HANDELINGE 25:1-21

HANDELINGE 25:1-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af Jerusalem toe gegaan. Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het voor hom verskyn en 'n aanklag teen Paulus ingebring. Hulle het hom ernstig versoek om hulle 'n guns te bewys en Paulus na Jerusalem toe te laat haal. Hulle het dit gevra omdat hulle hom op pad daarheen in 'n hinderlaag wou doodmaak. Festus het egter geantwoord: “Paulus word in Sesarea aangehou, en ek is van plan om binnekort daarheen terug te gaan. Julle bekwaamste manne kan dan saam met my gaan en hom aankla as hy iets verkeerds gedoen het.” Hy het 'n dag of ag, hoogstens tien, daar deurgebring en toe na Sesarea toe teruggegaan. Die dag na sy aankoms daar het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus voor hom gebring moet word. Toe Paulus binnekom, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van 'n hele klomp ernstige dinge beskuldig, wat hulle nie kon bewys nie. Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks verkeerds teen die Joodse wet of die tempel of die keiser gedoen nie.” Maar Festus wou die Jode 'n guns bewys en sê vir Paulus: “Sou jy bereid wees dat ek jou oor hierdie saak in Jerusalem gaan verhoor?” Paulus antwoord hom: “Ek staan tereg voor die keiserlike regbank. Hier moet ek verhoor word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed. As ek skuldig is en iets gedoen het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om te sterwe. Maar as daar niks in hulle beskuldigings teen my steek nie, kan niemand my as guns aan hulle uitlewer nie. Ek beroep my op die keiser.” Nadat Festus die saak met sy raadgewers bespreek het, het hy geantwoord: “Jy het jou op die keiser beroep; na die keiser toe sal jy gaan.” Na verloop van tyd het koning Agrippa en Bernice na Sesarea toe gekom om Festus te verwelkom. Hulle het 'n paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak by die koning ter sprake gebring: “Hier is iemand wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode 'n aanklag teen hom ingebring en my gevra om hom skuldig te bevind. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om 'n beskuldigde as guns uit te lewer nie. Hy moet eers geleentheid kry om hom voor sy aanklaers teen hulle beskuldiging te verdedig. Toe hulle hierheen gekom het, het ek sonder uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en bevel gegee dat die man voor my gebring moet word. Sy aanklaers het om hom gaan staan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ek verwag het nie. Dit het alles gegaan oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe. Omdat ek nie geweet het hoe om hierdie saak te hanteer nie, het ek gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word. Maar Paulus het hom op die keiser beroep. Hy wou liewer gevangene bly en deur die keiser verhoor word. Ek het toe beveel dat hy aangehou moet word totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

HANDELINGE 25:1-21 Die Boodskap (DB)

Drie dae na sy aankoms in Sesarea is Festus na Jerusalem toe. Die hoëpriester en al die godsdienstige leiers van die Jode het hierdie kans aangegryp. Hulle het dadelik vir Festus van Paulus vertel en allerhande beskuldigings teen hom gemaak. Hulle het ook vir Festus gevra of hy hulle nie ’n guns wou bewys deur Paulus Jerusalem toe te stuur om deur hulle verhoor te word nie. Hulle wou egter vir Paulus langs die pad voorlê en doodmaak. Festus het egter geweier. “Die man word in Sesarea aangehou. En so sal dit bly,” het hy geantwoord. Hy het wel vir hulle gesê dat hy self binne ’n paar dae na Sesarea sou terugkeer. “Julle kan, as julle wil, julle bekwaamste regsgeleerdes saam met my stuur,” het Festus gesê. “Hulle kan die man dan kom aankla as hy iets verkeerds gedoen het.” Sowat agt of nege dae later het Festus na Sesarea teruggekeer. Die dag na sy aankoms het hy sy plek in die regsaal ingeneem en beveel dat Paulus voor hom moes verskyn. Soos een man het die Jode wat uit Jerusalem gekom het vorentoe gehardloop en om Paulus kom staan. Hulle het dadelik met allerhande beskuldigings teen hom losgetrek. Natuurlik kon hulle niks daarvan bewys nie. Paulus se verdediging was kort en kragtig: “Ek het niks verkeerds gedoen teen die wet van die Jode, of teen die tempel, of teen die keiser nie.” Festus wou egter in die Jode se goeie boekies bly. Daarom het hy vir Paulus gevra: “Sien jy kans om Jerusalem toe te gaan sodat ek jou daar kan verhoor?” “Ek staan op hierdie oomblik tereg voor die regbank van die Romeinse keiser,” het Paulus geantwoord. “Dit is my reg as ’n Romeinse burger. Ek het nie ’n saak met die Jode nie. Ek het niks verkeerds teen hulle gedoen nie. U weet dit baie goed. As ek ’n oortreding begaan het wat die doodstraf verdien, is ek bereid om my straf te dra. Dan kan u my sommer hier en nou teregstel. Maar as die Jode se beskuldigings teen my nie bewys kan word nie, het niemand die reg om my aan hulle uit te lewer om hulle ’n guns te probeer bewys nie. Nou beroep ek my op my reg om deur die keiser self verhoor te word.” Festus het ’n paar oomblikke met sy raadgewers oor Paulus se woorde beraadslaag. Toe het hy kort en kragtig sy uitspraak gegee: “Op die keiser het jy jou beroep. Na die keiser toe sal jy gaan!” ’n Rukkie later het koning Agrippa en sy suster Bernice Sesarea besoek om Festus amptelik te kom verwelkom. Na ’n paar dae het Festus vir Agrippa van die saak teen Paulus vertel. “My voorganger, Feliks, het ’n gevangene hier in die tronk agtergelaat,” het hy gesê. “Toe ek in Jerusalem was, het die godsdienstige leiers van die Jode hierdie man van baie dinge beskuldig en gevra dat ek hom skuldig moes bevind. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die manier is waarop ons Romeine te werk gaan nie. Ons lewer mense nie aan ander uit om hulle ’n guns te bewys nie. Ons maak eers seker dat die aangeklaagde ’n behoorlike kans gehad het om hom voor sy aanklaers te verdedig. “Toe die Jode later Sesarea toe kom, het ek dadelik aan hierdie saak aandag gegee. Die volgende dag nog het ek beveel dat die man oor wie dit alles gaan voor my gebring moes word. Toe hy inkom, het sy aanklaers met hulle aanklagte teen hom losgetrek. Ek was verbaas om te hoor dat hy nie van ’n misdaad beskuldig is nie. Dit het toe oor ’n klomp godsdienstige verskille tussen hulle en hom gegaan, en oor ’n dooie man - sy naam is Jesus. Paulus beweer dat hy nog leef. “Omdat ek nie mooi geweet het wat om te doen nie, het ek die gevangene gevra of hy Jerusalem toe wou gaan om daar verhoor te word. Maar hy het geweier. Hy het hom toe beroep op sy reg om deur die keiser verhoor te word. Daarom het ek beveel dat hy in die tronk moet bly totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

HANDELINGE 25:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af opgegaan Jerusalem toe. Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het toe ’n verslag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het ’n beroep op hom gedoen en van hom die guns gevra om Paulus Jerusalem toe te laat kom. (Hulle het ’n hinderlaag beplan om hom op pad permanent uit die weg te ruim.) Festus het egter geantwoord dat Paulus in Sesarea aangehou word, en dat hy self van plan was om binnekort daarheen terug te vertrek. “Dié onder julle,” het hy gesê, “wat die bevoegdheid daartoe het, kan dan saam met my gaan. As die man iets onwettigs begaan het, kan julle hom aankla.” Hy het ongeveer agt dae, hoogstens tien, in Jerusalem deurgebring en toe afgegaan Sesarea toe. Die volgende dag het hy gereël dat die hof sit en Paulus laat haal. Toe Paulus in die hof verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van ’n hele klomp ernstige dinge beskuldig. Hulle kon egter niks bewys nie. Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks teen die Joodse wet of die tempel of die keiser oortree nie.” Maar Festus wou iets vir die Jode doen en sê toe vir Paulus: “Wil jy opgaan Jerusalem toe en dáár voor my oor hierdie dinge verhoor word?” Paulus antwoord hom: “Nee! Voor die keiserlike regbank staan ek tereg. Dít is waar ek verhoor moet word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed. As ek skuldig is en dinge gedoen het wat die dood verdien, probeer ek die dood nie ontduik nie. Aangesien alles waarvan hulle my beskuldig egter blote versinsels is, kan niemand my sommer maar net aan hulle uitlewer nie. Ek appelleer na die keiser!” Festus het die saak met sy raad bespreek en toe geantwoord: “Jy het na die keiser geappelleer; na die keiser toe sal jy gaan!” ’n Paar dae later het koning Agrippa en Bernice in Sesarea aangekom om Festus te verwelkom. Hulle het ’n hele paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak met die koning bespreek: “Hier is ’n gevangene wie se verhoor Feliks ná sy vertrek aan my oorgelaat het. By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode my oor hom ingelig en van my ’n skuldigbevinding teen hom gevra. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om iemand sommer net as guns uit te lewer nie. Die beskuldigde moet eers geleentheid kry om homself persoonlik in die teenwoordigheid van sy aanklaers te verdedig. “Toe hulle vir die verhoor hierheen gekom het, het ek dus geen tyd gemors nie en die volgende dag die hofsitting gereël en die man laat haal. Sy aanklaers het om hom gestaan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ék verwag het nie. Hulle het dit gehad oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor ’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe. Ék het geen idee gehad hoe om hierdie tipe saak te ondersoek nie, en het hom daarom gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word. Maar Paulus het geappelleer om onder arres te bly met die oog op ’n beslissing deur Sy Edele die Keiser. Ek het toe beveel dat hy onder arres bly totdat ek hom keiser toe kan stuur.”

HANDELINGE 25:1-21 Bybel vir almal (ABA)

Festus het die nuwe goewerneur geword en hy het na daardie provinsie gekom. Ná drie dae het hy van die stad Sesarea na Jerusalem gegaan. Daar in Jerusalem het die priesterleiers en die belangrike Jode vir Paulus by Festus beskuldig. Hulle het baie mooi vir Festus gevra dat hy iets goed moet doen vir hulle. Hulle het gevra dat Festus vir Paulus moet laat haal in Sesarea en dat hy vir Paulus na Jerusalem moet bring. Maar die priesterleiers en die Jode het 'n geheime plan gemaak, hulle wou mense stuur wat langs die pad moet wegkruip en wat dan vir Paulus moet doodmaak. Maar Festus het gesê dat Paulus in Sesarea in die tronk moet bly. Festus het ook gesê dat hy gou na Sesarea sal teruggaan. Hy het gesê: “Dan kan julle leiers saam met my na Sesarea gaan, en as Paulus iets verkeerd gedoen het, dan kan julle hom beskuldig.” Festus het nog omtrent ag of tien dae in Jerusalem gebly en toe het hy teruggegaan na Sesarea. Die volgende dag het hy op die regterstoel gaan sit en vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal. Die soldate het vir Paulus gebring en toe het die Jode wat van Jerusalem gekom het, rondom hom gaan staan. Hulle het vir Paulus beskuldig en hulle het baie slegte dinge teen hom gesê, maar hulle kon dit nie bewys nie. En Paulus het gesê dat hy onskuldig is. Hy het gesê: “Ek het niks gedoen teen die wette van die Jode nie, ook nie teen die tempel in Jerusalem nie, en ook nie teen die keiser nie.” Maar Festus wou iets goed doen vir die Jode en hy het vir Paulus gevra: “Wil jy na Jerusalem gaan sodat ek jou daar kan oordeel oor hierdie sake?” Maar Paulus het geantwoord: “Nee, ek wil voor die regterstoel van die keiser in Rome gaan staan, die keiser moet my oordeel. Ek het niks verkeerd gedoen aan die Jode nie. Jy weet dit baie goed. As ek iets verkeerd gedoen het sodat ek moet sterf, dan moet die keiser my straf en hy moet my laat doodmaak. Maar as die Jode my beskuldig het en ek is onskuldig, dan mag niemand my vir die Jode gee sodat hulle met my kan doen wat hulle wil nie. Nee, ek wil voor die regterstoel van die keiser gaan staan, die keiser moet my oordeel!” Festus het eers met sy raadgewers hieroor gepraat. Toe het hy vir Paulus gesê: “Jy het gevra om voor die regterstoel van die keiser te staan. Jy sal na die keiser toe gaan en jy sal voor sy regterstoel staan.” Ná 'n paar dae het koning Agrippa en sy vrou Bernice in die stad Sesarea aangekom om vir Festus te groet en welkom te sê. Koning Agrippa en Bernice was lank daar, en Festus het vir die koning vertel wat met Paulus gebeur het. Hy het gesê: “Toe Feliks weggegaan het, het hy hier 'n man in die tronk gelos. Toe ek in Jerusalem was, het die priesterleiers en die ouderlinge vir my vertel van die man, en hulle het gevra dat ek hom moet oordeel en moet sê hy is skuldig. Maar ek het vir hulle gesê die Romeine doen dit nooit nie. Die Romeine maak eers seker dat iemand skuldig is en dan gee hulle hom vir die mense sodat hulle hom kan oordeel. Wanneer mense sê iemand is skuldig, dan moet daardie man hulle kan sien en kan hoor wat hulle sê, en dán moet hy sê hoekom hy nie skuldig is nie. Toe het die Jode hier in Sesarea na my toe gekom. Ek het dadelik die volgende dag op die regterstoel gaan sit en vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus gaan haal. Die Jode het opgestaan en hulle het hom beskuldig. Ek het gedink hulle sal vertel van die slegte dinge wat hy gedoen het, maar hulle het niks slegte dinge teen hom gesê nie. Hulle het met hom gestry oor dinge van hulle eie godsdiens, en oor iemand wat dood is, sy naam is Jesus, maar Paulus het gesê Jesus lewe weer. Ek het nie geweet hoe om vrae oor daardie dinge te vra nie. Daarom het ek vir Paulus gevra of hy na Jerusalem wil gaan sodat ek hom daar kan oordeel oor hierdie sake. Maar Paulus het gesê hy wil in die tronk bly en hy wil na die keiser toe gaan sodat die keiser kan besluit of hy skuldig is. Daarom het ek gesê hy moet in die tronk bly totdat ek hom na die keiser toe kan stuur.”

HANDELINGE 25:1-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

FESTUS het dan in die provinsie gekom en ná drie dae van Cesaréa opgegaan na Jerusalem. En die hoëpriester en die vernaamstes van die Jode het Paulus by hom aangeklaag en by hom aangedring en gevra, as 'n guns teen Paulus, dat hy hom na Jerusalem moes laat haal; terwyl hulle intussen 'n hinderlaag voorberei het om hom op die weg om te bring. Maar Festus het geantwoord dat Paulus in Cesaréa bewaak word en dat hy self spoedig daarheen sou reis. Laat dan dié onder julle, sê hy, wat bevoeg is, saamgaan, en as daar iets verkeerds in hierdie man is, hom beskuldig. En nadat hy nie meer as tien dae onder hulle deurgebring het nie, het hy na Cesaréa afgegaan en die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat Paulus voorgebring moes word. En toe hy verskyn, het die Jode wat van Jerusalem afgekom het, rondom hom gestaan en baie en swaar beskuldiginge teen Paulus ingebring wat hulle nie kon bewys nie, terwyl hy tot sy verdediging gesê het: Ek het niks teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie. Maar omdat Festus aan die Jode 'n guns wou bewys, het hy geantwoord en vir Paulus gesê: Wil jy na Jerusalem opgaan en daar voor my oor hierdie dinge teregstaan? Toe sê Paulus: Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word. Aan die Jode het ek geen onreg gedoen nie, soos u ook baie goed weet. Want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie. Maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle by wyse van guns oorlewer nie. Ek beroep my op die keiser! Toe antwoord Festus, nadat hy met die Raad gespreek het: Op die keiser het jy jou beroep — na die keiser sal jy gaan! EN ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet. En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is 'n man deur Felix as gevangene agtergelaat, teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, 'n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het. En ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens by wyse van guns aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie. Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man voor te bring. Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie, maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor 'n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe. En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan; maar toe Paulus in beroep gegaan het om in bewaring te bly vir die beslissing van die keiser, het ek bevel gegee dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.

HANDELINGE 25:1-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Drie dae nadat Festus in die provinsie aangekom het, het hy van Caesarea af na Jerusalem opgegaan. Daar het die leierpriesters en die Joodse leiers 'n aanklag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het 'n beroep op hom gedoen en hom die guns gevra om Paulus na Jerusalem te laat haal, aangesien hulle 'n hinderlaag beplan het om hom onderweg dood te maak. Festus het egter geantwoord dat Paulus in Caesarea in aanhouding sou bly, maar dat hyself spoedig daarheen sou vertrek. “Laat diegene onder julle wat bevoeg is, dan saamgaan,” het hy gesê, “en laat hulle hom aankla as daar enigiets onwettigs by hierdie man te vinde is.” Hy het nie langer as agt tot tien dae by hulle gebly nie, en toe na Caesarea gegaan. Die volgende dag het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus gehaal word. Toe Paulus verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en baie en ernstige aanklagte teen hom ingebring, wat hulle nie kon bewys nie. Paulus het homself toe verdedig: “Ek het niks verkeerds gedoen nie, nie teen die wet van die Jode, of teen die •tempel, of teen die keiser nie.” Maar Festus wou die Jode 'n guns bewys en het Paulus geantwoord: “Wil jy opgaan na Jerusalem en daar voor my verhoor word oor hierdie dinge?” Paulus het egter geantwoord: “Voor die keiser se regbank staan ek tereg, en dit is waar ek verhoor moet word. Ek het nie die Jode veronreg nie, soos u self ook baie goed weet. As ek wel oortree het en iets gedoen het wat die dood verdien, probeer ek nie die dood vermy nie. Maar as daar niks steek in die dinge waarvan hulle my aankla nie, kan niemand my aan hulle oorgee nie. Ek beroep my op die keiser!” Nadat Festus met sy raad samesprekings gevoer het, het hy verklaar: “Op die keiser het jy jou beroep; na die keiser sal jy gaan!” Ná verloop van 'n paar dae het koning Agrippa en Bernice in Caesarea aangekom om aan Festus 'n beleefdheidsbesoek te bring. Aangesien hulle 'n hele paar dae daar deurgebring het, het Festus Paulus se saak aan die koning voorgelê en gesê: “Hier is 'n man wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. Toe ek na Jerusalem gegaan het, het die leierpriesters en die familiehoofde van die Jode aanklagte teen hom ingedien en versoek dat hy veroordeel word. Ek het hulle geantwoord dat dit nie 'n Romeinse gebruik is om enige mens oor te lewer voordat die aangeklaagde die geleentheid gekry het om hom van aangesig tot aangesig voor sy aanklaers te verdedig teen die beskuldiging nie. Toe hulle dus hier bymekaargekom het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en beveel dat die man laat haal word. Die aanklaers het opgestaan, maar geen beskuldiging van die soort misdrywe wat ek verwag het, teen hom ingebring nie. Hulle het wel 'n aantal twisvrae aan hom gestel oor hulle godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is en van wie Paulus beweer dat Hy leef. Omdat ek nie raad geweet het met die ondersoek na hierdie sake nie, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan om daar op hierdie aanklagte tereg te staan. Maar aangesien Paulus hom daarop beroep het om in aanhouding te bly vir 'n beslissing deur Sy Majesteit, het ek beveel dat hy aangehou word totdat ek hom na die keiser kan stuur.”

HANDELINGE 25:1-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe Festus in die provinsie gekom het, het hy ná drie dae van Cesaréa opgevaar na Jerusalem. Toe het die hoëpriester en die owerste van die Jode hom teen Paulus ingelig en hom gesmeek: En hy het guns teen hom begeer, dat hy hom na Jerusalem sou laat haal terwyl hy op die pad wag om hom dood te maak. Maar Festus het geantwoord dat Paulus in Cesaréa aangehou moes word en dat hy self binnekort daarheen sou vertrek. Laat hulle dan, sê hy, wat onder julle kan, saam met my aftrek en hierdie man aankla as daar enige goddeloosheid in hom is. En nadat hy meer as tien dae onder hulle vertoef het, het hy afgegaan na Cesaréa; en die volgende dag het hy op die regterstoel gesit en beveel dat Paulus gebring moes word. En toe hy aankom, het die Jode wat van Jerusalem afgekom het, rondom gestaan en baie en ernstige klagtes teen Paulus gelê wat hulle nie kon bewys nie. Terwyl hy vir homself geantwoord het: Nóg teen die wet van die Jode, nóg teen die tempel of nog teen die keiser, het ek hoegenaamd iets beledig nie. Maar Festus, wat gewillig was om die Jode 'n plesier te doen, antwoord Paulus en sê: Sal jy optrek na Jerusalem en daar oor hierdie dinge voor my aangesig geoordeel word? Toe sê Paulus: Ek staan by die regterstoel van die keiser, waar ek geoordeel behoort te word; aan die Jode het ek geen onreg aangedoen nie, soos jy baie goed weet. Want as ek 'n oortreder is of iets gepleeg het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterf nie; Ek doen 'n beroep op Caesar. Toe het Festus, nadat hy met die Raad gepraat het, geantwoord: Het jy 'n beroep op die keiser gedoen? na die keiser moet jy gaan. En ná sekere dae het koning Agrippa en Bernice na Cesaréa gekom om Festus te groet. En toe hulle baie dae daar was, het Festus die saak van Paulus aan die koning bekend gemaak en gesê: Daar is 'n sekere man wat deur Felix in boeie agtergelaat is. Van wie, toe ek in Jerusalem was, die owerpriesters en die oudstes van die Jode my in kennis gestel het, omdat hulle 'n oordeel teen hom wou hê. Aan wie ek geantwoord het: Dit is nie die manier van die Romeine om iemand aan die dood oor te gee nie, voordat hy wat beskuldig word, die beskuldigers van aangesig tot aangesig het en vergunning het om vir homself te antwoord oor die misdaad wat teen hom gelê is. Daarom, toe hulle hier aankom, het ek die volgende dag sonder enige uitstel op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat die man gebring moes word. Teen wie die aanklaers opgestaan het, hulle geen beskuldiging gebring het van sulke dinge soos ek gedink het nie. Maar hulle het sekere vrae teen hom gehad oor hulle eie bygeloof en oor een Jesus wat dood was, van wie Paulus gesê het dat hy lewe. En omdat ek aan sulke vrae getwyfel het, het ek hom gevra of hy na Jerusalem sou gaan, en daar oor hierdie sake geoordeel word. Maar toe Paulus 'n beroep gedoen het om voor die verhoor van Augustus gereserveer te word, het ek beveel dat hy bewaar moes word totdat ek hom na die keiser kon stuur.