Daniël 7:15-28

Daniël 7:15-28 AFR20

“ Wat my, Daniël, betref, my gees was verontrus diep in my binneste, en die visioene in my kop het my verskrik. Ek het nader gegaan na een van dié wat gereed gestaan het, en hom die ware uitleg van al hierdie dinge gevra. Hy het met my gepraat en die uitleg daarvan aan my bekend gemaak, ‘Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan, maar die •heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem vir ewig en altyd.’ “ Toe wou ek sekerheid kry oor die vierde dier, wat van al die ander verskil het – buitengewoon vreesaanjaend, met tande van yster en naels van brons, wat verslind en vermorsel, en dit wat oorbly, met sy pote vertrap – en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander horing wat uitgekom het, waarvoor drie ander moes wyk, dié horing met oë en 'n mond wat grootpraat en wat groter gelyk het as die ander. Ek het gesien hierdie horing maak oorlog teen die heiliges, en hy was besig om die oorhand oor hulle te kry, totdat die Oue van Dae gekom het en 'n uitspraak gegee is ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het toe aangebreek, en die heiliges het die koninkryk in besit geneem. “ So het hy gesê, “ ‘Die vierde dier beteken: 'n Vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat van al die koninkryke verskil. Dit sal die aarde verslind en dit vertrap en vermorsel. Die tien horings beteken: Uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan. 'n Ander een sal ná hulle opstaan; hý sal verskil van die voriges, en hy sal drie konings verneder. Woorde gerig teen die Hoogste sal hy uitspreek, en die heiliges van die Allerhoogste sal hy teister. Hy sal poog om feestye en die wet te verander, en die heiliges sal in sy hand gegee word vir 'n tyd en tye en 'n halwe tyd. Maar die regbank sal sitting neem, en sy heerskappy sal hulle wegneem om dit te vernietig en te verdelg, tot die einde toe. Die koningskap, die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel word dan gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en alle magte sal Hom dien en aan Hom gehoorsaam wees.’ “Hier eindig die weergawe. “Ek, Daniël – my gedagtes het my baie verskrik, en my gelaatskleur het verander, maar ek het die weergawe in my hart bewaar. ”