1 KONINGS 16:29-34

1 KONINGS 16:29-34 NLV

Agab seun van Omri het in die 38ste regeringsjaar van koning Asa van Juda koning geword van Israel. Hy het 22 jaar lank in Samaria regeer. Agab het egter gedoen wat verkeerd was vir die HERE, selfs meer as enige van die konings voor hom. Asof dit nie genoeg was nie, het hy met Isebel, die dogter van koning Etbaäl van die Sidoniërs, getrou en Baäl begin dien en aanbid. Eers het hy ’n tempel en ’n altaar vir Baäl in Samaria gebou. Daarna het hy ’n paal wat aan Asjera gewy is, opgerig. Hy het die HERE die God van Israel meer uitgetart as al die konings van Israel voor hom. Gedurende sy regering het Giël uit Bet-El die stad Jerigo herbou. Toe hy die fondamente gelê het, het sy oudste seun Abiram gesterf. Toe hy die poortdeure gehang het, het sy jongste seun, Segub, gesterf. Dit het gebeur net soos die woord van die HERE deur Josua seun van Nun lank tevore oor Jerigo gesê het.