PSALMS 105:1-22
PSALMS 105:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
LOOF die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend. Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders. Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond, O nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes! Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele. Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte — die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond, met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin, en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk, het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê: Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie. En Hy het 'n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek. Hy het 'n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het. Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat. Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.
PSALMS 105:1-22 Die Boodskap (DB)
Prys die Here! Bid tot Hom! Vertel vir almal op aarde wat die Here gedoen het. Sing liedere, maak die Here se Naam groot. Jubel oor al die groot dinge wat Hy elke dag doen. Bring lof en eer aan die Here se heilige Naam. Wees bly, almal wat daarna smag om by die Here te wees. Vra vir die Here om heeltyd by julle te wees met sy groot krag. Kruip by Hom weg. Moenie dat daar ’n dag verbygaan dat julle nie naby Hom is nie. Dink aan al die groot wonderwerke wat die Here gedoen het. Onthou sy magtige dade, hoe Hy mense in nood uitgered het. Julle is deel van die nageslag van Abraham, die kneg van die Here. Julle behoort aan Jakob wat deur die Here uitgekies is. Die Here is ons God! Die hele aarde is vol van al sy magtige dade. Hy onthou die ooreenkoms wat Hy met sy volk gemaak het, sy beloftes wat Hy aan duisende geslagte gegee het! Dit is dieselfde ooreenkoms wat Hy met Abraham gemaak het, en sy belofte aan Isak. Dit is aan Jakob dat Hy sy woord gegee het en met Israel dat Hy ’n ewige ooreenkoms gemaak het toe Hy gesê het: “Al die grond in Kanaän behoort van nou af aan jou, dit is jou erfporsie, jou besitting!” Toe Israel nog maar ’n klein groepie was, vreemdelinge in ’n nuwe land, het hulle van landgebied tot landgebied rondgetrek, van een klomp mense na ’n ander. Maar Hy het nie toegelaat dat iemand hulle ooit sleg behandel nie. Selfs magtige konings is nie toegelaat om hulle aan te val nie. God het vir hulle gesê: “Moet dit nie waag om julle hand teen my kinders op te lig nie. Hulle is Myne. Moet dit ook nie waag om een van my boodskappers seer te maak nie.” Die Here het ’n hongersnood oor die hele land laat kom. Daar was nie ’n krieseltjie kos oor om te eet nie. Maar Hy het ’n man voor hulle uit gestuur. Dit is Josef, wat as ’n slaaf verkoop is. Hulle het Josef se voete met swaar boeie vasgemaak en hom agter ysterdeure toegesluit. Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het, totdat die Here besluit het hy is net die regte man vir die werk! Josef het die toets geslaag. Toe het die koning vir Josef uit die tronk laat haal. Die magtige heerser oor baie nasies het hom vrygelaat en hom aangestel as die hoof oor sy hele paleis. Josef het beheer gehad oor al sy besittings. Die koning se huishouding was onder Josef se bestuur. Hy was die hoof oor die belangrike amptenare. Al die slim mense moes hy onderrig.
PSALMS 105:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet vir die Here dankie sê, julle moet sy Naam sê, julle moet vir al die volke vertel wat Hy gedoen het. Julle moet sing vir Hom, julle moet musiek maak vir Hom, julle moet praat oor al sy wonderwerke. Julle moet Hom prys, Hy is heilig. Almal wat die Here dien, moet wys dat hulle bly is. Julle moet die Here kom dien, Hy is sterk, julle moet altyd naby Hom wil bly. Julle moet dink aan sy wonderwerke wat Hy gedoen het, julle moet dink aan sy tekens toe Hy sy vyande gestraf het. Julle is die nageslag van sy dienaar Abraham, die nageslag van Jakob wat Hy gekies het. Hy is ons God die Here, Hy oordeel al die mense. Hy het altyd sy verbond onthou, Hy het dit belowe vir 1 000 geslagte. Hy het hierdie verbond gemaak met Abraham, Hy het dit vir Isak belowe, Hy het vir Jakob gesê die verbond sal nie verander nie, dit is 'n verbond met die volk Israel, 'n verbond wat vir altyd sal wees. Die Here het gesê: “Ek gee vir jou die land Kanaän, dit moet altyd aan julle behoort.” Hulle was min mense, net 'n paar mense, en hulle was vreemdelinge in die land. Hulle het rondgetrek, van een volk na 'n ander volk, van een land na 'n ander land. Die Here het gesê niemand mag sy mense verdruk nie, Hy het konings gestraf omdat hulle sy volk verdruk het. Hy het gesê: “Julle moet niks sleg doen aan die mense wat Ek gesalf het nie, julle moenie slegte dinge doen aan my profete nie.” Die Here het hulle honger laat word, daar was niks om te eet nie. Hy het 'n man gestuur om voor hulle te gaan, die man was Josef, sy broers het hom verkoop, en hy het 'n slaaf geword. Hulle het sy voete met toue vasgemaak, hulle het 'n ysterband om sy nek gesit. Josef was 'n slaaf totdat die tyd gekom het toe hy moes praat, en die Here vir hom gesê het wat hy moet sê. En wat hy gesê het, het gebeur. Die koning het mense gestuur en hulle het vir Josef uit die tronk laat kom. Die man wat oor volke regeer het, het vir Josef die deure laat oopmaak. Die koning het vir Josef gekies en aangestel om oor die paleis te regeer, Josef moes regeer oor alles wat aan die koning behoort het. Josef kon vir die amptenare van die koning sê wat hy wil hê hulle moet doen. Hy het vir die leiers geleer wat die regte dinge is wat hulle moet doen en sê.
PSALMS 105:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Loof die Here! Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het. Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade. Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees. Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid. Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel, julle, nageslag van Abraham sy dienaar, nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het. Hy, die Here, is ons God; sy reddingsdade strek oor die hele aarde. Hy hou sy verbond altyd in stand, die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het, die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, sy eed aan Isak. Hy het dit vir Jakob bevestig as 'n vaste toesegging, vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan. Hy het gesê: “Ek gee Kanaän vir jou as grondgebied en eiendom.” Toe hulle nog maar min was, net 'n paar mense, en vreemdelinge in die land, toe hulle van volk na volk geswerf het, van die gebied van die een volk na dié van 'n ander, het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie, en het Hy selfs konings ter wille van hulle gewaarsku: “Moenie aan my gesalfdes raak nie, moenie my profete kwaad aandoen nie!” Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete geboei en hom in die gevangenis gehou totdat sy woorde bewaarheid is, nadat hy die toets deurstaan het met wat die Here aan hom bekend gemaak het. Toe het die koning hom uit die gevangenis laat uitkom; die heerser oor baie volke het hom vrygelaat en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding, met gesag oor al sy besittings. Josef kon die amptenare van die koning na goeddunke beveel en selfs aan hoë amptenare leiding gee.
PSALMS 105:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Prys die HERE, roep sy Naam uit; maak onder die volke sy dade bekend. Sing vir Hom, besing Hom! Praat met oorgawe oor al sy wonderwerke. Beroem julle in sy •heilige Naam; laat die harte van hulle wat die HERE opsoek, bly wees. Soek die HERE en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op. Roep die wonders wat Hy gedoen het in herinnering, sy tekens en die oordele van sy mond – nageslag van Abraham, sy dienskneg, kinders van Jakob, sy uitverkorenes! Hy is die HERE ons God; oor die hele wêreld geld sy beslissings. Hy onthou vir altyd sy verbond, die woord wat Hy beveel het, vir duisend geslagte, wat Hy gesluit het met Abraham en met 'n eed beloof het aan Isak. Hy het dit aan Jakob bevestig as 'n vaste voorskrif, aan Israel as 'n ewige verbond, met die woorde: “Aan jou sal Ek die land Kanaän gee as julle afgemete erfdeel.” Toe hulle nog min in getal was, baie min, en hulle •vreemdelinge in die land was, het hulle van een nasie na die ander geswerf, van een koninkryk na 'n ander volk. Hy het geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie. Hy het konings oor hulle tereggewys: “Moenie aan my gesalfdes raak nie; my profete moet julle geen kwaad aandoen nie.” Hy het hongersnood uitgeroep oor die land; elke stok vir brood het Hy gebreek. Hy het iemand voor hulle uit gestuur; as 'n slaaf is Josef verkoop. Mense het sy voete in boeie geklem, 'n yster is om sy nek gesit tot die tyd toe sy woord vervul is. Die woord van die HERE het hom gelouter. Die koning het 'n boodskap gestuur en hy is losgelaat; die heerser van volke het hom vrygelaat. Hy het hom heer oor sy huis gemaak, en heerser oor alles wat hy besit, om sy •hoë amptenare na willekeur te beperk, en sy oudstes wysheid te leer.
PSALMS 105:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Loof die HERE; roep sy Naam aan, maak sy dade bekend onder die volk. Sing tot eer van hom, psalmsing tot eer van hom; vertel van al sy wonderdade. Roem in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees. Soek die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. Dink aan sy wonderwerke wat Hy gedoen het; sy wonders en die oordele van sy mond; O nageslag van Abraham, sy kneg, kinders van Jakob, sy uitverkorene! Hy is die HERE onse God: sy oordele is op die hele aarde. Hy het aan sy verbond gedink vir ewig, die woord wat Hy beveel het tot duisend geslagte. Watter verbond Hy met Abraham gesluit het en sy eed aan Isak; en dit aan Jakob bevestig as 'n wet en vir Israel as 'n ewige verbond. en gesê: Aan jou sal Ek die land Kanaän gee, die lot van jou erfdeel. Toe hulle maar 'n paar manne in getal was; ja, baie min, en vreemdelinge daarin. Toe hulle van een nasie na die ander gegaan het, van een koninkryk na 'n ander volk; Hy het niemand toegelaat om hulle onreg te doen nie; ja, hy het konings ter wille van hulle bestraf; en sê: Raak nie aan my gesalfdes nie, en doen my profete geen kwaad nie. Verder het hy 'n hongersnood oor die land geroep; hy het die hele staf brood verbreek. Hy het 'n man voor hulle uit gestuur, naamlik Josef, wat vir 'n dienskneg verkoop is. Wie se voete hulle met boeie seergemaak het: hy is in yster gelê. Totdat sy woord gekom het: die woord van die HERE het hom beproef. Die koning het gestuur en hom losgemaak; selfs die owerste van die volk, en laat hom vry. Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy besittings. Om sy vorste te bind na sy behae; en leer sy senatore wysheid.
PSALMS 105:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dank die HERE, maak sy Naam bekend! Maak sy dade bekend aan die nasies. Sing vir Hom, sing tot sy eer! Vertel van sy wonderdade aan almal. Roem sy heilige Naam. Wees bly, dienaars van die HERE! Vra na die HERE en sy krag, hou aan om Hom te soek. Dink aan sy wonderdade, sy tekens en sy regspraak. Kinders van Abraham, sy dienaar, nakomelinge van Jakob, God se uitverkorenes. Hy is die HERE ons God. Sy uitsprake is oor die hele aarde. Hy sal sy verbond altyd onthou, die bepalings wat Hy beveel het vir duisend geslagte, die verbond met Abraham gesluit en sy eed aan Isak. Hy het dit aan Jakob bevestig as ’n vaste bepaling, aan Israel as ’n voortdurende verbond: “Ek gee die land Kanaän vir jou as jou eie besitting.” Toe hulle maar min was, ’n klein groepie mense en vreemdelinge in die land, het hulle rondgetrek tussen die volke, van een koninkryk na die ander. Hy het nie toegelaat dat hulle verdruk word nie. Ter wille van hulle, het Hy konings gewaarsku: “Moenie my gesalfdes aanraak, en my profete kwaad aandoen nie.” Hy het ’n hongersnood oor die land gebring, en hulle kosvoorrade laat opraak. Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ’n ysterhalsband gesit tot sy woord waar geword het, en die HERE se woord hom reg bewys het. Toe het Farao hom vrygelaat; die heerser oor volke het hom bevry. Hy het hom aangestel oor sy huis, met gesag oor al sy eiendomme. Hy kon aan sy beamptes bevele gee, en sy hoofamptenare wysheid leer.