2 Kronieke 26:14-21

2 Kronieke 26:14-21 AFR20

Ussia het hulle, die hele leër, voorsien van kleinskilde, steekspiese, helms, harnasse, boë en klippe vir slingervelle. In Jerusalem het hy oorlogstuig, die uitvindsel van deskundiges, gemaak vir die torings en hoeke van die stadsmuur om pyle en groot klippe te skiet. Sy roem het ver versprei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy so sterk was. Maar toe hy magtig geword het, het sy hart hoogmoedig geraak, tot sy eie ondergang. Hy was ontrou aan die HERE sy God en het die •tempel van die HERE binnegegaan om reukwerk te verbrand op die altaar vir die reukwerk. Die priester Asarja het hom na binne gevolg. Saam met hom was daar tagtig priesters van die HERE, onverskrokke manne. Hulle het Ussia, die koning, teengestaan en vir hom gesê: “Dit is nie vir u, Ussia, beskore om reukwerk te laat brand vir die HERE nie, maar vir die priesters, die nageslag van Aäron, wat geheilig is om reukwerk te laat brand. Gaan uit die heiligdom uit, want u was ontrou! Dit sal u nie tot eer strek by die HERE God nie.” Ussia was onbeheersd kwaad. Terwyl hy met die pan met reukwerk in sy hand, gereed om reukwerk te laat brand, sy onbeheersde woede op die priesters uithaal, het 'n velsiekte daar voor die priesters, langs die altaar vir die reukwerk in die huis van die HERE, op sy voorkop uitgeslaan. Toe Asarja, die hoëpriester, en al die priesters na hom draai, het hy sowaar 'n velsiekte op sy voorkop! Hulle het hom inderhaas daar verwyder. Hy was self ook haastig om uit te gaan, omdat die HERE hom getref het. Koning Ussia het 'n velsiekte gehad tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gewoon, want hy was verban uit die huis van die HERE. Jotam, sy seun, het beheer gehad oor die koninklike paleis en het reg gespreek oor die volk van die land.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid