van hom af weggevat en vir goed vernietig en beëindig word. Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees. “Hier eindig my vertelling. Ek, Daniël, het baie geskrik toe ek hieroor dink, en dit het my baie ontstel. Maar ek het alles vir myself gehou.”
Lees DANIËL 7
Deel
Vergelyk alle weergawes: DANIËL 7:15-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's