1 Konings 16:29-34

1 Konings 16:29-34 AFR20

Agab, seun van Omri, het koning geword oor Israel in die agt-en-dertigste regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Agab, seun van Omri, het twee-en-twintig jaar lank as koning geheers oor Israel in Samaria. Agab, seun van Omri, het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, meer nog as al sy voorgangers. En asof dit maar sommer 'n kleinigheid was om met die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, te volhard, neem hy toe as vrou Isebel, dogter van Etbaäl, die koning van die Sidoniërs. Hy het Baäl gaan dien en in aanbidding voor hom gebuig. Hy het vir Baäl 'n altaar opgerig in die tempel van Baäl wat hy in Samaria gebou het. Agab het ook 'n asjera gemaak. So het Agab meer gedoen om die HERE, die God van Israel, uit te tart as al die konings van Israel wat voor hom daar was. In sy regeringstyd het Giël, 'n man uit Bet-El, Jerigo herbou. Ten koste van Abiram, sy eersgeborene, het hy die fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, het hy die poortdeure opgerig. Dit was ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy by monde van Josua, seun van Nun, gespreek het.