'n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira 'n stuk grond verkoop, maar hy het, met sy vrou se medewete, van die geld vir homself teruggehou, en net 'n gedeelte gebring en aan die voete van die •apostels neergelê. •Petrus het toe gesê: “Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het? Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” By die aanhoor van hierdie woorde het Ananias inmekaargesak en gesterf, en groot vrees het almal oorval wat hiervan gehoor het. Die jong manne het toe nader gekom, hom in linne toegedraai, na buite gedra en begrawe.
Ongeveer drie uur later het sy vrou ook binnegekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus het vir haar gevra: “Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?” En sy het geantwoord: “Ja, vir soveel.” Daarop sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te tart? Kyk, die voete van hulle wat jou man begrawe het, is by die deur; hulle gaan jou ook uitdra.” Op daardie oomblik het sy by sy voete inmekaargesak en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle haar dood aangetref, uitgedra en by haar man begrawe. En groot vrees het die hele •gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval.
Deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind. Hulle was almal eensgesind bymekaar in die Pilaargang van Salomo. Van die res van die volk het niemand dit egter gewaag om by die gelowiges aan te sluit nie, alhoewel die volk hoë agting vir hulle gehad het. Tog is baie mense wat in die Here glo, algaande by hulle getal gevoeg – 'n menigte mans en vroue. Die gevolg was dat die mense die siekes op die strate bly uitdra en op bedmatjies en slaapmatte neergelê het, sodat wanneer Petrus verbykom, selfs net sy skaduwee op een van hulle kon val. Ook uit die dorpe in die omgewing van Jerusalem het skares saamgestroom en hulle siekes en mense wat deur •onrein geeste geteister is, gebring, en hulle is almal genees.
Maar die hoëpriester het opgestaan, en al sy ondersteuners, die party van die •Sadduseërs, het vol naywer die •apostels gevange laat neem en hulle in die openbare tronk laat gooi. Maar 'n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en gesê: “Gaan staan in die tempelterrein en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie lewe.” Hulle het gehoor gegee en teen ongeveer dagbreek die tempelterrein binnegegaan en die mense onderrig. Toe die hoëpriester en sy ondersteuners opdaag, het hulle die Sanhedrin, die hele Raad van Familiehoofde van Israel, ontbied en die apostels by die tronk laat haal. Maar toe die dienaars daar aankom, het hulle hulle nie in die tronk gekry nie. Hulle het teruggegaan en berig: “Ons het die tronk sorgvuldig toegesluit gevind met die wagte wat voor die deure staan, maar nadat ons oopgesluit het, het ons niemand daarbinne gevind nie.” Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die leierpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daaroor verward, oor wat dit kon beteken. Maar iemand het hulle kom inlig: “Kyk, die manne wat julle in die tronk laat gooi het, staan die volk op die tempelterrein en onderrig.” Die bevelvoerder en die dienaars het hulle toe gaan haal – sonder geweld, omdat hulle bang was dat hulle deur die volk gestenig sou word.
Hulle bring toe die apostels en laat hulle voor die Sanhedrin staan. Die hoëpriester het hulle begin ondervra: “Het ons julle nie ten strengste verbied om in hierdie Naam te leer nie? En kyk, julle het julle leer deur die hele Jerusalem versprei; en julle wil die bloed van hierdie man op ons bring. ” Maar •Petrus en die apostels het geantwoord: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk. Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.”
Toe hulle dit hoor, was hulle rasend van woede en wou die apostels doodmaak. Maar toe staan iemand in die Sanhedrin op, 'n •Fariseër met die naam Gamaliël, 'n wetgeleerde met hoë aansien by die hele volk, en gee opdrag dat hulle die mense vir 'n oomblik na buite neem. Daarop sê hy vir hulle: “Israeliete, dink goed na oor wat julle met hierdie mense gaan doen, want 'n ruk gelede het Teudas opgestaan en daarop aanspraak gemaak dat hy iets besonders is, en ongeveer vierhonderd manne het by hom aangesluit. Hy is doodgemaak, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het in die niet verdwyn. Ná hom het Judas, die Galileër, in die dae van die volkstelling na vore getree en die volk agter hom aan tot opstand aangehits. Ook hy het omgekom, en almal wat na hom geluister het, het uitmekaar gespat. Maar nou sê ek vir julle: Los hierdie mense uit en laat hulle gaan, want as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie – moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!” Hulle het toe na hom geluister. En nadat hulle die apostels ontbied het, het hulle hulle laat gesel, hulle beveel om nie in die Naam van Jesus te praat nie, en hulle vrygelaat. Daarna het hulle van die Sanhedrin weggegaan, bly dat hulle waardig bevind is om ter wille van sy Naam skandelik behandel te word. Boonop het hulle nie opgehou om elke dag op die tempelterrein en van huis tot huis onderrig te gee nie, en ook nie om die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.