1 KONINGS 16:29-34

1 KONINGS 16:29-34 AFR83

Agab seun van Omri het koning van Israel geword in die ag en dertigste regeringsjaar van koning Asa van Juda. Agab seun van Omri het Israel twee en twintig jaar uit Samaria geregeer. Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. Dat hy voortgegaan het met die sondes van Jerobeam seun van Nebat was nog die minste; hy het ook met Isebel dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs getrou en die god Baäl begin dien en hom aanbid. Hy het 'n altaar vir Baäl opgerig by die Baälstempel wat hy gebou het in Samaria. Agab het ook 'n gewyde paal opgerig en hy het meer gedoen om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom. In daardie tyd het Giël van Bet-El die stad Jerigo opgebou. Toe hy die fondamente daarvan gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf, en toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste, Segub, gesterf. Dit was in ooreenstemming met die vervloeking wat die Here deur Josua seun van Nun uitgespreek het.