Psalms 132:1-18

Psalms 132:1-18 DB

Moet asseblief nie vir Dawid en alles wat hy deurgemaak het, vergeet nie, Here. Hy het mos vir die Here beloof: “Ek sal nie rus voordat ek ’n tempel vir die Here, die magtige God, gebou het nie. Ek sal nie gaan lê en aan die slaap raak nie, tot ek ’n blyplek vir Jakob se God gebou het.” Ons het gehoor die verbondsark is in Efrata. Uiteindelik kry ons dit in die veld by Jaär. Laat ons na die woonplek van die Here toe gaan. Laat ons Hom daar gaan dien. Kom, Here, kom na u rusplek toe. Kom saam met u ark wat wys hoe sterk U is. Laat u priesters net doen wat reg is. Laat u getroue mense van vreugde sing. Moenie die een vergeet wat U spesiaal aangewys het as koning nie, al is dit net ter wille van Dawid. Die Here het vir Dawid beloof dat een van sy kinders hom as koning sal opvolg. Die Here sal nie sy woord verbreek nie. Hy het gesê dat een van David se seuns altyd op die troon sal sit. As die nageslag van Dawid die Here getrou dien volgens die ooreenkoms wat hy met die Here gemaak het, sal sy kinders se kinders ook soos hy as koning heers. Maar dan moet hulle doen wat God vra. Die Here het Sion gekies as sy spesiale woonplek: “Dit is die plek waar Ek altyd wil rus. Hier wil Ek graag bly. Dis wat Ek wil doen. Ek sal vir Sion alles gee wat nodig is. Daar sal genoeg kos wees vir selfs die armstes. Die mense wat in die Here se huis werk, sal doen wat reg is, en die mense wat God getrou dien, sal van vreugde sing. Daar sal Dawid bly en net sterker en sterker word. Ek het hom spesiaal as koning aangestel. Hy sal soos ’n lamp vir die mense wees. Sy vyande sal in skaamte neersak terwyl hy net belangriker en belangriker word.”