DANIËL 7:15-28

DANIËL 7:15-28 Die Boodskap (DB)

“Hierdie visioen het my verskriklik ontstel; dit het my baie bang gemaak. Ek het toe na een van dié wat langs God se troon gestaan het, gegaan en vir hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe so vir my verduidelik: die vier groot diere is die vier groot wêreldmagte wat op die aarde sal heers. Maar op die ou end sal die mense wat aan die Allerhoogste behoort, as konings heers en hulle sal vir ewig regeer. “Ek wou toe meer weet van die vierde dier wat so anders as die ander lyk. Daardie skrikwekkende dier het sy slagoffers met sy ystertande opgevreet en met bronskloue vermorsel, en wat oorgebly het, verder onder sy pote vertrap. Ek het ook gevra oor die betekenis van die tien horings op sy kop, en ook oor die klein horinkie wat agterna uitgekom het en toe drie van die ander horings uitgeruk het. Dit is die een wat later groter geword het as die ander. Dit het oë gehad soos ’n mens en ’n mond wat verskriklik grootgepraat het. Terwyl ek besig was om te kyk het hierdie horing begin oorlog maak teen die mense wat aan God behoort het. Hy was besig om hulle te wen, totdat die Een wat vir altyd lewe, gekom en ingetree het vir die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Toe het die tyd aangebreek vir hierdie mense om as konings te regeer. “Hy het dit so vir my verklaar: die vierde dier is ’n vierde wêreldmag wat op aarde sal kom, maar wat totaal anders as al die ander sal wees. Dit sal die hele wêreld probeer inneem en sal alles platvee wat in sy pad kom. Die tien horings is tien konings wat die een na die ander in hierdie wêreldmag sal regeer. Na hulle tyd sal daar ’n ander koning kom wat heeltemal anders as die voriges is. Hy sal drie van die konings verslaan en oor hulle heers. Hy sal vieslike dinge teen die Allerhoogste sê en die mense wat aan die Allerhoogste behoort, onderdruk en bitter swaar laat ly. Hy sal sy bes doen om hulle godsdienstige voorskrifte en feeste te verander. Hy sal vir ’n vasgestelde tyd oor die mense van die Allerhoogste regeer. “Dan sal die hemelse hof besluit genoeg is genoeg, en die oordeel oor hom uitspreek. Hulle sal al sy mag van hom af wegneem en hom totaal en al vernietig. Dan sal die alleenheerskappy, die mag en die rykdom van al die koninkryke van die wêreld aan die mense gegee word wat aan die Allerhoogste behoort. Hulle sal vir altyd regeer en al die heersers van die wêreld sal God dien en gehoorsaam. “Hier eindig die visioen wat ek, Daniël, gesien het. Ek was baie omgekrap hieroor, ek het my skoon bleek geskrik. Maar ek het met niemand hieroor gepraat nie.”

DANIËL 7:15-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek, Daniël, was ontsteld oor alles wat ek gesien het. Die dinge wat ek gesien het, het my banggemaak. Ek het toe nadergegaan na een van dié wat daar gestaan het. Ek het hom uitgevra oor al hierdie dinge. Hy het gesê hy sal dit vir my verduidelik: “Die vier groot diere is vier konings wat oor die aarde regeer. Die heilige mense van die Allerhoogste sal egter uiteindelik die koninkryk ontvang. Hulle sal regeer vir altyd en ewig.” Ek wou toe duidelikheid hê oor die vierde dier wat soveel anders was as die res. Dit was buitengewoon skrikaanjaend en het met sy ystertande en bronskloue alles verslind en dit wat oorbly onder sy voete vertrap. Ek wou ook weet van die tien horings op sy kop en die klein horinkie waarvoor drie ander horings plek moes maak. Hierdie horing het oë en ’n mond gehad wat gespog het, en het anders as die ander gelyk. Ek het gesien hoe hierdie horing oorlog maak met die heilige mense en hulle oorweldig. Toe het Hy wat ewig lewe gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Die tyd het toe gekom dat die heilige mense die koningskap oorneem. Hy het vir my gesê: “Die vierde dier is ’n vierde mag wat oor die wêreld sal regeer en wat heeltemal anders is as al die ander ryke. Dit sal die hele aarde wegvreet en daarop trap en dit vermorsel. Die tien horings daaraan is die ryke van tien konings wat sal regeer. Ná hulle sal ’n ander koning kom wat heeltemal van sy voorgangers sal verskil. Hy sal drie konings aan homself onderwerp. Hy sal teen God die Allerhoogste te velde trek en die heilige mense van God die Allerhoogste onderdruk. Hy sal daarop uit wees om die vaste tye en wette te verander. Hulle sal in sy mag kom vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd. Met ’n beslissing van die hof sal sy mag by hom weggevat word en finaal vernietig word. Die heerskappy, regering en aansien van al die koninkryke onder die son sal dan gegee word vir die volk van die heilige mense van God die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ryk sonder einde. Al die heersers sal dan aan Hom eer bewys en aan Hom gehoorsaam wees.” Hier eindig die saak. Ek, Daniël, was baie ontsteld oor wat in my gedagtes opgekom het. Ek was so bang dat ek bleek geword het, maar ek het die saak vir myself gehou.

DANIËL 7:15-28 Bybel vir almal (ABA)

“Ek, Daniël, het groot geskrik, ek was geskok oor die dinge wat ek gesien het toe ek gedroom het. Ek het gegaan na een van die engele wat daar gestaan het, en ek het vir hom gevra wat al hierdie dinge beteken. Hy het vir my gesê wat dit beteken. Hy het gesê: ‘Hierdie vier groot diere is vier konings wat op die aarde sal regeer. Maar die gewyde mense van die Hoogste God sal konings word wat altyd sal regeer, ja, ewig en altyd.’ “Ek, Daniël, wou meer weet oor die vierde dier. Hierdie dier was nie soos die ander diere nie. Hy was 'n dier wat al die mense bang gemaak het. Hy het tande van yster en pote van brons gehad, en hy het alles gevreet en stukkend gebyt. Hy het met sy pote getrap op die stukke wat oorgebly het. Daar was tien horings op sy kop. Drie van die horings het uitgeval en 'n nuwe horing het uitgekom. Daardie horing het oë gehad en 'n mond wat hoogmoedig praat, en dit het gelyk of hy groter is as die ander horings. Ek het gesien daardie horing maak oorlog teen die gewyde mense en hy oorwin hulle. Toe het God gekom, die God wat altyd lewe. Hy het gesê die gewyde mense van die Hoogste God is die mense wat reg gelewe het. Dit is nou die regte tyd, en die gewyde mense moet nou konings wees. “Die engel het gesê: ‘Die vierde dier beteken daar sal konings wees wat die hele aarde sal verwoes en stukkend trap. Hulle sal nie soos die ander konings wees nie. Die tien horings beteken daar sal tien konings wees, en ná hulle sal daar nog 'n koning wees. Hy sal nie soos die ander konings wees nie, en hy sal drie konings oorwin. Daardie koning sal hoogmoedig praat teen die Hoogste God en hy sal die gewyde mense van die Hoogste God verdruk. Hy sal probeer om die wette te verander, en ook die tye wanneer hulle moet feesvier. Hy sal dit drie en 'n halwe jaar lank kan doen. Daarna sal God, die Regter, begin om die mense te oordeel. Daardie koning sal nooit weer kan doen wat hy wil nie. Dan sal die gewyde mense van die Hoogste God die konings wees, die sterk en groot konings van die hele aarde. Die Hoogste God sal altyd Koning wees. Al die ander konings sal Hom dien en doen wat Hy sê.’ “Dit is wat ek, Daniël, gedroom en gesien het. Ek het groot geskrik en my gesig het bleek geword. Maar ek het vir niemand iets gesê nie.”

DANIËL 7:15-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak: Hierdie groot diere wat vier is — vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid. Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het, en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en 'n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander. Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het. Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd. Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig. Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees. Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.

DANIËL 7:15-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit. “Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het. Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en 'n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. “Dit is vir my soos volg verklaar: Die vierde dier is 'n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan en wat anders sal wees as al die ander koninkryke. Hy sal die hele wêreld insluk, dit verwoes en vertrap. Wat die tien horings betref: in daardie koninkryk sal tien konings een na die ander regeer, en ná hulle sal daar een kom wat heeltemal anders sal wees as die voriges, en hy sal drie konings onderwerp. Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal probeer om die godsdienstige feeste en wette te verander, en die heiliges van die Allerhoogste sal in sy mag oorgegee word vir die hele vasgestelde tyd. Dan sal die hof sit en sal daardie koning se heerskappy van hom af weggevat en vir goed vernietig en beëindig word. Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees. “Hier eindig my vertelling. Ek, Daniël, het baie geskrik toe ek hieroor dink, en dit het my baie ontstel. Maar ek het alles vir myself gehou.”

DANIËL 7:15-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Wat my, Daniël, betref, my gees was verontrus diep in my binneste, en die visioene in my kop het my verskrik. Ek het nader gegaan na een van dié wat gereed gestaan het, en hom die ware uitleg van al hierdie dinge gevra. Hy het met my gepraat en die uitleg daarvan aan my bekend gemaak, ‘Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan, maar die •heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem vir ewig en altyd.’ “ Toe wou ek sekerheid kry oor die vierde dier, wat van al die ander verskil het – buitengewoon vreesaanjaend, met tande van yster en naels van brons, wat verslind en vermorsel, en dit wat oorbly, met sy pote vertrap – en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander horing wat uitgekom het, waarvoor drie ander moes wyk, dié horing met oë en 'n mond wat grootpraat en wat groter gelyk het as die ander. Ek het gesien hierdie horing maak oorlog teen die heiliges, en hy was besig om die oorhand oor hulle te kry, totdat die Oue van Dae gekom het en 'n uitspraak gegee is ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het toe aangebreek, en die heiliges het die koninkryk in besit geneem. “ So het hy gesê, “ ‘Die vierde dier beteken: 'n Vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat van al die koninkryke verskil. Dit sal die aarde verslind en dit vertrap en vermorsel. Die tien horings beteken: Uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan. 'n Ander een sal ná hulle opstaan; hý sal verskil van die voriges, en hy sal drie konings verneder. Woorde gerig teen die Hoogste sal hy uitspreek, en die heiliges van die Allerhoogste sal hy teister. Hy sal poog om feestye en die wet te verander, en die heiliges sal in sy hand gegee word vir 'n tyd en tye en 'n halwe tyd. Maar die regbank sal sitting neem, en sy heerskappy sal hulle wegneem om dit te vernietig en te verdelg, tot die einde toe. Die koningskap, die heerskappy en die grootsheid van die koninkryke onder die ganse hemel word dan gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Sy koninkryk is 'n ewige koninkryk, en alle magte sal Hom dien en aan Hom gehoorsaam wees.’ “Hier eindig die weergawe. “Ek, Daniël – my gedagtes het my baie verskrik, en my gelaatskleur het verander, maar ek het die weergawe in my hart bewaar. ”

DANIËL 7:15-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek, Daniël, was bedroef in my gees in die middel van my liggaam, en die gesigte van my hoof het my verskrik. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en hom die waarheid van dit alles gevra. So het hy my vertel en my die uitlegging van die dinge laat weet. Hierdie groot diere, wat vier is, is vier konings wat uit die aarde sal opstaan. Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap neem en die koninkryk in besit neem vir ewig, ja tot in ewigheid. Dan sou ek die waarheid van die vierde dier ken, wat verskillend was van al die ander, baie verskriklik, wie se tande van yster en sy naels van koper was; wat verslind het, stukkend gebreek en die oorblyfsel met sy voete gestamp; En van die tien horings wat in sy kop was, en van die ander wat opgekom het, en voor wie drie geval het; selfs van daardie horing wat oë gehad het, en 'n mond wat baie groot dinge gespreek het, wie se voorkoms sterker was as sy maats. Ek het gesien, en dieselfde horing het oorlog gevoer teen die heiliges en hulle oorwin; Totdat die Oue van dae gekom het, en aan die heiliges van die Allerhoogste geoordeel is; en die tyd het gekom dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het. So het hy gesê: Die vierde dier sal die vierde koninkryk op die aarde wees, wat verskillend sal wees van al die koninkryke en die hele aarde sal verteer en dit sal vertrap en dit stukkend breek. En die tien horings uit hierdie koninkryk is tien konings wat opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan; en hy sal anders wees as die eerste, en hy sal drie konings onderwerp. En hy sal groot woorde teen die Allerhoogste spreek en die heiliges van die Allerhoogste uitput en dink om tye en wette te verander, en dit sal in sy hand gegee word tot 'n tyd en tye en die verdeling van tyd. Maar die oordeel sal sit, en hulle sal sy heerskappy wegneem, om dit tot die einde toe te vernietig en te vernietig. En die koninkryk en heerskappy en die grootheid van die koninkryk onder die hele hemel sal gegee word aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste, wie se koninkryk 'n ewige koninkryk is, en alle heerskappye sal Hom dien en gehoorsaam. Tot nou toe is die einde van die saak. Wat my Daniël betref, my gedagtes het my baie gekwel, en my aangesig het in my verander; maar ek het die saak in my hart bewaar.