Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie. Moenie loop en kla dat hulle loskom met hulle skelmstreke nie. Moenie op hulle jaloers wees nie. Hulle verdwyn sommer op ’n dag. Vandag is hulle daar; môre is hulle weg. Glo liewer in die Here. Doen goeie dinge vir ander mense. Doen wat jy moet doen, en bly getrou aan die Here. Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê. Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou op die regte pad hou. Die Here sal vir almal wys dat jy reg leef. Buig laag voor die Here. Wag op Hom sonder om veel te sê. Hou op om jou so om te krap oor hoe goed dit met skelms gaan. Moenie kwaad word oor alles wat hulle doen nie. Op die ou end bring dit net vir jou moeilikheid. Slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn. Net mense wat in die Here glo, sal dan oorbly. Die land sal aan hulle behoort. Net ’n klein rukkie nog, dan sal daar nie meer mense wees wat niks van God wil weet nie. Jy sal na hulle soek, maar hulle sal weg wees. Maar mense wat nie te veel van hulleself dink nie, sal die hele aarde erf. Hulle sal bly wees oor hoe goed dit met hulle gaan. Slegte mense hou niks van die Here se kinders nie. Hulle probeer dié mense uit die weg ruim. Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom. Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak, maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word. Dis beter om net ’n paar besittings te hê en die Here lief te hê as om ’n sak vol geld te hê, maar jy glo nie in Hom nie. Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie. Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle. Hy sorg altyd vir hulle. Wat hulle geërf het, behou hulle vir altyd. Wanneer almal rondom hulle swaarkry, sal hulle genoeg hê om van te leef. As ander honger ly, sal hulle genoeg hê om hulle versadig te eet. Maar die Here se vyande sal in rook en vlamme vergaan. Mense wat sonder God leef, sal tot niet gaan. Mense wat sonder God leef, leen geld by ander, maar betaal dit nooit terug nie. Goeie mense kry ander mense jammer en help hulle. Mense met wie die Here tevrede is, sal eendag alles op die aarde besit. Maar mense vir wie die Here sy rug keer, sal ondergaan. Hulle sal uitgeroei word.
Lees Psalms 37
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Psalms 37:1-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's