PSALMS 37:1-22

PSALMS 37:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Van Dawid. Jy moenie kwaad word oor wat slegte mense doen nie, jy moenie ontsteld wees oor mense wat slegte dinge doen nie, want gras verlep gou, en groen plante word droog, en so sal dit gaan met daardie mense. Jy moet glo dat die Here sal doen wat Hy belowe het en jy moet goeie dinge doen. Dan sal jy in hierdie land woon en jy sal veilig wees. As jy gelukkig voel omdat jy aan die Here behoort, dan sal Hy vir jou alles gee wat jy wil hê. Jy moet glo dat die Here jou op jou pad sal lei en dat Hy sal doen wat Hy belowe het. As jy dit glo, dan sal Hy dit doen en Hy sal vir almal wys dat jy onskuldig is, Hy sal vir almal sê jy is iemand wat reg doen. Jy moet stilbly en geduldig wag totdat die Here iets doen. Jy moenie kwaad word wanneer dit goed gaan met iemand wat skelm planne maak nie. Jy moenie kwaad en ontsteld word nie, jy moet dit los. Jy moenie kwaad word nie, dit bring net probleme. Want mense wat slegte dinge doen, sal moet weggaan uit die land. Die mense wat glo dat die Here hulle sal red, húlle sal die land kry. Oor 'n kort tydjie sal die mense wat verkeerd doen, weg wees. Jy sal kyk na die plek waar hulle was, en hulle sal nie daar wees nie. Maar die mense wat hulleself nie kan help nie, sal die land kry en hulle sal gelukkig voel omdat alles goed sal gaan. Die mens wat verkeerd doen, maak slim planne teen die mens wat reg doen, hy wil hom laat sterf. Maar die Here lag vir die mense wat verkeerd doen, want Hy weet wat met hulle sal gebeur. Die mense wat verkeerd doen, vat die swaard en hulle trek die boog styf, hulle wil die mense doodmaak wat hulleself nie kan beskerm nie en wat niks het nie, hulle wil die mense vermoor wat eerlik lewe. Maar hulle swaard sal deur hulle eie hart steek, en hulle boog sal stukkend breek. Wanneer die mens wat reg lewe, min het, dan is dit beter as die baie dinge wat die mense het wat verkeerd doen, want die Here sal die mense wat verkeerd doen, swak laat word, maar Hy beskerm die mense wat reg doen. Die Here sorg altyd vir mense wat net goed doen, en die land sal altyd hulle land wees. Hulle sal weet wat om te doen wanneer dit sleg gaan, en wanneer daar min kos in die land is, dan sal hulle genoeg hê om te eet. Maar die mense wat verkeerd doen, sal sterf. Die vyande van die Here is soos die veldblomme, hulle verdwyn in die rook en hulle is weg. Die mens wat verkeerd doen, leen van ander mense en hy gee nie terug nie. Die mens wat reg doen, is iemand wat vir ander mense goed is en wat gee. Wanneer die Here mense seën, dan sal hulle die land kry, wanneer Hy mense vervloek, dan jaag Hy hulle weg uit die land.

PSALMS 37:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N PSALM van Dawid. Alef. Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog. Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie. He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. Wau. En nog 'n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Sajin. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom. Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom. Get. Die goddelose het die swaard getrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftige te laat val, om dié te slag wat opreg is van weg. Hulle swaard sal in hul hart gaan, en hulle boë sal verbreek word. Tet. 'n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose; want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges. Jod. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word. Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die HERE soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn. Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee; want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.

PSALMS 37:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende. Die skelms sal uitgeroei word, maar dié wat hulle vertroue in die Here stel, sal in besit bly van die land. Nog 'n rukkie en daar sal geen goddelose meer wees nie; 'n mens sal hom soek waar hy was, maar hy sal nie daar wees nie. Dié wat nou verdruk word, sal die land besit en hulle verlustig in hulle welvaart. Die goddelose soek die ondergang van die regverdige en bedreig sy lewe. Die Here lag vir die goddeloses, want Hy sien hulle dag kom. Die goddeloses trek die swaard en span die boog om die hulpelose en die arme dood te maak, om dié wat die regte pad loop, te vermoor. Die goddeloses se swaarde sal hulle eie harte tref en hulle boë sal stukkend gebreek word. Die bietjie van die regverdige is beter as die rykdom van talle goddeloses, want die mag van die goddeloses sal verbreek word, maar die Here sal die hulp wees van die regverdiges. Die Here sorg vir die lewe van die opregtes, en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe. In tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê. Die goddeloses sal te gronde gaan, die vyande van die Here sal tot niet gaan; soos mooi weivelde wat in vlamme opgaan, so sal hulle verdwyn. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, die regverdige kry jammer en help. Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit; maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.

PSALMS 37:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor die kwaaddoeners nie; moenie afgunstig wees op hulle wat kwaadwillig optree nie, want soos gras verdor hulle vinnig, en soos groen plante verwelk hulle. Vertrou op die HERE en doen die goeie, bewoon die land en waak oor betroubaarheid. Vind jou vreugde in die HERE, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer. Vertrou jou lewenspad aan die HERE toe, vertrou op Hom, en Hy sal optree. Hy sal jou •geregtigheid soos die oggendlig laat verskyn en jou reg soos die middagson. Wees stil voor die HERE, en krimp ineen van vrees voor Hom. Moet jou nie ontstel oor iemand wat sukses behaal op sy lewenspad nie, oor 'n mens wat komplotte smee nie. Moenie kwaad word nie en laat vaar die woede; moet jou nie ontstel nie, dit bring net kwaad. Want kwaaddoeners sal vernietig word, maar wie op die HERE wag – hulle sal die land besit. Nog net 'n rukkie, dan sal daar geen goddelose meer wees nie. Jy sal sy plek dophou, maar hy sal nie daar wees nie. Die verdruktes sal die land besit en hulle verlustig in die oorvloed vrede. 'n Goddelose beplan onheil teen die regverdige en kners op sy tande vir hom. My Heer lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom. Goddeloses trek die swaard en span hulle boog om die magtelose en behoeftige neer te vel, om dié wat opreg leef, af te slag. Hulle swaard sal hulle eie hart binnedring, en hulle boë sal gebreek word. Die bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die oorvloed van baie goddeloses. Want die arms van goddeloses sal gebreek word, maar die HERE ondersteun regverdiges. Die HERE dra sorg vir die lewensdae van hulle wat onberispelik leef: Hulle erfdeel bly vir altyd behoue. Hulle sal nie beskaamd staan in 'n tyd van teenspoed nie, en in tye van hongersnood is hulle versadig. Maar goddeloses gaan tot niet, die vyande van die HERE – soos kosbare weiveld verdwyn hulle, in 'n rookwolk verdwyn hulle. 'n Goddelose leen en betaal nie terug nie, maar 'n regverdige is goedhartig en mededeelsaam. Ja, wie deur Hom geseën is, sal die land besit, maar wie deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.

PSALMS 37:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Moenie jou bekommer oor die kwaaddoeners nie, en wees nie afgunstig op die werkers van ongeregtigheid nie. Want hulle sal gou afgekap word soos die gras en verdor soos die groen plante. Vertrou op die HERE en doen goed; so sal jy in die land woon, en voorwaar, jy sal gevoed word. Verlustig jou ook in die HERE; en Hy sal jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die HERE oor; vertrou ook op Hom; en hy sal dit laat gebeur. En Hy sal jou geregtigheid voortbring soos die lig en jou oordeel soos die middag. Rus in die HERE en wag geduldig op Hom; wees nie kwel oor hom wat voorspoedig is op sy weg, oor die man wat slegte planne uitwerk nie. Hou op van toorn en laat vaar die toorn; moenie kwaad wees in enige opsig om kwaad te doen nie. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar die wat op die HERE wag, hulle sal die aarde beërwe. Want nog 'n klein tydjie, en die goddelose sal nie wees nie; ja, jy moet ywerig ag op sy plek, en dit sal nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde beërwe; en hulle sal hulle verlustig in die oorvloed van vrede. Die goddelose plan 'n sameswering teen die regverdige en kners op hom met sy tande. Die HERE sal oor hom lag, want hy sien dat sy dag kom. Die goddelose het die swaard uitgetrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftiges neer te werp en die wat opregte wandel is, dood te maak. Hulle swaard sal in hulle eie hart ingaan, en hulle boë sal verbreek word. 'n Bietjie wat 'n regverdige het, is beter as die rykdom van baie goddeloses. Want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal vir ewig wees. Hulle sal nie beskaamd staan in die tyd van onheil nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word. Maar die goddelose sal omkom, en die vyande van die HERE sal wees soos die vet van lammers: hulle sal verteer; in rook sal hulle verteer. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, maar die regverdige bewys barmhartigheid en gee. Want die wat deur hom geseën word, sal die aarde beërwe; en die wat deur hom vervloek is, sal uitgeroei word.

PSALMS 37:1-22 Die Boodskap (DB)

Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie. Moenie loop en kla dat hulle loskom met hulle skelmstreke nie. Moenie op hulle jaloers wees nie. Hulle verdwyn sommer op ’n dag. Vandag is hulle daar; môre is hulle weg. Glo liewer in die Here. Doen goeie dinge vir ander mense. Doen wat jy moet doen, en bly getrou aan die Here. Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê. Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou op die regte pad hou. Die Here sal vir almal wys dat jy reg leef. Buig laag voor die Here. Wag op Hom sonder om veel te sê. Hou op om jou so om te krap oor hoe goed dit met skelms gaan. Moenie kwaad word oor alles wat hulle doen nie. Op die ou end bring dit net vir jou moeilikheid. Slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn. Net mense wat in die Here glo, sal dan oorbly. Die land sal aan hulle behoort. Net ’n klein rukkie nog, dan sal daar nie meer mense wees wat niks van God wil weet nie. Jy sal na hulle soek, maar hulle sal weg wees. Maar mense wat nie te veel van hulleself dink nie, sal die hele aarde erf. Hulle sal bly wees oor hoe goed dit met hulle gaan. Slegte mense hou niks van die Here se kinders nie. Hulle probeer dié mense uit die weg ruim. Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom. Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak, maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word. Dis beter om net ’n paar besittings te hê en die Here lief te hê as om ’n sak vol geld te hê, maar jy glo nie in Hom nie. Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie. Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle. Hy sorg altyd vir hulle. Wat hulle geërf het, behou hulle vir altyd. Wanneer almal rondom hulle swaarkry, sal hulle genoeg hê om van te leef. As ander honger ly, sal hulle genoeg hê om hulle versadig te eet. Maar die Here se vyande sal in rook en vlamme vergaan. Mense wat sonder God leef, sal tot niet gaan. Mense wat sonder God leef, leen geld by ander, maar betaal dit nooit terug nie. Goeie mense kry ander mense jammer en help hulle. Mense met wie die Here tevrede is, sal eendag alles op die aarde besit. Maar mense vir wie die Here sy rug keer, sal ondergaan. Hulle sal uitgeroei word.

PSALMS 37:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moenie jou vererg oor boosdoeners nie. Moenie die kwaaddoeners beny nie. Want soos gras verlep hulle gou. Soos plante verdroog hulle vinnig. Vertrou op die HERE en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veiligheid. Wees bly in die HERE, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die HERE. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die lig, en die regverdigheid van jou saak soos die middagson. Wees stil in die HERE, en wag geduldig op Hom. Moenie die mens beny wat op sý manier floreer, of jou verknies oor sy bose planne nie. Moenie kwaad word nie; laat staan liewer jou woede. Moenie ander beny nie; dit lei net tot jou nadeel. Want die bose mense sal vernietig word, maar dié wat op die HERE vertrou, sal die land besit. Binnekort sal die boosdoeners nie meer daar wees nie; al soek jy na hulle, sal jy hulle nie kry nie. Maar sagmoediges sal die land besit, hulle sal oorvloedige vrede geniet. Die goddelose sweer saam teen die regverdiges en kners op die tande vir hulle. Maar die Here lag vir hom, want Hy sien sy dag van oordeel kom al nader. Die goddelose trek die swaard en span die boog om die armes en behoeftiges tot ’n val te bring, om hulle wat reg doen, dood te maak. Maar hulle swaard sal hulle eie hart deurboor en hulle boog sal stukkend gebreek word. Dit is beter om vroom te wees en min te besit as om boos te wees en baie besittings te hê. Want die mag van die bose sal verpletter word, maar die HERE sal die regverdiges beskerm. Die HERE ken die lewensdae van die opregtes, en hulle erfdeel sal vir altyd bly bestaan. In slegte tye sal hulle nie verleë wees nie; selfs in hongersnood sal hulle genoeg hê. Maar die goddelose sal vergaan. Die vyande van die HERE sal wees soos mooi weivelde wat soos rook verdwyn. Die goddelose leen en betaal nie terug nie, maar die regverdige gee vrygewig. Hulle vir wie die HERE seën, sal die land besit, maar hulle wat Hy vervloek, sal uitgeroei word.