2 KRONIEKE 26:14-21

2 KRONIEKE 26:14-21 AFR83

Ussia het hulle, die hele leër, uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en klippe vir hulle slingervelle. In Jerusalem het hy uitvindsels gehad wat deur slim mense ontwerp is en wat bo van die forte en van die hoeke af pyle en groot klippe kon afskiet. Sy roem het wyd gestrek. Hy het op 'n wonderbare wyse hulp ontvang en hy het 'n magtige man geword. Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierookoffers op die wierookaltaar te bring. Die priester Asarja, met tagtig priestersoldate by hom, het agter koning Ussia aan gegaan en hom probeer keer en vir hom gesê: “Dit kom u nie toe om vir die Here wierookoffers te bring nie, Ussia! Om wierookoffers te bring, is die voorreg van die priesters, die nageslag van Aäron. Hulle is daartoe gewy. Gaan liewer uit die heiligdom uit. U matig u dinge aan, en u sal daarvoor geen waardering kry van God die Here nie.” Ussia het al die wierookpan in sy hand gehad om die offer te bring, en hy het briesend geword. Maar terwyl hy teen die priesters uitvaar, breek daar melaatsheid op sy voorkop uit voor die oë van die priesters daar in die huis van die Here, by die wierookaltaar. Toe die hoëpriester Asarja en al die ander priesters na hom kyk, is hy melaats op sy voorkop. Hulle het hom daar uitgedrywe, en hy was self haastig om weg te kom; die Here het hom met dié ramp getref. Koning Ussia was melaats tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gaan woon, melaats en verban uit die huis van die Here. Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die mense van die land geregeer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid