Handelinge 25:1-21

Handelinge 25:1-21 AFR20

Drie dae nadat Festus in die provinsie aangekom het, het hy van Caesarea af na Jerusalem opgegaan. Daar het die leierpriesters en die Joodse leiers 'n aanklag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het 'n beroep op hom gedoen en hom die guns gevra om Paulus na Jerusalem te laat haal, aangesien hulle 'n hinderlaag beplan het om hom onderweg dood te maak. Festus het egter geantwoord dat Paulus in Caesarea in aanhouding sou bly, maar dat hyself spoedig daarheen sou vertrek. “Laat diegene onder julle wat bevoeg is, dan saamgaan,” het hy gesê, “en laat hulle hom aankla as daar enigiets onwettigs by hierdie man te vinde is.” Hy het nie langer as agt tot tien dae by hulle gebly nie, en toe na Caesarea gegaan. Die volgende dag het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus gehaal word. Toe Paulus verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en baie en ernstige aanklagte teen hom ingebring, wat hulle nie kon bewys nie. Paulus het homself toe verdedig: “Ek het niks verkeerds gedoen nie, nie teen die wet van die Jode, of teen die •tempel, of teen die keiser nie.” Maar Festus wou die Jode 'n guns bewys en het Paulus geantwoord: “Wil jy opgaan na Jerusalem en daar voor my verhoor word oor hierdie dinge?” Paulus het egter geantwoord: “Voor die keiser se regbank staan ek tereg, en dit is waar ek verhoor moet word. Ek het nie die Jode veronreg nie, soos u self ook baie goed weet. As ek wel oortree het en iets gedoen het wat die dood verdien, probeer ek nie die dood vermy nie. Maar as daar niks steek in die dinge waarvan hulle my aankla nie, kan niemand my aan hulle oorgee nie. Ek beroep my op die keiser!” Nadat Festus met sy raad samesprekings gevoer het, het hy verklaar: “Op die keiser het jy jou beroep; na die keiser sal jy gaan!” Ná verloop van 'n paar dae het koning Agrippa en Bernice in Caesarea aangekom om aan Festus 'n beleefdheidsbesoek te bring. Aangesien hulle 'n hele paar dae daar deurgebring het, het Festus Paulus se saak aan die koning voorgelê en gesê: “Hier is 'n man wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. Toe ek na Jerusalem gegaan het, het die leierpriesters en die familiehoofde van die Jode aanklagte teen hom ingedien en versoek dat hy veroordeel word. Ek het hulle geantwoord dat dit nie 'n Romeinse gebruik is om enige mens oor te lewer voordat die aangeklaagde die geleentheid gekry het om hom van aangesig tot aangesig voor sy aanklaers te verdedig teen die beskuldiging nie. Toe hulle dus hier bymekaargekom het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en beveel dat die man laat haal word. Die aanklaers het opgestaan, maar geen beskuldiging van die soort misdrywe wat ek verwag het, teen hom ingebring nie. Hulle het wel 'n aantal twisvrae aan hom gestel oor hulle godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is en van wie Paulus beweer dat Hy leef. Omdat ek nie raad geweet het met die ondersoek na hierdie sake nie, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan om daar op hierdie aanklagte tereg te staan. Maar aangesien Paulus hom daarop beroep het om in aanhouding te bly vir 'n beslissing deur Sy Majesteit, het ek beveel dat hy aangehou word totdat ek hom na die keiser kan stuur.”