Here, wys my wat U van my verwag, dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra. Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet! Dan sal ek heeltyd doen wat U sê. Laat my elke dag op die pad loop wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig. Help my om net aan U te dink sodat ek nie agter geld aanhardloop nie. Keer dat ek na dinge kyk waarvan U niks hou nie. Om te leef soos U wil hê; dis al wat ek vra! Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe. Keer tog dat mense lelike dinge vir my sê. Mense kan so venynig wees. Laat my net daardie dinge hoor wat U wil hê ek moet doen. Daar’s net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê. Beskerm my, want U doen wat U belowe. Here, wys asseblief vir my hoe goed U is, soos U beloof het. Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie, want ek hou net vas aan wat U sê. Help my om net die waarheid te praat. Dag en nag luister ek fyn na u stem. My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê. Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap. Voor belangrike mense wil ek oor U praat sonder om skaam te wees. Ek is so lief vir u Woord. Ek is bly daaroor. Om al u voorskrifte te hou maak my baie bly. Ek kan nie genoeg vir U sê hoe gelukkig dit my maak om te doen wat U sê nie, ek dink heeltyd daaraan. Onthou asseblief tog al die dinge wat U vir my, u dienaar, gesê het; ek hou met my hele lewe daaraan vas. In slegte tye hou u beloftes my aan die gang. Selfs al spot slegte mense met my, hou ek nie op om te doen wat U sê nie. Dit wat U lank terug al gesê het, bly heeltyd in my gedagtes, dit gee my moed vir elke dag. Ek word baie kwaad as ek sien dat slegte mense hulle nie aan u Woord steur nie. U woorde is soos die mooiste musiek in my ore, al kry ek baie swaar. Tot in die nag dink ek aan U, doen ek net wat U sê. Om te doen wat U van my vra is my hele lewe! U is al wat vir my saak maak. Daarom doen ek net wat U vra. Met alles in my pleit ek by U: moenie u rug vir my keer nie. Doen goed aan my soos U belowe het. Ek het goed gaan kyk na my eie lewe, dis een groot deurmekaarspul; toe het ek besluit om dadelik terug te keer na U. Nou doen ek my bes om aan U gehoorsaam te wees. Selfs slegte mense het my laat probeer val, maar hulle kon my nie van u Woord af wegtrek nie. In die middel van die nag staan ek op om te bid, dan loof ek U omdat U so groot en goed is. My vriende is ook mense wat vir U respek het en doen wat U sê. Here, u goedheid is die hele wêreld vol. Leer my om na U te luister.
Lees Psalms 119
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Psalms 119:33-64
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's