Prys die Here! Bid tot Hom! Vertel vir almal op aarde wat die Here gedoen het. Sing liedere, maak die Here se Naam groot. Jubel oor al die groot dinge wat Hy elke dag doen. Bring lof en eer aan die Here se heilige Naam. Wees bly, almal wat daarna smag om by die Here te wees. Vra vir die Here om heeltyd by julle te wees met sy groot krag. Kruip by Hom weg. Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie. Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het. Onthou sy magtige dade, hoe Hy mense in nood uitgered het. Julle is deel van die nageslag van Abraham, die kneg van die Here. Julle behoort aan Jakob wat deur die Here uitgekies is. Die Here is ons God! Die hele aarde is vol van al sy magtige dade. Hy onthou die ooreenkoms wat Hy met sy volk gemaak het, sy beloftes wat Hy aan duisende geslagte gegee het! Dit is dieselfde ooreenkoms wat Hy met Abraham gemaak het, en sy belofte aan Isak. Dit is aan Jakob dat Hy sy woord gegee het en met Israel dat Hy ’n ewige ooreenkoms gemaak het toe Hy gesê het: “Al die grond in Kanaän behoort van nou af aan jou, dit is jou erfporsie, jou besitting!” Toe Israel nog maar ’n klein groepie was, vreemdelinge in ’n nuwe land, het hulle van landgebied tot landgebied rondgetrek, van een klomp mense na ’n ander. Maar Hy het nie toegelaat dat iemand hulle ooit sleg behandel nie. Selfs magtige konings is nie toegelaat om hulle aan te val nie. God het vir hulle gesê: “Moet dit nie waag om julle hand teen my kinders op te lig nie. Hulle is Myne. Moet dit ook nie waag om een van my boodskappers seer te maak nie.” Die Here het ’n hongersnood oor die hele land laat kom. Daar was nie ’n krieseltjie kos oor om te eet nie. Maar Hy het ’n man voor hulle uit gestuur. Dit is Josef, wat as ’n slaaf verkoop is. Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag. Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal. Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis. Josef het beheer gehad oor al sy besittings. Die koning se huishouding was onder Josef se bestuur. Hy was die hoof oor die belangrike amptenare. Al die slim mense moes hy onderrig.
Lees Psalms 105
Deel
Vergelyk alle weergawes: Psalms 105:1-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's