Hy het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, net soos sy vader Amasia gedoen het. Hy het God altyd gesoek in die tyd van Sagaria, die een wat hom insig gegee het in ontsag vir God. So lank as wat hy die HERE gesoek het, het God hom sukses laat behaal.
Hy het uitgetrek, teen die Filistyne geveg, en bresse geslaan in die stadsmure van Gat, Jabne en Asdod. Hy het dorpe gebou by Asdod en tussen die Filistyne. God het hom gehelp teen die Filistyne, die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. Die Ammoniete moes aan Ussia belasting betaal. Sy roem het so ver as die grens van Egipte gestrek, want hy het baie magtig geword. Ussia het wagtorings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die Hoek; en hy het dit versterk. Hy het wagtorings in die woestyn gebou en baie opgaarputte gegrawe, want hy het baie vee gehad in sowel die Sjefela as op die vlakte. Hy het plaaswerkers en wingerdwerkers in die bergland en op vrugbare grond gehad, want hy was lief vir landbou.
Ussia het 'n leër gehad wat oorlog kon voer, wat as troepe op 'n veldtog kon uittrek, ooreenkomstig die getal van hulle monstering deur Jeïel, die sekretaris, en Maäseja, die opsiener onder bevel van Gananja, een van die koning se bevelvoerders. Die volle getal van die familiehoofde, van die dapper krygers, was tweeduisend seshonderd. Onder hulle bevel was daar 'n leër van driehonderd-en-seweduisend vyfhonderd wat met groot slaankrag oorlog kon voer om die koning by te staan teen die vyand. Ussia het hulle, die hele leër, voorsien van kleinskilde, steekspiese, helms, harnasse, boë en klippe vir slingervelle. In Jerusalem het hy oorlogstuig, die uitvindsel van deskundiges, gemaak vir die torings en hoeke van die stadsmuur om pyle en groot klippe te skiet. Sy roem het ver versprei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy so sterk was.
Maar toe hy magtig geword het, het sy hart hoogmoedig geraak, tot sy eie ondergang. Hy was ontrou aan die HERE sy God en het die •tempel van die HERE binnegegaan om reukwerk te verbrand op die altaar vir die reukwerk.