HANDELINGE 9:1-43

HANDELINGE 9:1-43 AFR83

Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring. Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor maar niemand gesien nie. Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!” “Hier is ek, Here,” het hy geantwoord. En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na 'n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid en hy het in 'n gesig 'n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien. Toe het hy opgestaan en hy is gedoop; en hy het geëet en sy kragte herwin. Saulus het 'n paar dae daar by die gelowiges in Damaskus gebly en dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is. Almal wat dit gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie? En het hy nie ook hierheen gekom om hulle gevange te neem en voor die priesterhoofde te bring nie?” Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na verloop van tyd het die Jode saamgesweer om Saulus te vermoor, maar hy het van hulle plan te hore gekom. Dag en nag was hulle by die stad se poorte op die uitkyk om hom dood te maak. Maar sy medegelowiges het hom een nag geneem en in 'n mandjie laat afsak deur 'n opening in die stadsmuur. Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy 'n volgeling van Jesus is nie. Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer; maar hulle het hom probeer vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom na Sesarea toe geneem en hom daarvandaan na Tarsus toe weggestuur. In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem. Petrus het baie rondgereis en het op 'n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. Daar het hy 'n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was. “Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.” Hy het dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. In Joppe was daar 'n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in 'n bokamer neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.” Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom. Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by 'n sekere Simon, 'n leerlooier.