HANDELINGE 9:1-43
HANDELINGE 9:1-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Intussen het Saulus met elke asemteug dreigemente uitgespreek. Hy wou die volgelinge van die Here doodmaak, en het daarom na die hoofpriester toe gegaan. Hy het briewe van hom aan die sinagoges in Damaskus gevra waarin hulle versoek word om hom te help om dié wat aan “Die Pad” behoort, mans én vroue, op te spoor, en hulle geboei na Jerusalem toe te bring. Toe hy op sy sending naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel hom omstraal! Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” het hy toe gevra. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg! Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan.” Die mans saam met hom was sprakeloos van verbasing, want hulle het iemand se stem gehoor, maar niemand gesien nie. Saulus het van die grond af opgestaan en alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle is Damaskus in terwyl sy reisgenote hom aan die hand lei. Hy was drie dae lank daar sonder om te sien, en hy het ook niks geëet of gedrink nie. Daar was ’n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ’n gesig geroep: “Ananias!” “Ja, Here!” het hy geantwoord. Daarop sê die Here vir hom: “Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Want kyk, hy is besig om te bid. Ek het hom in ’n gesig laat sien dat ’n man met die naam Ananias inkom en sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias het geantwoord: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het! En ons hoor hy het ’n mandaat van die priesterhoofde om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.” Die Here het egter vir hom gesê: “Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgekies om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel. Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly.” Ananias het toe vertrek en in daardie huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Broer Saul, die Here het my gestuur, Jesus wat aan jou verskyn het op pad hierheen. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” Onmiddellik het iets soos skille van Saulus se oë afgeval en hy kon weer sien. Hy het opgestaan en is gedoop. Hy het toe kos geëet en sy kragte begin herwin. Saulus het ’n paar dae by die gelowiges in Damaskus gebly. Hy het Jesus dadelik in die sinagoges begin verkondig – dat Hy die Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie dié man wat Jesus se volgelinge in Jerusalem vervolg het nie? Dis mos presies waarvoor hy hierheen gekom het: om hulle geboei voor die priesterhoofde te bring!” Saulus se prediking het al hoe kragtiger geword en het die Damaskus-Jode in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na etlike dae het dié Jode saamgesweer om Saulus te vermoor. Hulle komplot het egter aan Saulus uitgelek. Dag en nag het hulle die stad se poorte dopgehou om hom te vermoor. Maar sy volgelinge het hom in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur laat afsak. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie. Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer, maar hulle het planne beraam om hom te vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom Sesarea toe gevat en hom van daar na Tarsus toe weggestuur. Die kerk het deur die hele Judea, Galilea en Samaria vrede gehad. Die gelowiges is opgebou en het in ontsag vir die Here geleef, en hulle is deur die Heilige Gees versterk. Op hierdie manier het hulle getalle aangegroei. Petrus het van plek tot plek gereis en het op ’n keer ook by die gelowiges in die dorp Lidda gekom. Daar het hy ’n man met die naam Eneas gekry wat verlam en al agt jaar bedlêend was. “Eneas,” het Petrus toe vir hom gesê, “Jesus Christus maak jou gesond! Staan en rol jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en die Saronvlakte het hulle tot die Here bekeer toe hulle Eneas sien rondgaan. In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita (in Grieks is sy “Dorkas”). Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help. Juis in dié tyd het sy siek geword en is sy dood. Hulle het haar liggaam vir die begrafnis voorberei, en in ’n bokamer neergelê. Met Lidda naby Joppe het die gelowiges gehoor dat Petrus daar is. Hulle het toe twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom asseblief sonder uitstel na ons toe!” Petrus is dadelik saam met hulle terug. Toe hy daar kom, het hulle hom bokamer toe gevat. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die verskillende soorte klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Petrus het almal egter uitgestuur, en toe het hy gekniel en gebid. Hy het na die liggaam toe gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak! Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar sy hand gegee en haar help opstaan. Toe het hy die gelowiges en die weduwees geroep, en hulle gewys sy leef. Dié gebeure het in die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. Petrus het ’n hele aantal dae in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.
HANDELINGE 9:1-43 Bybel vir almal (ABA)
Terwyl hierdie dinge gebeur het, het Saulus aangehou om te probeer om die mense dood te maak wat in die Here glo. Hy het daarom na die hoëpriester toe gegaan, en vir hom gevra om briewe te skryf wat hy, Saulus, kon saamneem na die leiers van die sinagoges in die stad Damaskus. Die briewe moes sê dat as Saulus mense kry wat behoort aan “ Die Pad,” mans en vroue, dan mag hy hulle vang en na Jerusalem neem. Terwyl Saulus op die pad was naby Damaskus, het daar skielik 'n lig rondom hom geskyn uit die lug. Toe hy op die grond val, het hy gehoor dat Iemand sê: “Saul, Saul, hoekom doen jy hierdie slegte dinge aan My?” Saulus vra toe: “Meneer, wie is jy?” Die Persoon het gesê: “Ek is Jesus, jy doen slegte dinge aan My. Maar jy moet opstaan en jy moet in die stad ingaan, dan sal iemand vir jou sê wat jy moet doen.” Die mans wat saam met Saulus geloop het, was so bang en verbaas dat hulle stil gaan staan het, want hulle het die stem gehoor van die Persoon wat gepraat het, maar hulle het niemand gesien nie. Toe Saulus opstaan van die grond, het hy sy oë oopgemaak, maar hy kon niks sien nie. Die mense wat saam met hom was, het toe sy hand geneem en hulle het hom in Damaskus ingebring. Saulus kon drie dae lank nie sien nie, en het hy niks geëet en ook niks gedrink nie. Daar was 'n gelowige in Damaskus. Sy naam was Ananias. Die Here het na Ananias gekom en Hy het vir hom gesê: “Ananias!” Ananias antwoord toe: “Hier is ek, Here, ek luister.” Die Here sê toe vir Ananias: “Staan op en gaan na Reguitstraat. Jy moet in die huis van Judas soek na Saulus wat van die stad Tarsus kom. Jy sal sien hy is besig om te bid. Terwyl Saulus gebid het, het Ek vir hom gewys dat 'n man na hom toe kom en dat hierdie man sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien. Die man se naam is Ananias.” Maar Ananias het vir die Here gesê: “Here, baie mense het vir my vertel dat hierdie man baie slegte dinge in Jerusalem gedoen het aan die mense wat in U glo. En nou is Saulus hier, en die hoëpriester het gesê dat hy die mense mag vang wat vir U aanbid en dien.” Die Here sê toe vir Ananias: “Jy moet na Saulus toe gaan, want Ek het hom gekies en aangestel om vir My te werk en om vir die volke en hulle konings en ook vir die Israeliete te vertel van My. Ek sal self vir hom wys hoe baie hy moet swaarkry omdat Hy vir mense van My vertel.” Ananias het toe gegaan en hy het in die huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Saulus, my vriend, jy het die Here Jesus gesien op die pad hiernatoe, en dit is Hý wat my gestuur het na jou toe sodat jy weer kan sien en sodat die Heilige Gees in jou kan wees.” Dadelik het daar iets afgeval van Saulus se oë. Dit het gelyk soos skubbe. Toe kon hy weer sien. Hy het opgestaan, en Ananias het hom gedoop. Saulus het toe geëet en hy het beter gevoel. Saulus het 'n paar dae by die gelowiges in die stad Damaskus gebly, en hy het dadelik in die sinagoges begin preek oor Jesus. Hy het gesê: “Hierdie Jesus is die Seun van God.” Al die mense wat vir Saulus gehoor praat het, was baie verbaas en hulle het gesê: “Is Saulus die man wat in Jerusalem probeer het om die mense dood te maak wat vir Jesus aanbid? Is hý die man wat hiernatoe gekom het om vir die mense wat vir Jesus aanbid, te vang en na die priesterleiers toe te neem?” Maar Saulus het beter en beter gepreek vir die Jode wat in die stad Damaskus woon en hy het só goed verduidelik dat Jesus die Christus is, dat hulle nie vir hom kon antwoord nie. Ná 'n lang tyd het die Jode planne gemaak om vir Saulus dood te maak, maar hy het gehoor van hulle planne. Hulle het elke dag en elke nag die stad se poorte dopgehou om vir Saulus te vang en dood te maak. Maar mense wat ook gelowiges was, soos Saulus, het in die nag vir Saulus geneem en hulle het hom in 'n groot mandjie laat afsak deur 'n venster in die stad se muur. Toe Saulus in Jerusalem kom, het hy aangehou om te probeer vriende maak met die gelowiges. Maar hulle het nie geglo dat hy 'n gelowige is nie, en daarom was hulle almal bang vir Saulus. Maar Barnabas het vir Saulus gehelp. Hy het vir Saulus na die apostels toe geneem en hy het vir hulle vertel dat Saulus op die pad na Damaskus die Here gesien het en dat die Here toe met Saulus gepraat het. Barnabas het ook vir hulle vertel dat Saulus nie bang was om vir die mense in Damaskus van Jesus te vertel nie. En Saulus het oral in Jerusalem saam met hulle gegaan en hy was nie bang om vir die mense te vertel van die Here nie. Hy het ook gepraat met die Jode wat Grieks gepraat het, en hy het met hulle gestry, maar hulle het probeer om hom dood te maak. Toe die gelowiges dit uitvind, het hulle vir Saulus na die hawestad Sesarea geneem en van Sesarea het hulle hom na die stad Tarsus gestuur. Die kerk in die provinsies Judea, Galilea en Samaria het 'n tyd lank in vrede gelewe. God het hulle gehelp om aan te hou glo, hulle het die Here gedien en hulle was gehoorsaam aan Hom. Die Heilige Gees het die kerk sterk gemaak en meer en meer mense het in die Here begin glo. Petrus het van die een plek na die ander plek gegaan. Hy het ook gekom by mense wat in die stad Lidda woon en wat in die Here glo. Petrus sien toe daar 'n man, sy naam was Eneas. Hy het ag jaar lank op sy slaapmat gelê omdat hy lam was. Petrus sê toe vir hom: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Jy moet opstaan en jy moet jou slaapmat opvou!” Eneas het toe dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saron-vlakte het Eneas gesien, en hulle het verander en begin lewe soos die Here wil hê. In die stad Joppe was daar 'n gelowige vrou. In die Aramese taal was haar naam Tabita. In die Griekse taal was haar naam Dorkas. Hierdie vrou het baie goeie dinge gedoen en sy het altyd arm mense gehelp. Sy het in daardie tyd siek geword en gesterf. Nadat mense haar liggaam gewas het, het hulle dit in die bo-kamer neergesit. Die stad Lidda was naby Joppe, en die gelowiges het gehoor dat Petrus daar in Lidda was. Daarom het hulle twee mans na Petrus toe gestuur om mooi vir hom te vra: “Kom asseblief gou na ons toe!” Petrus staan toe op en gaan saam met hulle. Toe hy daar kom, het hulle hom na die bo-kamer geneem. Al die weduwees het by hom gestaan en huil, en hulle het vir Petrus die klere gewys wat Dorkas altyd gemaak het toe sy nog gelewe het. Petrus het almal uitgestuur en toe het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Tabita het haar oë oopgemaak, en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. Petrus het toe Dorkas se hand geneem en hy het vir haar gehelp om op te staan. Toe het Petrus die weduwees en die ander gelowiges geroep, en hy het die vrou wat weer begin lewe het, voor hulle laat staan. Al die mense in die stad Joppe het gehoor wat Petrus gedoen het, en baie mense het in die Here begin glo. Petrus het 'n lang tyd in Joppe gebly by 'n leerlooier. Die man se naam was Simon.
HANDELINGE 9:1-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie. Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring. En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie. En daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in 'n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na 'n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was 'n paar dae saam met die dissipels in Damaskus. EN hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is. En almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: Is hý nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep, en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie? Maar Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is. En ná geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring. En hulle plan het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak, dat hulle hom kon ombring; maar die dissipels het hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in 'n mandjie te laat afsak. En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel was nie. Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het. En hy het saam met hulle in- en uitgegaan in Jerusalem en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak. En toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus weggestuur. En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder. EN onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon; en hy het daar 'n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan. En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. En in Joppe was daar 'n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder- en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was. En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo. En hy het 'n geruime tyd in Joppe gebly by 'n sekere Simon, 'n leerlooier.
HANDELINGE 9:1-43 Afrikaans 1983 (AFR83)
Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring. Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom gestraal. Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor maar niemand gesien nie. Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!” “Hier is ek, Here,” het hy geantwoord. En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na 'n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid en hy het in 'n gesig 'n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien. Toe het hy opgestaan en hy is gedoop; en hy het geëet en sy kragte herwin. Saulus het 'n paar dae daar by die gelowiges in Damaskus gebly en dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is. Almal wat dit gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, wou uitroei nie? En het hy nie ook hierheen gekom om hulle gevange te neem en voor die priesterhoofde te bring nie?” Maar Saulus het al hoe kragtiger gepreek en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is. Na verloop van tyd het die Jode saamgesweer om Saulus te vermoor, maar hy het van hulle plan te hore gekom. Dag en nag was hulle by die stad se poorte op die uitkyk om hom dood te maak. Maar sy medegelowiges het hom een nag geneem en in 'n mandjie laat afsak deur 'n opening in die stadsmuur. Saulus het na Jerusalem toe gegaan en het geprobeer om daar by die volgelinge van Jesus aan te sluit, maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie kon glo dat hy 'n volgeling van Jesus is nie. Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het vir hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het. Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer; maar hulle het hom probeer vermoor. Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom na Sesarea toe geneem en hom daarvandaan na Tarsus toe weggestuur. In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk 'n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe. Die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem. Petrus het baie rondgereis en het op 'n keer ook by die gelowiges gekom wat in Lidda gewoon het. Daar het hy 'n man met die naam Eneas teëgekom wat verlam en al ag jaar lank bedlêend was. “Eneas,” sê Petrus toe vir hom, “Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op.” Hy het dadelik opgestaan. Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. In Joppe was daar 'n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in 'n bokamer neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.” Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom. Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by 'n sekere Simon, 'n leerlooier.
HANDELINGE 9:1-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Saulus, wat nog steeds dreigemente en moord teen die dissipels van die Here aangeblaas het, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die •sinagoges in Damaskus, sodat, indien hy enige mense opspoor wat aanhangers van die Weg is, mans sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het 'n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan, omdat hulle wel die stem gehoor het, maar niemand gesien het nie. Saulus het van die grond af opgestaan en, alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle het hom aan die hand gelei en Damaskus binnegebring. Drie dae lank kon hy nie sien nie, en het hy nie geëet of gedrink nie. Daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam Ananias. In 'n visioen het die Here vir hom gesê: “Ananias!” En hy het geantwoord: “Hier is ek, Here.” Toe sê die Here vir hom: “Maak gereed en gaan na die straat bekend as Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na iemand uit Tarsus met die naam Saulus. Want kyk, hy is besig om te bid, en het in 'n visioen gesien dat 'n man met die naam Ananias binnekom en hom die hande oplê om hom weer te laat sien. ” Ananias het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die kwaad wat hy u •heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy volmag van die leierpriesters om almal wat u Naam aanroep, in boeie te slaan.” Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly. ” Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê, met die woorde: “Saul, broer, die Here het my gestuur – Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het – sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval. Hy kon weer sien en het opgestaan en is gedoop. Nadat hy geëet het, het hy sy krag herwin. Hy was 'n paar dae lank saam met die dissipels in Damaskus, en het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die •Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verstom en het gevra: “Is hy nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, probeer uitroei het, en hierheen gekom het om hulle geboeid na die leierpriesters te neem nie?” Saulus het egter al hoe meer krag ontvang, en die Jode wat in Damaskus woon, verwar deur te bewys dat Jesus die Christus is. Maar nadat 'n hele paar dae verloop het, het die Jode saamgespan om hom dood te maak. Saulus het egter van hulle komplot te hore gekom. Hulle het die stadspoorte dag en nag dopgehou, sodat hulle hom kon doodmaak, maar sy dissipels het hom in die nag gaan haal en hom deur 'n opening in die muur in 'n mandjie laat afsak. Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel is nie. Barnabas het hom egter gaan haal en na die •apostels geneem, en vir hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het, dat Hy met hom gepraat het en hoe hy in Damaskus met vrymoedigheid in die Naam van Jesus gepreek het. Saam met hulle het hy in Jerusalem gekom en gegaan en met vrymoedigheid in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Helleniste gepraat en geredeneer, maar hulle het hom probeer doodmaak. Maar toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Caesarea geneem en na Tarsus weggestuur. Die •kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem. •Petrus het oral rondgereis, en ook by die •heiliges wat in Lidda woon, aangekom. Daar het hy 'n man teëgekom met die naam Eneas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. Petrus het vir hom gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien, en hulle tot die Here gewend. In Joppe was daar 'n sekere vrouedissipel met die naam Tabita, wat as Dorkas vertaal is. Sy het baie goeie dade verrig en liefdadigheid bewys. In daardie dae het sy siek geword en gesterf. Hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe was, het die dissipels, toe hulle hoor dat •Petrus daar is, twee mans na hom gestuur met die versoek: “Kom sonder uitstel na ons toe!” Petrus het toe gereedgemaak en saam met hulle gegaan. Toe hy daar aankom, het hulle hom na die bovertrek geneem. Al die weduwees het huilend by hom kom staan, en vir hom die onder- en boklere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Nadat Petrus almal na buite gestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy hom na die liggaam omgedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit. Hy het sy hand vir haar gegee en haar help opstaan. Toe het hy die •heiliges en die weduwees geroep, en haar lewend aan hulle getoon. Dit het dwarsdeur die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. Petrus het nog 'n hele paar dae in Joppe by 'n sekere Simon, die leerlooier, gebly.
HANDELINGE 9:1-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Saul het dreigemente en slagting teen die dissipels van die Here uitgeblaas en na die hoëpriester gegaan. En hy het van hom briewe aan Damaskus aan die sinagoges verlang, dat as hy iets van hierdie weg vind, of dit nou mans of vroue was, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring. En terwyl hy reis, het hy naby Damaskus gekom, en skielik het daar 'n lig uit die hemel rondom hom geskyn. En hy het op die aarde geval en 'n stem vir hom hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En die Here sê: Ek is Jesus wat jy vervolg; dit is vir jou moeilik om teen die prikkels te skop. En hy het bewend en verbaas gesê: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here sê vir hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou vertel word wat jy moet doen. En die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan en 'n stem gehoor, maar niemand gesien nie. En Saul het opgestaan van die aarde af; en toe sy oë oopgaan, het hy niemand gesien nie; maar hulle het hom aan die hand gelei en hom na Damaskus gebring. En hy was drie dae sonder om te sien en het nie geëet of gedrink nie. En daar was 'n sekere dissipel in Damaskus met die naam van Ananias; en vir hom het die Here in 'n gesig gesê: Ananías! En hy sê: Kyk, ek is hier, Here. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguit, en vra in die huis van Judas na iemand wat Saul genoem word, van Tarsus; want kyk, hy bid. En hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en sy hand op hom slaan, sodat hy kan sien. Toe antwoord Ananias: Here, ek het by baie van hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy gesag van die owerpriesters om almal te bind wat u Naam aanroep. Maar die Here het vir hom gesê: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore voorwerp om my Naam te dra voor die heidene en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom wys hoe groot dinge hy moet ly ter wille van my Naam. En Ananías het gegaan en in die huis ingegaan; en sy hande op hom gelê en gesê: Broer Saul, die Here Jesus, wat aan jou verskyn het op die pad toe jy gekom het, het my gestuur, sodat jy jou gesig kan ontvang en met die Heilige Gees vervul kan word. En dadelik het daar van sy oë afgeval soos skubbe, en hy het dadelik sig gekry en opgestaan en is gedoop. En toe hy vleis ontvang het, is hy versterk. Toe was Saulus sekere dae saam met die dissipels wat in Damaskus was. En dadelik het hy Christus in die sinagoges verkondig dat Hy die Seun van God is. Maar almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê; Is dit nie Hy wat die wat hierdie Naam aangeroep het in Jerusalem omgebring het en met die doel hierheen gekom het om hulle geboeid na die owerpriesters toe te bring nie? Maar Saul het sterker geword en die Jode wat in Damaskus gewoon het, in die war gebring deur te bewys dat dit juis Christus is. En nadat baie dae verby was, het die Jode raad gehou om hom dood te maak. Maar hulle wag was bekend van Saul. En hulle het die poorte dag en nag dopgehou om hom dood te maak. Toe het die dissipels Hom in die nag geneem en Hom in 'n mandjie by die muur laat afsak. En toe Saul in Jerusalem aankom, het hy probeer om hom by die dissipels aan te sluit; maar hulle was almal bang vir hom en het nie geglo dat hy 'n dissipel was nie. Maar Barnabas het hom geneem en na die apostels gebring en aan hulle vertel hoe hy die Here op die pad gesien het en dat hy met hom gespreek het en hoe hy vrymoediglik in Damaskus gepreek het in die Naam van Jesus. En hy was saam met hulle wat in Jerusalem in- en uitgegaan het. En hy het met vrymoedigheid in die Naam van die Here Jesus gespreek en teen die Grieke getwis, maar hulle het gegaan om Hom dood te maak. En toe die broers dit hoor, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus gestuur. Toe het die gemeentes in die hele Judéa en Galilea en Samaria rus en is opgebou; en wandel in die vrees van die Here en in die vertroosting van die Heilige Gees, is vermeerder. En dit het gebeur, terwyl Petrus deur al die streke verbygegaan het, het hy ook afgekom na die heiliges wat in Lidda gewoon het. En daar het hy 'n sekere man met die naam van Eneas gevind, wat agt jaar lank op sy bed gehou het en verlam was. En Petrus sê vir hom: Eneas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op. En hy het dadelik opgestaan. En almal wat in Lidda en Saron gewoon het, het hom gesien en hulle tot die Here bekeer. En daar was in Joppe 'n sekere dissipel met die naam van Tabita, wat deur uitlegging Dorkas genoem word; hierdie vrou was vol goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. En in dié dae het sy siek geword en gesterwe; en toe hulle gewas het, het hulle haar in die bovertrek neergelê. En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom begeer het dat hy nie sou uitstel om na hulle te kom nie. Toe staan Petrus op en gaan saam met hulle. Toe hy aankom, het hulle hom in die bovertrek gebring, en al die weduwees het by hom gestaan en ween en die rokke en klere gewys wat Dorkas gemaak het terwyl sy by hulle was. Maar Petrus het hulle almal uitgesit en neergekniel en gebid; en hom na die liggaam omgedraai en gesê: Tabita, staan op. En sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, gaan sit sy regop. En Hy het haar sy hand gegee en haar opgelig, en nadat Hy die heiliges en weduwees geroep het, het Hy haar lewendig voorgehou. En dit was bekend in die hele Joppe; en baie het in die Here geglo. En dit het gebeur dat hy baie dae in Joppe gebly het saam met een Simon, 'n leerlooier.
HANDELINGE 9:1-43 Die Boodskap (DB)
Saulus wou die kerk met alle geweld uitroei. Hy het volgelinge van die Here oral met die dood gedreig. Daarom het hy by die hoëpriester lasbriewe gekry en daarmee na die Joodse aanbiddingsplekke in Damaskus afgesit. Daar wou hy elke gelowige vang op wie hy sy hande kon lê. Sy plan was om elkeen wat in die Here geglo het terug te vat na Jerusalem om daar verhoor te word. Naby Damaskus is Saulus skielik deur ’n skerp lig uit die hemel verblind. Hy het baie groot geskrik toe hy die lig sien en het soos ’n dooie op die grond neergeval. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg?” “Sê asseblief vir my wie U is, Here,” het hy benoud gevra. “Dit is Ek, Jesus. Jy is besig om My te vervolg. Staan nou op en gaan Damaskus toe. Daar sal jy hoor wat jy moet doen,” het Jesus geantwoord. Die ander mense wat saam met Saulus gereis het, was verstom oor wat gebeur het. Hulle kon net die stem hoor, maar hulle het niks gesien nie. Saulus het orent gekom. Toe kom hy agter dat hy niks kan sien nie. Sy reisgenote moes hom lei. Drie dae lank was hy blind. Hy het niks geëet of gedrink nie. In Damaskus was daar ’n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ’n visioen met hom gaan praat: “Ananias!” “Ja, Here, hier is ek,” het hy geantwoord. Toe sê die Here vir hom: “Jy moet dadelik na Reguitstraat gaan. Gaan soek die huis waar ’n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid. Ek het reeds in ’n gesig vir hom gewys dat jy op pad is na hom toe om jou hande op hom te sit sodat hy weer kan sien.” Ananias het geskrik toe hy dit hoor: “Here, heelwat mense het my al teen hierdie man gewaarsku. Dis hy wat u kinders in Jerusalem so wreed vervolg. Nou het hy na ons toe gekom met lasbriewe van die hoëpriester om ons almal te vang.” Die Here antwoord Ananias: “Doen wat Ek vir jou sê. Gaan dadelik na Saulus toe. Ek het hom uitgekies vir ’n baie besondere opdrag. Hy gaan nog met baie belangrike mense oor My praat, en ook met die Jode en met mense wat aan ander volke behoort. Daar lê ’n moeilike taak vir hom voor. Saulus gaan nog baie swaarkry omdat hy oor My moet praat. Ek sal dit een van die dae vir hom wys.” Ananias het toe gedoen wat die Here vir hom gesê het. In Judas se huis het hy sy hande op Saulus gaan sit. Hy sê toe vir hom: “Saulus, my broer, die Here het my na jou toe gestuur. Dit is Hy, Jesus, wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was. Hy het my na jou toe laat kom sodat jy weer kan sien en sodat jou lewe vervul kan word met die Heilige Gees.” Ananias het skaars klaar gepraat, toe val daar iets soos skille van Saulus se oë af. Daarna kon hy weer sien. Hy is ook gedoop. Toe het hy weer begin eet. Sy liggaamskragte het gou teruggekeer. Daarna het Saulus nog ’n ruk by die gelowiges in Damaskus gebly. Saulus het by die Joodse aanbiddingsplek daar in Damaskus ingestap en vir die mense vertel dat Jesus die Seun van God is. Almal wat hom hoor praat het, was baie verbaas. “Wat gaan nou aan? Is hy nie die man wat in Jerusalem verwoesting gesaai het onder almal wat in daardie Jesus glo nie? Hy het dan juis hierheen gekom om hulle te vang sodat hulle voor die hoëpriester aangekla kan word,” het hulle vir mekaar gesê. Hierdie opmerkings het Saulus nie van stryk gebring nie. Die Here was by hom met sy groot krag. Saulus het die Jode later skoon deurmekaargepraat. Hy het vir hulle gewys dat Jesus regtig die Messias is, die Een vir wie God gestuur het om ons sondes weg te vat. Die Jode het later besluit om Saulus dood te maak, maar gelukkig het hy daarvan te hore gekom. Om seker te maak dat Saulus nie ontsnap nie, het hulle toe die stad se hekke dag en nag laat oppas. Die gelowiges het ’n slim plan gemaak. Een nag het hulle Saulus in ’n groot mandjie gesit en hom oor die stadsmuur laat afsak. Daarna het Saulus teruggegaan Jerusalem toe. Daar het hy probeer om by die kerk aan te sluit, maar die gelowiges was skrikkerig vir hom. Hulle het gedink hy gee net voor dat hy glo. Barnabas het egter gesien Saulus se geloof in Jesus is eg. Hy het hom jammer gekry en hom toe aan die apostels gaan voorstel. Barnabas het hulle vertel hoe die Here aan Saulus verskyn en met hom gepraat het. Hy het ook vertel dat Saulus nie bang was om in Damaskus vir die mense te sê dat Jesus die Here is nie. Daarna het Saulus in die openbaar saam met hulle rondgestap. Oral waar hy gekom het, het hy met ander mense oor Jesus gepraat. Kort voor lank het Saulus egter moeilikheid gekry met ’n groep Griekssprekende Jode. Hulle het niks gehou van wat hy gesê het nie. Hulle het toe besluit om hom dood te maak. Toe die gelowiges daarvan te hore kom, het hulle hom dadelik uit die stad weggevat. Hulle is haastig met hom Sesarea toe. Van daar af het Saulus per skip na Tarsus vertrek. Daarna het daar ’n tydperk van vrede in die kerk aangebreek. Dwarsdeur Judea, Galilea en Samaria het mense in groot getalle by die kerk aangesluit. Gelowiges se vertroue in die Here het sterker geword. Hulle almal het ook groot eerbied vir die Here gehad. En hulle het al hoe meer bewus geword van die bystand en troos van die Heilige Gees in hulle lewe. In daardie tyd het Petrus oral by die gelowiges besoek gaan aflê. Tydens een van dié besoeke het hy in ’n dorp met die naam Lidda aangekom waar hy by ’n paar gelowiges gaan bly het. Daar het hy ’n man raakgeloop wat al agt jaar lank verlam was. Sy naam was Eneas. Hy kon nie eens self uit sy bed uit opstaan nie. Petrus het voor hom gaan staan en gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou nou gesond. Staan op! Maak jou bed op sodat almal kan sien dat jy gesond is.” Dadelik het hy uit die bed opgestaan en begin rondstap. Almal wat daar in Lidda en Saron gebly het, het later gesien hoe Eneas in die straat rondloop. Toe het baie mense ook hulle lewens aan die Here gegee. In Joppe, ’n entjie van Lidda af, het ’n volgeling van Jesus gebly met die naam Tabita. (Haar naam beteken “Wildsbokkie”.) Sy het baie omgegee vir ander mense. Waar sy kon, het sy die armes gehelp en goeie dinge vir ander mense gedoen. Juis in daardie tyd toe Petrus in die omgewing was, het Tabita ernstig siek geword. Kort daarna is sy oorlede. Ander gelowiges het haar liggaam gereedgemaak vir die begrafnis. Hulle het haar gewas en in ’n bokamer uitgelê. Die gelowiges het gehoor dat Petrus daar naby in Lidda was. Hulle het twee mans soontoe gestuur om hom te smeek om gou-gou Joppe toe te kom. Petrus was dadelik bereid om saam met hulle te gaan. In Joppe aangekom, het hy saam met hulle na die bokamer gegaan waar Tabita se liggaam gelê het. ’n Klompie van haar vriendinne, almal weduwees, het daar om haar gestaan. Hulle was baie hartseer. Hulle het vir Petrus van die klere gewys wat sy gemaak het toe sy nog geleef het. Petrus het vir almal gevra om buite te gaan wag. Daarna het hy op sy knieë neergeval en begin bid. Toe kyk hy na haar en sê vir haar: “Tabita, staan op!” Tabita het dadelik haar oë oopgemaak. Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar hand gevat en haar gehelp om op te staan. Petrus het toe vir die gelowiges en die weduwees wat buite die deur gewag het, binnetoe geroep. Toe hulle in die kamer kom, sien hulle dat Tabita weer lewe. Hierdie nuus het soos ’n veldbrand deur Joppe versprei. Dit het gemaak dat baie mense in die Here begin glo het. Petrus het ’n hele ruk by ’n man met die naam Simon daar in Joppe gebly. Simon het leergoedere gemaak en verkoop.