Here, leer my hoe om u voorskrifte uit te voer,
sodat ek my tot die einde toe daaraan kan hou.
Gee my insig, dat ek u wet kan gehoorsaam
en dit met my hele hart kan onderhou.
Laat my wandel volgens u gebooie,
want daarin vind ek vreugde.
U verordeninge, laat dié my na aan die hart lê,
nie die begeerte om myself te verryk nie.
Weerhou my van 'n nuttelose lewe,
laat my leef op die weg wat U aanwys.
Vervul ook aan my die belofte
wat U gegee het aan dié wat U dien.
Die venyn van mense, daarvoor is ek bang,
moenie dat dit my tref nie.
Maar u bepalings, dié is goed.
Ek wil u bevele nakom.
Hou my in die lewe, want U is getrou.
Bewys aan my u troue liefde, Here,
red my volgens u belofte.
Dan sal ek dié wat my vals beskuldig, kan antwoord,
want ek vertrou op u woord.
Weerhou my tog van alles wat onwaar is.
In u bepalings stel ek my vertroue.
Ek wil u wet my hele lewe lank onderhou.
My lewe sal veilig wees,
want ek vra steeds wat u bevele is.
Selfs voor die hoogste gesag sal ek u verordeninge
met vrymoedigheid aanhaal.
In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig.
Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig.
U voorskrifte sal my bybly.
Onthou tog u woord aan my,
die woord waarop U my laat hoop het.
Dit is my troos in my ellende:
dat u belofte my in die lewe hou.
Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur,
maar van u wet het ek nie afgewyk nie.
Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here:
dit gee my vertroue.
Ontsteltenis het my oorval
oor die goddeloses wat u wet verontagsaam.
U voorskrifte is vir my 'n lied
in my lewe hier op aarde.
Selfs in die nag dink ek aan U, Here,
en is ek gehoorsaam aan u wet.
Om u bevele uit te voer,
is vir my die lewe.
Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here,
om u woord te gehoorsaam.”
Ek smeek U met my hele hart:
“Wees my genadig, soos U beloof het.
Ek het die koers van my lewe oordink
en na u verordeninge teruggekeer.
Ek talm nie, ek haas my
om u gebooie te onderhou.”
Die goddeloses wou my in hulle strikke kry,
maar ek het u wet nie verontagsaam nie.
Selfs in die middel van die nag staan ek op
om U te loof vir u regverdige bepalings.
Ek is 'n vriend van almal wat U dien
en u bevele gehoorsaam.
Die aarde is vol van u troue liefde, Here.
Leer my u voorskrifte.