Daar was egter ook ’n sekere man, Ananias, wat saam met sy vrou, Saffira, ’n eiendom verkoop het. Hy het met die medewete van sy vrou van die verkoopprys vir hulleself gehou en net ’n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee.
Petrus sê toe: “Ananias, hoekom het jy jou deur Satan laat omhaal? Jy het vir die Heilige Gees gelieg toe jy ’n deel van die geld teruggehou het. Die grond was joune om te verkoop of nie. En selfs ná jy dit verkoop het, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Hoe kon jy so iets doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”
Toe Ananias hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterf. Almal wat hiervan gehoor het, het groot geskrik. ’n Paar jong mans het hom toegedraai en gaan begrawe.
Omtrent drie ure later het sy vrou ingekom, onbewus van wat gebeur het. Petrus vra haar toe: “Het julle die grond vir hierdie bedrag verkoop?”
“Ja,” het sy geantwoord, “dit was die bedrag.”
Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle twee saamgesweer om die Gees van die Here te toets? Net hier buite die deur is die jong mans wat jou man begrawe het, en hulle gaan jou ook uitdra.”
Onmiddellik het sy by sy voete neergeval en gesterf. Toe die jong mans inkom en sien sy is dood, het hulle haar by haar man gaan begrawe. Die hele gemeente het groot geskrik en al die ander wat hiervan gehoor het, het net so geskrik.
Die apostels het baie tekens en wonders onder die volk gedoen. Al die gelowiges het gereeld saamgekom in dié deel van die tempel wat as die Pilaargang van Salomo bekend staan. Niemand anders het dit sommer gewaag om by hulle aan te sluit nie, al het almal hoë agting vir hulle gehad. Al meer mense het in die Here geglo, groot getalle mans en vroue. Mense het selfs siekes op draagbare en bedmatjies in die straat uitgedra sodat wanneer Petrus verbyloop, sy skaduwee dalk op party van hulle kon val. Skares mense het van die dorpe rondom Jerusalem af gekom en siekes en mense gebring wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.
Die hoofpriester en sy ondersteuners, die Sadduseërs, word toe jaloers en besluit om iets aan die saak te doen. Hulle het die apostels gearresteer en in die publieke tronk gestop. Maar ’n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en vir hulle gesê: “Gaan tempel toe en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe manier van lewe!” Hulle het geluister en met dagbreek tempel toe gegaan en die mense begin onderrig.
Toe het die hoofpriester en sy amptenare ’n sitting van die Joodse Raad en die leiers van Israel belê. Hulle het die apostels vir die verhoor van die tronk af laat haal. Maar toe die tempelwagte by die tronk kom, was die apostels weg. Hulle het kom rapporteer: “Ons het die tronk toegesluit en ten volle beveilig gekry. Die bewaarders was buite op hulle pos. Toe ons egter die tronkdeure oopmaak, was daar niemand binne nie!”
Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde hierdie verslag hoor, was hulle verstom en hulle het gewonder wat aangaan. Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan in die tempel en onderrig die mense!”
Die bevelvoerder het toe saam met die tempelwagte die apostels gaan arresteer. Hulle het nie geweld gebruik nie, want hulle was bang die mense steek hulle onder die klippe. Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoofpriester het hulle begin ondervra: “Het ons julle nie belet om ooit weer die mense in hierdie man se Naam te onderrig nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer oor Jesus! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir sy dood!”
Petrus en die ander apostels het in reaksie hierop gesê: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! Die God van ons voorouers het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom te kruisig. God het Hom verhoog tot Leier en Verlosser in die regeerposisie reg langs Hom. Hy het dit gedoen om Israel tot inkeer te bring sodat hulle vergifnis van sonde kan ontvang. Óns is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat God gegee het aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”
Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend en het hulle begin planne maak om die apostels dood te maak. Maar een van die Raadslede het opgestaan. Hy was ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n geëerde wetskenner van Moses en baie gerespekteer deur al die mense. Hy het opgestaan en gevra dat die apostels ’n rukkie moet uitgaan. Hy het sy kollegas toe soos volg toegespreek: “Geagte Israeliete, wees versigtig wat julle met hierdie mans gaan doen! ’n Tyd gelede het ene Teudas na vore getree en daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders is. Omtrent 400 man het by hom aangesluit. Hy is egter tereggestel, en al sy volgelinge is verstrooi. Dié hele beweging het op niks uitgeloop nie. Na hom, in die tyd van die sensus, was daar Judas die Galileër. Hy het ’n opstand georganiseer en ’n klomp mense is agter hom aan. Ook hý is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaargejaag.
“Wat die huidige geval betref, is my aanbeveling daarom aan julle: Laat staan hierdie mense en los hulle uit. As hulle beplanning en aksies mensewerk is, sal daar niks van kom nie. As dit egter van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Netnou word daar bevind dat julle selfs teen God geveg het!”
Die Raad het sy advies aanvaar. Hulle het die apostels ingeroep en hulle laat slaan. Toe het hulle hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat, en hulle laat gaan. Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat God hulle werd geag het om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly. En elke dag het hulle aangehou om mense in die tempel en van huis tot huis te onderrig en die Goeie Nuus te preek dat Jesus die Messias is.