2 KRONIEKE 26:4-16

2 KRONIEKE 26:4-16 NLV

Hy het gedoen wat reg was vir die HERE, net soos sy pa Amasia gedoen het. Gedurende die tyd toe Sagaria hom onderrig het in die eerbied vir God, het Ussia God se wil gesoek. So lank as wat hy die HERE se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee. Hy het oorlog teen die Filistyne verklaar en die mure van Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en in ander dele van die Filistynse gebied gebou. God het hom gehelp in die oorlog teen die Filistyne en ook in sy oorloë teen die Arabiere van Gur-Baäl en die Meüniete. Die Ammoniete het aan Ussia belasting betaal. Sy roem het selfs tot by Egipte versprei, want hy het baie magtig geword. Ussia het versterkte torings in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die draai in die muur opgerig. Hy het ook torings in die woestyn opgerig en baie putte gegrawe, want hy het baie vee in die Laeveld van Juda en die vlaktes gehad. Hy was ook lief vir die grond. Daarom het hy baie mense gehad wat sy plase en wingerde op die plato en in die vrugbare valleie versorg het. Ussia het ’n leër gehad van ervare krygsmanne wat in afdelings uitgetrek het. Hulle getalle is bepaal deur Jeïel, die sekretaris van die leër en sy assistent Maäseja. Hulle was onder die leiding van Gananja, een van die koning se offisiere. Daar was 2 600 familiehoofde in bevel van die soldate. Die leër onder hulle bevel het bestaan uit 307 500 manskappe, almal opgelei vir oorlog. Dit was ’n kragtige mag waarop die koning teen enige vyand kon staatmaak. Ussia het die hele leër voorsien van skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë en slingervelle. Hy het in Jerusalem bedrewe manne gehad wat uitvindsels gemaak het waarmee pyle en groot klippe bo van die torings en die hoeke van die muur af geskiet kon word. Sy roem het ver en wyd versprei, want hy het wonderlike hulp ontvang en het só baie magtig geword. Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die HERE sy God gesondig deur in die tempel van die HERE te gaan en self wierook op die altaar te brand.