Psalms 119:65-80

Psalms 119:65-80 DB

U doen goeie dinge vir my, presies soos U beloof het. Gee my ’n wakker verstand en ’n kop vol kennis oor U, want ek glo al u voorskrifte. Vroeër het ek op verkeerde paaie geloop, maar daardie dae is vir goed verby; nou doen ek net wat U sê. U is die Bron van alles wat goed is, U doen net goeie dinge. Leer my om u Woord te gehoorsaam. Slegte mense sê lelike dinge oor my, maar ek kyk net na U. Ek doen met alles in my wat U vir my sê om te doen. Hulle gee niks vir u wet om nie, maar vir my is dit die lewe. My swaarkry het my geleer om mooi na U te luister. U wet is vir my baie meer werd as ’n myn vol goud. U het my met u eie hande gemaak. Maak my kop nou ook vol met u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra. As ander gelowiges sien hoe ek aan U vashou, maak dit hulle baie bly. Ek vertrou op wat U sê. As daar een ding is wat ek weet, Here, is dit dat u bevele ’n mens help om reg op te tree. Partykeer stuur U probleme na my toe, net om te sien of ek nog aan U vashou. Vandag het ek u liefde bitter nodig! Help my, soos U belowe het. Kry my asseblief jammer, kom hou my styf vas, dan sal ek weer voluit lewe! Ek stap elke dag op die pad wat U in u wet vir my wys. Laat daardie spul wat so baie van hulleself dink, daar sleg van afkom. Hulle vertel ’n klomp leuens oor my. Gelukkig weet U dis nie waar nie, ek doen net wat U sê. Gee tog dat ander gelowiges wat U dien en doen wat U sê ook by my sal staan. Laat my elke dag net doen wat U sê, dan sal ek nooit moedeloos word nie.