2 KRONIEKE 26:14-21

2 KRONIEKE 26:14-21 Bybel vir almal (ABA)

Ussia het wapens gegee vir al die manne in die leër. Hy het vir hulle skilde, spiese, helms, harnasse, pyl en boë, en klippe vir die slingervelle gegee. Ussia het in Jerusalem groot wapens gehad wat sy slim mense uitgevind en gemaak het. Die groot wapens het op die torings en die hoeke van die stad gestaan en hulle kon pyle en groot klippe skiet. Die Here het vir Ussia wonderlik gehelp, en Ussia se leër het sterk geword. Al die mense het geweet van hom. Maar toe hy so sterk en belangrik word, het hy hoogmoedig geword, en daarom het dit later sleg gegaan met hom. Hy het ontrou geword aan sy God die Here. Hy het in die tempel ingegaan om wierook te brand op die wierook-altaar. Die priester Asarja het hom gevolg, en saam met Asarja was daar 80 belangrike priesters van die Here. Hulle het by koning Ussia kom staan en vir hom gesê: “Ussia, jy mag nie wierook brand vir die Here nie, net die priesters van die nageslag van Aäron is gewy om wierook te brand. Jy moet uitgaan uit die tempel, want jy het 'n verkeerde ding gedoen. God die Here sal sê jy mag dit nie doen nie.” Ussia was kwaad. Hy het die wierook-pan in sy hand gehad om die wierook te brand. En terwyl hy kwaad geword het vir die priesters, het hy melaats geword op sy voorkop. Dit het daar by die priesters in die tempel gebeur, by die wierook-altaar. Die hoëpriester Asarja en al die priesters het na Ussia gekyk, en hulle het gesien dat Ussia melaats is op sy voorkop. Hulle het hom vinnig uit die tempel geneem, en hy was self haastig om uit te gaan. Die Here het hom gestraf. Koning Ussia was melaats tot die dag toe hy gesterf het. Hy het apart in 'n huis gewoon, hy kon nie naby die tempel kom nie omdat hy melaats was. Sy seun Jotam was die hoof van die paleis en hy het regeer oor die mense in die land.

2 KRONIEKE 26:14-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Ussía het vir hulle, vir die hele kommando, skilde aangeskaf en spiese en helms en pantsers en boë en slingerstene. Ook het hy in Jerusalem oorlogswerktuie gemaak, 'n uitvinding van 'n kunstenaar, wat op die torings en op die hoeke moes staan om met pyle en groot klippe te skiet; en sy roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het. Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die HERE sy God; want hy het in die tempel van die HERE gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar. Maar die priester Asárja het hom gevolg en tagtig priesters van die HERE, flukse manne, saam met hom, en teen koning Ussía opgetree en aan hom gesê: Dit kom u nie toe, Ussía, om vir die HERE offerrook te laat opgaan nie, maar aan die priesters, seuns van Aäron, wat geheilig is om te offer. Gaan uit die heiligdom uit, want u het ontrou gehandel, en dit sal u van die kant van die HERE God nie tot eer strek nie. Maar Ussía het woedend geword; en terwyl hy, met die wierookpan in sy hand, woedend was op die priesters, slaan die melaatsheid op sy voorhoof uit voor die oë van die priesters, in die huis van die HERE langs die reukaltaar. Toe Asárja, die hoofpriester, en al die priesters na hom kyk en sien dat hy melaats was aan sy voorhoof, het hulle hom gou daarvandaan weggedrywe, en hy het ook self gou gemaak om weg te kom, want die HERE het hom aangetas. En koning Ussía was melaats tot die dag van sy dood toe, en hy het in 'n afgesonderde huis as melaatse gewoon, want hy was van die huis van die HERE uitgesluit; en sy seun Jotam, wat oor die paleis van die koning was, het die volk van die land geregeer.

2 KRONIEKE 26:14-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ussia het hulle, die hele leër, uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en klippe vir hulle slingervelle. In Jerusalem het hy uitvindsels gehad wat deur slim mense ontwerp is en wat bo van die forte en van die hoeke af pyle en groot klippe kon afskiet. Sy roem het wyd gestrek. Hy het op 'n wonderbare wyse hulp ontvang en hy het 'n magtige man geword. Maar toe hy eenmaal die mag het, het Ussia ingenome geword met homself, en dit was die begin van sy einde. Hy het aanmatigend teenoor die Here sy God opgetree: hy het in die tempel van die Here ingegaan om wierookoffers op die wierookaltaar te bring. Die priester Asarja, met tagtig priestersoldate by hom, het agter koning Ussia aan gegaan en hom probeer keer en vir hom gesê: “Dit kom u nie toe om vir die Here wierookoffers te bring nie, Ussia! Om wierookoffers te bring, is die voorreg van die priesters, die nageslag van Aäron. Hulle is daartoe gewy. Gaan liewer uit die heiligdom uit. U matig u dinge aan, en u sal daarvoor geen waardering kry van God die Here nie.” Ussia het al die wierookpan in sy hand gehad om die offer te bring, en hy het briesend geword. Maar terwyl hy teen die priesters uitvaar, breek daar melaatsheid op sy voorkop uit voor die oë van die priesters daar in die huis van die Here, by die wierookaltaar. Toe die hoëpriester Asarja en al die ander priesters na hom kyk, is hy melaats op sy voorkop. Hulle het hom daar uitgedrywe, en hy was self haastig om weg te kom; die Here het hom met dié ramp getref. Koning Ussia was melaats tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gaan woon, melaats en verban uit die huis van die Here. Sy seun Jotam het die paleis bestuur en oor die mense van die land geregeer.

2 KRONIEKE 26:14-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ussia het hulle, die hele leër, voorsien van kleinskilde, steekspiese, helms, harnasse, boë en klippe vir slingervelle. In Jerusalem het hy oorlogstuig, die uitvindsel van deskundiges, gemaak vir die torings en hoeke van die stadsmuur om pyle en groot klippe te skiet. Sy roem het ver versprei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy so sterk was. Maar toe hy magtig geword het, het sy hart hoogmoedig geraak, tot sy eie ondergang. Hy was ontrou aan die HERE sy God en het die •tempel van die HERE binnegegaan om reukwerk te verbrand op die altaar vir die reukwerk. Die priester Asarja het hom na binne gevolg. Saam met hom was daar tagtig priesters van die HERE, onverskrokke manne. Hulle het Ussia, die koning, teengestaan en vir hom gesê: “Dit is nie vir u, Ussia, beskore om reukwerk te laat brand vir die HERE nie, maar vir die priesters, die nageslag van Aäron, wat geheilig is om reukwerk te laat brand. Gaan uit die heiligdom uit, want u was ontrou! Dit sal u nie tot eer strek by die HERE God nie.” Ussia was onbeheersd kwaad. Terwyl hy met die pan met reukwerk in sy hand, gereed om reukwerk te laat brand, sy onbeheersde woede op die priesters uithaal, het 'n velsiekte daar voor die priesters, langs die altaar vir die reukwerk in die huis van die HERE, op sy voorkop uitgeslaan. Toe Asarja, die hoëpriester, en al die priesters na hom draai, het hy sowaar 'n velsiekte op sy voorkop! Hulle het hom inderhaas daar verwyder. Hy was self ook haastig om uit te gaan, omdat die HERE hom getref het. Koning Ussia het 'n velsiekte gehad tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gewoon, want hy was verban uit die huis van die HERE. Jotam, sy seun, het beheer gehad oor die koninklike paleis en het reg gespreek oor die volk van die land.

2 KRONIEKE 26:14-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Ussia het vir hulle in die hele leër skilde en spiese en helms en berge en boë en slingers berei om klippe te gooi. En hy het in Jerusalem masjiene gemaak, uitgedink deur geslepe manne, om op die torings en op die skanse te wees, om pyle en groot klippe mee te skiet. En sy naam het ver versprei; want hy is wonderlik gehelp totdat hy sterk was. Maar toe hy sterk was, was sy hart verhef tot sy verderf; want hy het oortree teen die HERE sy God en het in die tempel van die HERE ingegaan om op die reukaltaar reukwerk te laat opgaan. En die priester Asarja het agter hom ingegaan, en saam met hom tagtig priesters van die HERE, dapper manne. En hulle het koning Ussía teëgestaan en vir hom gesê: Dit kom nie toe aan jou, Ussía, om vir die HERE rook te laat opgaan nie, maar vir die priesters, die seuns van Aäron, wat geheilig is om reukwerk te brand; want jy het oortree; en dit sal nie tot eer van die HERE God wees nie. Toe was Ussia toornig, en hy het 'n wierookbak in sy hand gehad om reukwerk te laat opgaan; en terwyl hy kwaad was vir die priesters, het die melaatsheid selfs op sy voorhoof opgestaan voor die priesters in die huis van die HERE, van langs die reukaltaar. Toe As rja, die hoofpriester, en al die priesters hom aanskou, en kyk, hy was melaats op sy voorhoof, en hulle het hom daarvandaan uitgedryf; ja, hy het hom ook gehaas om uit te gaan, omdat die HERE hom geslaan het. En koning Ussía was melaats tot die dag van sy dood, en hy het in 'n verskeidenheid huise gewoon omdat hy melaats was; en sy seun Jotam was oor die koning se huis en oordeel oor die volk van die land.

2 KRONIEKE 26:14-21 Die Boodskap (DB)

Ussia het die leër uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en slingerklippe. Hy het ook goeie veiligheidsraamwerke gehad wat op die torings en die hoeke van Jerusalem opgerig is. Van daar af kon hulle pyle afskiet en groot klippe op aanvallers afgooi. Ussia het wyd en syd bekend geword. Deur God se goedheid het hy baie magtig geword. Toe Ussia so magtig geword het, was hy so vol van homself dat dit tot sy val gelei het. Hy het arrogant teenoor die Here sy God opgetree. Dit het gebeur toe hy op ’n keer in die tempel van die Here ingegaan het om sommer self wierook op die altaar te gaan brand. Die priester Asarja en 80 dapper priesters het hom die tempel in gevolg. Hulle het koning Ussia gekonfronteer en vir hom gesê: “Koning Ussia, u mag dit nie doen nie. Slegs priesters uit die Aäronfamilie mag wierook vir die Here brand. Gaan dadelik uit die heiligdom uit. U het ’n groot sonde gedoen. Die Here hou niks hiervan nie.” Ussia het reeds met ’n wierookpan in sy hand gestaan, reg om die wierook te offer, toe die priesters hom aangespreek het. Hy was woedend oor wat hulle vir hom gesê het. Terwyl hy nog op hulle skree, het ’n velsiekte op sy voorkop uitgeslaan. Dit het daar in die tempel, reg langs die wierookaltaar, voor die oë van die priesters gebeur. Toe Asarja en die ander priesters dit sien en besef dat hy ’n velsiekte gekry het, het hulle hom vinnig uit die tempel uitgevat. Hy het vinnig daar padgegee, want die Here se straf het hom getref. Koning Ussia het die velsiekte gehad tot hy dood is. Hy het die res van sy lewe in afsondering deurgebring. Hy kon ook nooit weer na die tempel toe gaan nie. Sy seun Jotam het beheer oor die paleis oorgeneem. Hy het oor die mense van Juda regeer.

2 KRONIEKE 26:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ussia het die hele leër voorsien van skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë en slingervelle. Hy het in Jerusalem bedrewe manne gehad wat uitvindsels gemaak het waarmee pyle en groot klippe bo van die torings en die hoeke van die muur af geskiet kon word. Sy roem het ver en wyd versprei, want hy het wonderlike hulp ontvang en het só baie magtig geword. Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die HERE sy God gesondig deur in die tempel van die HERE te gaan en self wierook op die altaar te brand. Asarja die priester het saam met 80 dapper priesters van die HERE agter hom aangegaan. Hulle het koning Ussia gekonfronteer en gesê: “Dit is nie toelaatbaar vir u, Ussia, om wierook vir die HERE te brand nie. Dit is die werk van die priesters, seuns van Aäron, wat alleen daarvoor afgesonder is. Gaan uit die heiligdom, want u het gesondig. Die HERE sal u nie daarvoor eer nie.” Ussia was woedend en het geweier om die wierookpan neer te sit. Terwyl hy kwaad vir die priesters daar voor die wierookaltaar gestaan het in die tempel van die HERE, het melaatsheid skielik op sy voorkop uitgebreek. Toe die hoëpriester Asarja en die ander priesters die melaatsheid op sy voorkop sien, het hulle hom so gou moontlik uit die tempel verwyder. Die koning was self haastig om daar uit te kom, want die HERE het hom getref. Koning Ussia het aan melaatsheid gely tot die dag van sy dood. Hy het in ’n huis in afsondering gewoon, wég van die tempel van die HERE. Sy seun Jotam is in beheer van die paleis gestel, en hy het oor die volk van die land regeer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid