Saulus, wat nog steeds dreigemente en moord teen die dissipels van die Here aangeblaas het, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die •sinagoges in Damaskus, sodat, indien hy enige mense opspoor wat aanhangers van die Weg is, mans sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.
Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het 'n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan, omdat hulle wel die stem gehoor het, maar niemand gesien het nie. Saulus het van die grond af opgestaan en, alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle het hom aan die hand gelei en Damaskus binnegebring. Drie dae lank kon hy nie sien nie, en het hy nie geëet of gedrink nie.
Daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam Ananias. In 'n visioen het die Here vir hom gesê: “Ananias!” En hy het geantwoord: “Hier is ek, Here.” Toe sê die Here vir hom: “Maak gereed en gaan na die straat bekend as Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na iemand uit Tarsus met die naam Saulus. Want kyk, hy is besig om te bid, en het in 'n visioen gesien dat 'n man met die naam Ananias binnekom en hom die hande oplê om hom weer te laat sien. ” Ananias het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die kwaad wat hy u •heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy volmag van die leierpriesters om almal wat u Naam aanroep, in boeie te slaan.” Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly. ” Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê, met die woorde: “Saul, broer, die Here het my gestuur – Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het – sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.” En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval. Hy kon weer sien en het opgestaan en is gedoop. Nadat hy geëet het, het hy sy krag herwin.
Hy was 'n paar dae lank saam met die dissipels in Damaskus, en het Jesus dadelik in die sinagoges verkondig deur te sê dat Hy die •Seun van God is. Almal wat hom gehoor het, was verstom en het gevra: “Is hy nie die man wat in Jerusalem die mense wat hierdie Naam aanroep, probeer uitroei het, en hierheen gekom het om hulle geboeid na die leierpriesters te neem nie?” Saulus het egter al hoe meer krag ontvang, en die Jode wat in Damaskus woon, verwar deur te bewys dat Jesus die Christus is.
Maar nadat 'n hele paar dae verloop het, het die Jode saamgespan om hom dood te maak. Saulus het egter van hulle komplot te hore gekom. Hulle het die stadspoorte dag en nag dopgehou, sodat hulle hom kon doodmaak, maar sy dissipels het hom in die nag gaan haal en hom deur 'n opening in die muur in 'n mandjie laat afsak.
Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel is nie. Barnabas het hom egter gaan haal en na die •apostels geneem, en vir hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het, dat Hy met hom gepraat het en hoe hy in Damaskus met vrymoedigheid in die Naam van Jesus gepreek het. Saam met hulle het hy in Jerusalem gekom en gegaan en met vrymoedigheid in die Naam van die Here gepreek. Hy het ook met die Helleniste gepraat en geredeneer, maar hulle het hom probeer doodmaak. Maar toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Caesarea geneem en na Tarsus weggestuur.
Die •kerk dwarsdeur die hele Judea, Galilea en Samaria het vrede beleef en is opgebou. Hulle het met ontsag voor die Here geleef, en met die bemoediging van die Heilige Gees, het hulle getalle toegeneem.
•Petrus het oral rondgereis, en ook by die •heiliges wat in Lidda woon, aangekom. Daar het hy 'n man teëgekom met die naam Eneas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. Petrus het vir hom gesê: “Eneas, Jesus Christus maak jou gesond. Staan op en maak jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien, en hulle tot die Here gewend.
In Joppe was daar 'n sekere vrouedissipel met die naam Tabita, wat as Dorkas vertaal is. Sy het baie goeie dade verrig en liefdadigheid bewys. In daardie dae het sy siek geword en gesterf. Hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe was, het die dissipels, toe hulle hoor dat •Petrus daar is, twee mans na hom gestuur met die versoek: “Kom sonder uitstel na ons toe!” Petrus het toe gereedgemaak en saam met hulle gegaan. Toe hy daar aankom, het hulle hom na die bovertrek geneem. Al die weduwees het huilend by hom kom staan, en vir hom die onder- en boklere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Nadat Petrus almal na buite gestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy hom na die liggaam omgedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit. Hy het sy hand vir haar gegee en haar help opstaan. Toe het hy die •heiliges en die weduwees geroep, en haar lewend aan hulle getoon. Dit het dwarsdeur die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. Petrus het nog 'n hele paar dae in Joppe by 'n sekere Simon, die leerlooier, gebly.