DANIËL 7:15-28

DANIËL 7:15-28 AFR53

Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak: Hierdie groot diere wat vier is — vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid. Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het, en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en 'n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander. Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin, totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit geneem het. Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd. Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir goed te verdelg en te vernietig. Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees. Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my hart bewaar.