2 KRONIEKE 26:4-16

2 KRONIEKE 26:4-16 Bybel vir almal (ABA)

Ussia het dinge gedoen waarvan die Here hou, hy het gedoen soos sy pa Amasia. Ussia het probeer om God te dien terwyl Sagaria gelewe het. Sagaria het vir Ussia geleer om te verstaan wat God vir hom wys, en terwyl Ussia die Here gedien het, het God dit goed laat gaan met hom. Ussia het oorlog gaan maak teen die Filistyne. Hy het die mure van die stede Gat, Jabne en Asdod afgebreek en hy het ander stede gebou by Asdod en in die land van die Filistyne. God het hom gehelp teen die Filistyne en teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het en teen die Meüniete. Die Ammoniete het belasting betaal aan Ussia, en al die mense tot by die grens van Egipte het geweet van hom, want sy leër het baie sterk geword. Ussia het sterk torings gebou in Jerusalem by die poort op die hoek en by die poort in die vallei, en by die plek waar die muur draai. Hy het ook in die woestyn torings gebou en hy het baie watergate uitgekap, want hy het baie diere gehad, in die Laeveld en op die Hoëveld. Hy het daarvan gehou om te boer, hy het mense gehad wat in sy grond en sy wingerde gewerk het in die berge en in die valleie. Ussia het 'n leër gehad van manne wat goed oorlog kon maak, die soldate was in groepe. Die sekretaris Jeüel en die voorman Maäseja het die manne getel en in groepe ingedeel. Gananja was hulle leier, Gananja was een van die amptenare van die koning, hy het gekyk dat hulle alles reg doen. Die familiehoofde van die soldate was almal saam 2 600. Hulle was die offisiere van 'n leër van 307 500 manne wat goed oorlog kon maak. Hierdie manne kon die koning help teen die vyand. Ussia het wapens gegee vir al die manne in die leër. Hy het vir hulle skilde, spiese, helms, harnasse, pyl en boë, en klippe vir die slingervelle gegee. Ussia het in Jerusalem groot wapens gehad wat sy slim mense uitgevind en gemaak het. Die groot wapens het op die torings en die hoeke van die stad gestaan en hulle kon pyle en groot klippe skiet. Die Here het vir Ussia wonderlik gehelp, en Ussia se leër het sterk geword. Al die mense het geweet van hom. Maar toe hy so sterk en belangrik word, het hy hoogmoedig geword, en daarom het dit later sleg gegaan met hom. Hy het ontrou geword aan sy God die Here. Hy het in die tempel ingegaan om wierook te brand op die wierook-altaar.

2 KRONIEKE 26:4-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Amásia gedoen het. En hy het God gedurig gesoek in die dae van Sagaría, wat onderrig gegee het in die vrees van God. En in die dae dat hy die HERE gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak. En hy het uitgetrek en teen die Filistyne geveg en die muur van Gat en die muur van Jabne en die muur van Asdod afgebreek, en stede gebou by Asdod en onder die Filistyne. En God het hom gehelp teen die Filistyne en teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. Ook die Ammoniete het aan Ussía belasting betaal; en sy roem is verbrei tot by die ingang na Egipte, want hy was uitermate magtig. Verder het Ussía torings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort en by die Dalpoort en by die Winkelhaak, en hy het hulle versterk. Hy het ook in die woestyn torings gebou en baie putte uitgekap; want hy het baie vee gehad, in die Laeveld sowel as in die Gelykveld, landbouers en wynboere op die berge en in die tuingronde, want hy was 'n liefhebber van die landbou. Verder het Ussía 'n leër gehad wat oorlog kon voer, wat in afdelings op kommando moes uittrek volgens die getal van hulle monstering deur Jeï-el, die skrywer, en Maäséja, die opsigter, onder leiding van Hanánja, een van die owerstes van die koning. Die hele getal van die familiehoofde, van die dapper helde, was tweeduisend-seshonderd. En onder hulle bevel was 'n leërmag van driehonderd-en-seweduisend-vyfhonderd wat met volle krag oorlog kon voer om die koning te help teen die vyand. En Ussía het vir hulle, vir die hele kommando, skilde aangeskaf en spiese en helms en pantsers en boë en slingerstene. Ook het hy in Jerusalem oorlogswerktuie gemaak, 'n uitvinding van 'n kunstenaar, wat op die torings en op die hoeke moes staan om met pyle en groot klippe te skiet; en sy roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het. Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die HERE sy God; want hy het in die tempel van die HERE gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar.

2 KRONIEKE 26:4-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy pa gevolg. Hy het na die wil van God gevra gedurende die hele lewe van Sagaria, wat insig in die openbaring van God gehad het. In die tyd dat Ussia na die wil van die Here gevra het, het God dit goed laat gaan met hom. Hy het 'n veldtog onderneem teen die Filistyne, en hy het die mure om Gat, Jabne en Asdod afgebreek en stede gebou in die omgewing van Asdod en in die res van die Filistynse gebied. God het hom gehelp teen die Filistyne, teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. Die Ammoniete het vir Ussia geskenke gebring, en sy naam het tot by Egipte bekend geword, so het sy mag toegeneem. Ussia het in Jerusalem stewige forte gebou by die Hoekpoort, by die Dalpoort en by die draai in die muur. Ook in die weiveld het hy forte gebou en baie putte laat grawe, want hy het baie vee gehad, in die Laeveld en op Platorand. In die berge en op die Karmel het hy mense gehad wat sy lande en sy wingerde bewerk het. Hy was lief vir die grond. Ussia het 'n leër gehad wat in afdelings uitgetrek het. Die telling en indeling is gedoen deur die sekretaris Jeïel en die amptenaar Maäseja, onder toesig van Gananja, 'n beampte van die koning. Daar was altesaam twee duisend ses honderd familiehoofde in bevel van die soldate. Die leër onder hulle bevel was drie honderd en sewe duisend vyf honderd, kragtige vegters op wie die koning kon reken teen 'n vyand. Ussia het hulle, die hele leër, uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en klippe vir hulle slingervelle. In Jerusalem het hy uitvindsels gehad wat deur slim mense ontwerp is en wat bo van die forte en van die hoeke af pyle en groot klippe kon afskiet. Sy roem het wyd gestrek. Hy het op 'n wonderbare wyse hulp ontvang en hy het 'n magtige man geword. Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierookoffers op die wierookaltaar te bring.

2 KRONIEKE 26:4-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, net soos sy vader Amasia gedoen het. Hy het God altyd gesoek in die tyd van Sagaria, die een wat hom insig gegee het in ontsag vir God. So lank as wat hy die HERE gesoek het, het God hom sukses laat behaal. Hy het uitgetrek, teen die Filistyne geveg, en bresse geslaan in die stadsmure van Gat, Jabne en Asdod. Hy het dorpe gebou by Asdod en tussen die Filistyne. God het hom gehelp teen die Filistyne, die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. Die Ammoniete moes aan Ussia belasting betaal. Sy roem het so ver as die grens van Egipte gestrek, want hy het baie magtig geword. Ussia het wagtorings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die Hoek; en hy het dit versterk. Hy het wagtorings in die woestyn gebou en baie opgaarputte gegrawe, want hy het baie vee gehad in sowel die Sjefela as op die vlakte. Hy het plaaswerkers en wingerdwerkers in die bergland en op vrugbare grond gehad, want hy was lief vir landbou. Ussia het 'n leër gehad wat oorlog kon voer, wat as troepe op 'n veldtog kon uittrek, ooreenkomstig die getal van hulle monstering deur Jeïel, die sekretaris, en Maäseja, die opsiener onder bevel van Gananja, een van die koning se bevelvoerders. Die volle getal van die familiehoofde, van die dapper krygers, was tweeduisend seshonderd. Onder hulle bevel was daar 'n leër van driehonderd-en-seweduisend vyfhonderd wat met groot slaankrag oorlog kon voer om die koning by te staan teen die vyand. Ussia het hulle, die hele leër, voorsien van kleinskilde, steekspiese, helms, harnasse, boë en klippe vir slingervelle. In Jerusalem het hy oorlogstuig, die uitvindsel van deskundiges, gemaak vir die torings en hoeke van die stadsmuur om pyle en groot klippe te skiet. Sy roem het ver versprei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy so sterk was. Maar toe hy magtig geword het, het sy hart hoogmoedig geraak, tot sy eie ondergang. Hy was ontrou aan die HERE sy God en het die •tempel van die HERE binnegegaan om reukwerk te verbrand op die altaar vir die reukwerk.

2 KRONIEKE 26:4-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, net soos sy vader Amásia gedoen het. En hy het God gesoek in die dae van Sagaria, wat verstand gehad het in die gesigte van God; en so lank as wat hy die HERE gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak. En hy het uitgetrek en teen die Filistyne oorlog gevoer en die muur van Gat en die muur van Jabne en die muur van Asdod afgebreek en stede rondom Asdod en tussen die Filistyne gebou. En God het hom gehelp teen die Filistyne en teen die Arabiere wat in Gurbaäl gewoon het, en die Mehuniete. En die Ammoniete het geskenke aan Ussia gegee, en sy naam het versprei tot by die ingang van Egipte; want hy het homself uitermate versterk. Verder het Ussia in Jerusalem torings gebou by die Hoekpoort en by die Dalpoort en by die draai van die muur en dit versterk. Hy het ook torings in die woestyn gebou en baie putte gegrawe, want hy het baie vee gehad, sowel in die laagte as in die vlaktes; ook landbouers en wingerdboere op die berge en op Karmel, want hy was lief vir landbou. Verder het Ussia 'n leër van vegters gehad wat met bendes na die oorlog uitgetrek het, volgens die getal van hulle verslag deur die skrifgeleerde Jeïel en die owerste Maäséja, onder leiding van Hanánja, een van die owerstes van die koning. Die hele getal van die familiehoofde van die dapper helde was twee duisend ses honderd. En onder hulle hand was 'n leër, drie honderd duisend sewe duisend vyf honderd, wat oorlog gevoer het met groot mag om die koning te help teen die vyand. En Ussia het vir hulle in die hele leër skilde en spiese en helms en berge en boë en slingers berei om klippe te gooi. En hy het in Jerusalem masjiene gemaak, uitgedink deur geslepe manne, om op die torings en op die skanse te wees, om pyle en groot klippe mee te skiet. En sy naam het ver versprei; want hy is wonderlik gehelp totdat hy sterk was. Maar toe hy sterk was, was sy hart verhef tot sy verderf; want hy het oortree teen die HERE sy God en het in die tempel van die HERE ingegaan om op die reukaltaar reukwerk te laat opgaan.

2 KRONIEKE 26:4-16 Die Boodskap (DB)

Die Here was tevrede met wat Ussia gedoen het, net soos met sy pa Amasia. Sagaria het vir Ussia baie van God geleer. So lank as wat Ussia die Here gedien het, het God aan hom sukses gegee. Hy het teen die Filistyne gaan oorlog maak en die mure van die stede Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en die res van Filistea gebou. God het hom nie net in sy oorloë teen die Filistyne gehelp nie, maar ook toe hy teen die Arabiere van Gur-Baäl en teen die Meüniete geveg het. Selfs die Ammoniete moes aan hom belasting betaal. Hy was later tot in Egipte bekend, want hy was teen hierdie tyd ’n baie magtige koning. Ussia het torings in Jerusalem gebou by die Hoekpoort, die Valleipoort en by die hoek in die muur. Hy het die torings soos forte versterk. Hy het ook forte in die woestyn gebou en baie waterputte uitgekap. Dit was nodig omdat hy groot kuddes vee in die heuwelland van Juda en op die vlaktes gehad het. Hy was lief vir boerdery en het baie mense gehad wat op sy plase en wingerde teen die heuwels en in die vrugbare valleie gewerk het. Ussia se leër was goed georganiseerd en goed opgelei. Hulle was reg om enige tyd oorlog te maak, want hulle is in afdelings ingedeel deur die leërsekretaris, Jeïel, en die stafoffisier Maäseja. Hulle twee het onder die gesag gestaan van Ganaja, ’n amptenaar van die koning. Die afdelings geoefende soldate het onder bevel van 2 600 familiehoofde gestaan. Die leër het uit 307 500 uitgesoekte soldate bestaan. Die koning kon op hulle reken wanneer hy teen enige vyand moes veg. Ussia het die leër uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en slingerklippe. Hy het ook goeie veiligheidsraamwerke gehad wat op die torings en die hoeke van Jerusalem opgerig is. Van daar af kon hulle pyle afskiet en groot klippe op aanvallers afgooi. Ussia het wyd en syd bekend geword. Deur God se goedheid het hy baie magtig geword. Toe Ussia so magtig geword het, was hy so vol van homself dat dit tot sy val gelei het. Hy het arrogant teenoor die Here sy God opgetree. Dit het gebeur toe hy op ’n keer in die tempel van die Here ingegaan het om sommer self wierook op die altaar te gaan brand.

2 KRONIEKE 26:4-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hy het gedoen wat reg was vir die HERE, net soos sy pa Amasia gedoen het. Gedurende die tyd toe Sagaria hom onderrig het in die eerbied vir God, het Ussia God se wil gesoek. So lank as wat hy die HERE se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee. Hy het oorlog teen die Filistyne verklaar en die mure van Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en in ander dele van die Filistynse gebied gebou. God het hom gehelp in die oorlog teen die Filistyne en ook in sy oorloë teen die Arabiere van Gur-Baäl en die Meüniete. Die Ammoniete het aan Ussia belasting betaal. Sy roem het selfs tot by Egipte versprei, want hy het baie magtig geword. Ussia het versterkte torings in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die draai in die muur opgerig. Hy het ook torings in die woestyn opgerig en baie putte gegrawe, want hy het baie vee in die Laeveld van Juda en die vlaktes gehad. Hy was ook lief vir die grond. Daarom het hy baie mense gehad wat sy plase en wingerde op die plato en in die vrugbare valleie versorg het. Ussia het ’n leër gehad van ervare krygsmanne wat in afdelings uitgetrek het. Hulle getalle is bepaal deur Jeïel, die sekretaris van die leër en sy assistent Maäseja. Hulle was onder die leiding van Gananja, een van die koning se offisiere. Daar was 2 600 familiehoofde in bevel van die soldate. Die leër onder hulle bevel het bestaan uit 307 500 manskappe, almal opgelei vir oorlog. Dit was ’n kragtige mag waarop die koning teen enige vyand kon staatmaak. Ussia het die hele leër voorsien van skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë en slingervelle. Hy het in Jerusalem bedrewe manne gehad wat uitvindsels gemaak het waarmee pyle en groot klippe bo van die torings en die hoeke van die muur af geskiet kon word. Sy roem het ver en wyd versprei, want hy het wonderlike hulp ontvang en het só baie magtig geword. Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die HERE sy God gesondig deur in die tempel van die HERE te gaan en self wierook op die altaar te brand.