HANDELINGE 5:1-42

HANDELINGE 5:1-42 AFR83

Maar daar was ook 'n sekere man, Ananias, en sy vrou, Saffira, wat 'n eiendom verkoop het. Met die medewete van sy vrou het hy van die verkoopprys vir hulleself agtergehou en net 'n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee. Petrus sê toe vir hom: “Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou? Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.” Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword. 'n Paar van die jonges het nader gekom, hom toegedraai en gaan begrawe. Omtrent drie uur later het sy vrou daar aangekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus vra toe vir haar: “Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?” “Ja,” sê sy, “vir soveel.” Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Die mense wat jou man begrawe het, is nou net weer by die deur, en hulle sal jou ook uitdra.” Sy het onmiddellik voor Petrus dood neergeval. Die jongmanne het ingekom, gesien sy is dood, en haar by haar man gaan begrawe. Die hele gemeente en al die ander mense wat hiervan gehoor het, het baie bang geword. Deur die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. En al die gelowiges het gereeld saamgekom in die Pilaargang van Salomo, maar van die ander mense het niemand dit gewaag om by hulle aan te sluit nie al het die volk hulle hoog geag. Tog is baie mense wat in die Here geglo het, mans sowel as vrouens, algaande by hulle getal gevoeg. Die mense het selfs siekes op straat uitgedra en hulle daar op draagbare en beddens neergesit sodat, as Petrus daar verbygaan, al is dit maar net sy skaduwee op party van hulle kon val. Daar het ook baie mense van die dorpe in die omgewing van Jerusalem af gekom en siekes gebring en mense wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak. Die hoëpriester en al sy ondersteuners, wat aan die party van die Sadduseërs behoort het, is met afguns vervul en het besluit om in te gryp. Hulle het die apostels oop en bloot laat vang en in die tronk gestop. Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, die apostels uitgelei en vir hulle gesê: “Gaan staan in die tempel en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe lewe.” Hulle het gehoor gegee en die môre vroeg na die tempel toe gegaan en die mense geleer. Intussen het die hoëpriester en sy ondersteuners die leiers van Israel vir 'n volle vergadering van die Joodse Raad bymekaargeroep en wagte na die tronk toe gestuur om die apostels te gaan haal. Maar toe die wagte daar kom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggekom en vertel: “Ons het die tronk behoorlik toegesluit gekry en die bewaarders op hulle pos voor die deure; maar toe ons oopmaak en ingaan, was daar niemand nie.” Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde dit hoor, was hulle uit die veld geslaan en hulle het gewonder wat van die apostels geword het. Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan daar in die tempel en leer die volk!” Toe het die bevelvoerder en die wagte die apostels gaan haal, maar sonder geweld, omdat hulle bang was die volk steek hulle onder die klippe. Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoëpriester sê toe vir hulle: “Het ons julle nie uitdruklik belet om die mense in hierdie Naam te leer nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir hierdie man se dood.” Petrus en die ander apostels het geantwoord: “'n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorvaders het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom aan die kruis te hang. God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe. En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.” Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend, en hulle wou die apostels doodmaak. Een van die Fariseërs in die Raad, 'n man met die naam Gamaliël, wat as leermeester van die wet van Moses by die hele volk in hoë aansien was, het toe opgestaan en gevra dat die apostels 'n rukkie buitentoe gevat moet word. Daarna sê hy vir die Raad: “Israeliete, julle moet versigtig wees wat julle met hierdie mense gaan doen. 'n Tyd gelede was daar die geval van Teudas, wat in opstand gekom en daarop aanspraak gemaak het dat hy iemand van betekenis is. Hy het 'n aanhang gekry van omtrent vier honderd man. Hy is doodgemaak, en al sy volgelinge is verstrooi, en die opstand het op niks uitgeloop nie. Daarna was dit Judas die Galileër, wat in die tyd van die volkstelling in opstand gekom het met 'n deel van die volk agter hom aan. Ook hy is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaar gejaag. Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie!” Die Raad het na hom geluister. Hulle het die apostels ingeroep, hulle laat slaan en hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat. Daarna het hulle hulle losgelaat. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En hulle het nie opgehou om die mense elke dag in die tempel en in hulle huise te leer en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.