PSALMS 132:1-18
PSALMS 132:1-18 Bybel vir almal (ABA)
'n Lied wanneer mense na die tempel gaan. Here, U moet dink aan Dawid, U moet dink aan al sy probleme. Dawid het vir die Here iets belowe, hy het 'n gelofte gemaak aan die Sterk God van Jakob. Dawid het gesê: “Ek sal nie in my huis ingaan en op my bed gaan lê nie, ek sal nie gaan slaap nie, ek sal eers vir die Here 'n plek kry, ek sal eers vir die Sterk God van Jakob 'n woonplek kry.” Ons het in die stad Efrata gehoor van die kis van God, ons het die kis gekry in die Jaär-veld. Ons het gesê: “Kom ons gaan na die woonplek van die Here, kom ons gaan buig by sy troon.” Here, U moet nou kom, U moet altyd hier wees, U en die kis wat wys dat U regeer. U priesters moet die regte klere dra, die mense wat aan U behoort, moet sing. Dawid was u dienaar, daarom moet U nie nou die koning, u gesalfde, los nie. Die Here het vir Dawid belowe, en die Here sál doen wat Hy belowe het. Hy het gesê: “Ek sal iemand van jou nageslag op jou troon laat sit. As die konings wat ná jou koning sal word, doen wat my verbond sê, as hulle gehoorsaam is aan my wette wat Ek vir hulle geleer het, dan sal hulle seuns ook altyd en altyd op jou troon sit.” Ja, die Here het vir Sion gekies, Hy wou hê dit moet sy woonplek wees. Hy het gesê: “Hier wil Ek wees, altyd en altyd, hier wil Ek woon, want dit is wat Ek wil hê. Ek sal vir die mense in die stad gee wat hulle nodig het, Ek sal dit altyd meer laat word, Ek sal vir die mense wat niks het nie meer as genoeg gee om te eet. Die priesters in die stad sal altyd weet dat Ek hulle sal red, die mense wat in My glo, sal sing en sing. Ek sal daar vir Dawid 'n seun gee, en die seun sal regeer, Ek sal 'n lamp laat skyn vir my gesalfde. Ek sal sy vyande altyd laat verloor, maar die kroon sal altyd op sy kop blink.”
PSALMS 132:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N BEDEVAARTSLIED. O HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite; dat hy aan die HERE gesweer het, hierdie gelofte gedoen het aan die Magtige van Jakob: Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie; sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie, totdat ek 'n plek vind vir die HERE, 'n woning vir die Magtige van Jakob! Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär. Laat ons na sy woning gaan, ons neerbuig voor die voetbank van sy voete. Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte! Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel. Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg. Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon. As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit. Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer. Sy voedsel sal Ek ryklik seën, sy behoeftiges versadig met brood; en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel. Daar sal Ek vir Dawid 'n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde 'n lamp toeberei. Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter.
PSALMS 132:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Pelgrimslied. Dink tog aan Dawid, Here, aan alles wat hy deurgemaak het, aan die eed wat hy teenoor die Here afgelê het, sy gelofte aan die magtige God van Jakob: “Ek sal nie in my slaapkamer ingaan nie en nie op die bed wat vir my reggemaak is, gaan lê nie, ek sal my geen slaap gun nie, en sal nie eens insluimer nie, totdat ek 'n plek vir die Here gereed gemaak het, 'n woning vir die magtige God van Jakob!” Ons het van die verbondsark gehoor in Efrata, ons het dit gevind in die Jaärsveld. Kom ons gaan sy woning binne, kom ons buig daar in aanbidding voor Hom. Kom na u rusplek toe, Here, U en die ark, die teken van u mag. Gee aan u priesters die oorwinning, laat u troue dienaars juig. Ter wille van u dienaar Dawid, moet tog nie u gesalfde verstoot nie. Die Here het 'n eed teenoor Dawid afgelê, en dit staan vas, Hy sal daarvan nie afwyk nie: “Ek sal een van jou eie seuns in jou plek laat koning word. As jou nakomelinge hulle aan my verbond hou en aan die verordeninge wat Ek hulle leer, sal ook hulle seuns vir altyd op jou troon heers.” Ja, die Here het Sion gekies en dit vir Hom as woning begeer: “Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, dit is my begeerte. Ek sal Sion ryklik seën met wat hy nodig het, aan sy armes voedsel in oorvloed skenk. Ek sal aan sy priesters die oorwinning gee en my troue dienaars sal juig. Daar sal Ek die heerskappy vir Dawid vestig, vir my gesalfde 'n nageslag op die troon verseker. Sy vyande sal Ek magteloos laat toekyk, maar sý kroon sal bly skitter.”
PSALMS 132:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n •Pelgrimslied. Dink tog, HERE, aan Dawid, aan al sy opofferings, hy wat teenoor die HERE 'n eed gesweer het, 'n gelofte afgelê het aan die Magtige van Jakob: “Ek sal nie ingaan in die tent waar ek woon; ek sal nie op my slaapbank gaan lê nie, ek sal my oë nie toelaat om te slaap, my ooglede om in te sluimer nie, totdat ek vir die HERE 'n plek gevind het, 'n woning vir die Magtige van Jakob.” Kyk, ons het daarvan gehoor in Efrata, dit gevind in die velde van Jaär. Laat ons sy woning binnegaan en in aanbidding buig voor die voetbank vir sy voete. Staan op, HERE, gaan na u rusplek, U en u magtige •ark. U priesters moet geklee wees in •geregtigheid, u troue volgelinge moet jubel. Ter wille van u dienskneg Dawid, moet U tog nie u gesalfde wegwys nie. Die HERE het vir Dawid 'n betroubare eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie: “Van jou nasate sal Ek op jou troon plaas. As jou seuns my verbond nakom en my bepalings wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd op jou troon sit.” Ja, die HERE het Sion uitgekies; Hy begeer dit as sy woonplek: “Dit is my rusplek vir altyd; hier wil Ek woon, want Ek begeer dit. Sion se voedselvoorraad sal Ek ryklik seën; haar behoeftiges sal Ek met brood versadig; haar priesters sal Ek met verlossing beklee en haar troue volgelinge sal uitbundig juig. Daar sal Ek vir Dawid 'n horing laat uitgroei; Ek het 'n lamp gereedgemaak vir my gesalfde. Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar sy kroon sal op hom skitter.”
PSALMS 132:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
HERE, dink aan Dawid en al sy ellende. Hoe hy aan die HERE gesweer en aan die magtige God van Jakob beloof het; Waarlik, ek sal nie in die tabernakel van my huis ingaan en nie op my bed klim nie; Ek sal vir my oë geen slaap gee en aan my ooglede geen slaap nie, Totdat ek 'n plek vir die HERE vind, 'n woning vir die magtige God van Jakob. Kyk, ons het daarvan gehoor by Efrata: ons het dit in die veld van die bos gevind. Ons sal in sy tente ingaan; ons sal aanbid by sy voetbank. Staan op, HERE, in u rus; jy en die ark van jou sterkte. Laat u priesters beklee wees met geregtigheid; en laat u heiliges jubel. Ter wille van u kneg Dawid moet u die aangesig van u gesalfde nie afwend nie. Die HERE het vir Dawid in waarheid gesweer; hy sal hom nie daarvan bekeer nie; Van die vrug van jou liggaam sal Ek op jou troon sit. As jou kinders my verbond en my getuienis wat Ek hulle sal leer nakom, sal hulle kinders ook vir ewig op jou troon sit. Want die HERE het Sion uitverkies; hy het dit as sy woning begeer. Dit is my rus vir ewig: hier sal ek woon; want ek het dit begeer. Ek sal haar voorsiening oorvloedig seën, haar armes met brood versadig. Ek sal ook haar priesters met verlossing beklee, en haar heiliges sal jubel. Daar sal Ek die horing van Dawid laat bot; Ek het 'n lamp vir my gesalfde ingestel. Sy vyande sal Ek met skande beklee, maar op Hom sal sy kroon bloei.
PSALMS 132:1-18 Die Boodskap (DB)
Moet asseblief nie vir Dawid en alles wat hy deurgemaak het, vergeet nie, Here. Hy het mos vir die Here beloof: “Ek sal nie rus voordat ek ’n tempel vir die Here, die magtige God, gebou het nie. Ek sal nie gaan lê en aan die slaap raak nie, tot ek ’n blyplek vir Jakob se God gebou het.” Ons het gehoor die verbondsark is in Efrata. Uiteindelik kry ons dit in die veld by Jaär. Laat ons na die woonplek van die Here toe gaan. Laat ons Hom daar gaan dien. Kom, Here, kom na u rusplek toe. Kom saam met u ark wat wys hoe sterk U is. Laat u priesters net doen wat reg is. Laat u getroue mense van vreugde sing. Moenie die een vergeet wat U spesiaal aangewys het as koning nie, al is dit net ter wille van Dawid. Die Here het vir Dawid beloof dat een van sy kinders hom as koning sal opvolg. Die Here sal nie sy woord verbreek nie. Hy het gesê dat een van David se seuns altyd op die troon sal sit. As die nageslag van Dawid die Here getrou dien volgens die ooreenkoms wat hy met die Here gemaak het, sal sy kinders se kinders ook soos hy as koning heers. Maar dan moet hulle doen wat God vra. Die Here het Sion gekies as sy spesiale woonplek: “Dit is die plek waar Ek altyd wil rus. Hier wil Ek graag bly. Dis wat Ek wil doen. Ek sal vir Sion alles gee wat nodig is. Daar sal genoeg kos wees vir selfs die armstes. Die mense wat in die Here se huis werk, sal doen wat reg is, en die mense wat God getrou dien, sal van vreugde sing. Daar sal Dawid bly en net sterker en sterker word. Ek het hom spesiaal as koning aangestel. Hy sal soos ’n lamp vir die mense wees. Sy vyande sal in skaamte neersak terwyl hy net belangriker en belangriker word.”
PSALMS 132:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
HERE, onthou tog vir Dawid en alles wat hy deurgemaak het. Hy het ’n eed voor die HERE afgelê, ’n gelofte gemaak aan die Magtige van Jakob: “Ek sal nie huis toe gaan en na my bed toe gaan nie. Ek sal my oë nie laat slaap of laat sluimer nie tot ek ’n plek gekry het vir die HERE, ’n heiligdom vir die Magtige van Jakob.” Ons het gehoor die ark is in Efrata, en dit gekry in die velde van Jaär. Kom ons gaan sy woning binne; laat ons laag voor Hom buig. Kom na u rusplek toe, HERE, U en die ark, die teken van u mag. Laat u priesters geklee word met regverdigheid; mag u troue dienaars sing van vreugde. Ter wille van u dienaar Dawid, moet tog nie u gesalfde verwerp nie. Die HERE het vir Dawid gesweer, en dit staan vas. Hy sal daarvan nie afwyk nie: “Een van jou afstammelinge sal Ek op jou troon laat sit. As jou seuns luister na my verbond en die eise navolg wat Ek hulle leer, sal ook húlle seuns vir altyd regeer.” Want die HERE het Sion gekies, dit as sy woning begeer: “Dit is my rusplek vir altyd. Hier sal Ek woon, want die plek het Ek begeer. Ek sal die stad oorvloedig seën met voedsel en haar armes van kos voorsien. Haar priesters klee Ek met redding; haar getroues sal sing van vreugde. Hier vestig Ek die mag van Dawid, en ’n nageslag vir my gesalfde. Ek klee sy vyande met skaamte, maar sý kroon sal bly skitter.”