2 Kronieke 26:14-21

2 Kronieke 26:14-21 ABA

Ussia het wapens gegee vir al die manne in die leër. Hy het vir hulle skilde, spiese, helms, harnasse, pyl en boë, en klippe vir die slingervelle gegee. Ussia het in Jerusalem groot wapens gehad wat sy slim mense uitgevind en gemaak het. Die groot wapens het op die torings en die hoeke van die stad gestaan en hulle kon pyle en groot klippe skiet. Die Here het vir Ussia wonderlik gehelp, en Ussia se leër het sterk geword. Al die mense het geweet van hom. Maar toe hy so sterk en belangrik word, het hy hoogmoedig geword, en daarom het dit later sleg gegaan met hom. Hy het ontrou geword aan sy God die Here. Hy het in die tempel ingegaan om wierook te brand op die wierook-altaar. Die priester Asarja het hom gevolg, en saam met Asarja was daar 80 belangrike priesters van die Here. Hulle het by koning Ussia kom staan en vir hom gesê: “Ussia, jy mag nie wierook brand vir die Here nie, net die priesters van die nageslag van Aäron is gewy om wierook te brand. Jy moet uitgaan uit die tempel, want jy het 'n verkeerde ding gedoen. God die Here sal sê jy mag dit nie doen nie.” Ussia was kwaad. Hy het die wierook-pan in sy hand gehad om die wierook te brand. En terwyl hy kwaad geword het vir die priesters, het hy melaats geword op sy voorkop. Dit het daar by die priesters in die tempel gebeur, by die wierook-altaar. Die hoëpriester Asarja en al die priesters het na Ussia gekyk, en hulle het gesien dat Ussia melaats is op sy voorkop. Hulle het hom vinnig uit die tempel geneem, en hy was self haastig om uit te gaan. Die Here het hom gestraf. Koning Ussia was melaats tot die dag toe hy gesterf het. Hy het apart in 'n huis gewoon, hy kon nie naby die tempel kom nie omdat hy melaats was. Sy seun Jotam was die hoof van die paleis en hy het regeer oor die mense in die land.