2 KRONIEKE 26:4-16

2 KRONIEKE 26:4-16 AFR83

Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy pa gevolg. Hy het na die wil van God gevra gedurende die hele lewe van Sagaria, wat insig in die openbaring van God gehad het. In die tyd dat Ussia na die wil van die Here gevra het, het God dit goed laat gaan met hom. Hy het 'n veldtog onderneem teen die Filistyne, en hy het die mure om Gat, Jabne en Asdod afgebreek en stede gebou in die omgewing van Asdod en in die res van die Filistynse gebied. God het hom gehelp teen die Filistyne, teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. Die Ammoniete het vir Ussia geskenke gebring, en sy naam het tot by Egipte bekend geword, so het sy mag toegeneem. Ussia het in Jerusalem stewige forte gebou by die Hoekpoort, by die Dalpoort en by die draai in die muur. Ook in die weiveld het hy forte gebou en baie putte laat grawe, want hy het baie vee gehad, in die Laeveld en op Platorand. In die berge en op die Karmel het hy mense gehad wat sy lande en sy wingerde bewerk het. Hy was lief vir die grond. Ussia het 'n leër gehad wat in afdelings uitgetrek het. Die telling en indeling is gedoen deur die sekretaris Jeïel en die amptenaar Maäseja, onder toesig van Gananja, 'n beampte van die koning. Daar was altesaam twee duisend ses honderd familiehoofde in bevel van die soldate. Die leër onder hulle bevel was drie honderd en sewe duisend vyf honderd, kragtige vegters op wie die koning kon reken teen 'n vyand. Ussia het hulle, die hele leër, uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en klippe vir hulle slingervelle. In Jerusalem het hy uitvindsels gehad wat deur slim mense ontwerp is en wat bo van die forte en van die hoeke af pyle en groot klippe kon afskiet. Sy roem het wyd gestrek. Hy het op 'n wonderbare wyse hulp ontvang en hy het 'n magtige man geword. Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierookoffers op die wierookaltaar te bring.