Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af Jerusalem toe gegaan. Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het voor hom verskyn en 'n aanklag teen Paulus ingebring. Hulle het hom ernstig versoek om hulle 'n guns te bewys en Paulus na Jerusalem toe te laat haal. Hulle het dit gevra omdat hulle hom op pad daarheen in 'n hinderlaag wou doodmaak. Festus het egter geantwoord: “Paulus word in Sesarea aangehou, en ek is van plan om binnekort daarheen terug te gaan. Julle bekwaamste manne kan dan saam met my gaan en hom aankla as hy iets verkeerds gedoen het.” Hy het 'n dag of ag, hoogstens tien, daar deurgebring en toe na Sesarea toe teruggegaan. Die dag na sy aankoms daar het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus voor hom gebring moet word. Toe Paulus binnekom, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van 'n hele klomp ernstige dinge beskuldig, wat hulle nie kon bewys nie. Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks verkeerds teen die Joodse wet of die tempel of die keiser gedoen nie.” Maar Festus wou die Jode 'n guns bewys en sê vir Paulus: “Sou jy bereid wees dat ek jou oor hierdie saak in Jerusalem gaan verhoor?” Paulus antwoord hom: “Ek staan tereg voor die keiserlike regbank. Hier moet ek verhoor word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed. As ek skuldig is en iets gedoen het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om te sterwe. Maar as daar niks in hulle beskuldigings teen my steek nie, kan niemand my as guns aan hulle uitlewer nie. Ek beroep my op die keiser.” Nadat Festus die saak met sy raadgewers bespreek het, het hy geantwoord: “Jy het jou op die keiser beroep; na die keiser toe sal jy gaan.” Na verloop van tyd het koning Agrippa en Bernice na Sesarea toe gekom om Festus te verwelkom. Hulle het 'n paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak by die koning ter sprake gebring: “Hier is iemand wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode 'n aanklag teen hom ingebring en my gevra om hom skuldig te bevind. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om 'n beskuldigde as guns uit te lewer nie. Hy moet eers geleentheid kry om hom voor sy aanklaers teen hulle beskuldiging te verdedig. Toe hulle hierheen gekom het, het ek sonder uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en bevel gegee dat die man voor my gebring moet word. Sy aanklaers het om hom gaan staan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ek verwag het nie. Dit het alles gegaan oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe. Omdat ek nie geweet het hoe om hierdie saak te hanteer nie, het ek gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word. Maar Paulus het hom op die keiser beroep. Hy wou liewer gevangene bly en deur die keiser verhoor word. Ek het toe beveel dat hy aangehou moet word totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”
Lees HANDELINGE 25
Deel
Vergelyk alle weergawes: HANDELINGE 25:1-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's