PSALMS 105:1-22

PSALMS 105:1-22 NLV

Dank die HERE, maak sy Naam bekend! Maak sy dade bekend aan die nasies. Sing vir Hom, sing tot sy eer! Vertel van sy wonderdade aan almal. Roem sy heilige Naam. Wees bly, dienaars van die HERE! Vra na die HERE en sy krag, hou aan om Hom te soek. Dink aan sy wonderdade, sy tekens en sy regspraak. Kinders van Abraham, sy dienaar, nakomelinge van Jakob, God se uitverkorenes. Hy is die HERE ons God. Sy uitsprake is oor die hele aarde. Hy sal sy verbond altyd onthou, die bepalings wat Hy beveel het vir duisend geslagte, die verbond met Abraham gesluit en sy eed aan Isak. Hy het dit aan Jakob bevestig as ’n vaste bepaling, aan Israel as ’n voortdurende verbond: “Ek gee die land Kanaän vir jou as jou eie besitting.” Toe hulle maar min was, ’n klein groepie mense en vreemdelinge in die land, het hulle rondgetrek tussen die volke, van een koninkryk na die ander. Hy het nie toegelaat dat hulle verdruk word nie. Ter wille van hulle, het Hy konings gewaarsku: “Moenie my gesalfdes aanraak, en my profete kwaad aandoen nie.” Hy het ’n hongersnood oor die land gebring, en hulle kosvoorrade laat opraak. Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ’n ysterhalsband gesit tot sy woord waar geword het, en die HERE se woord hom reg bewys het. Toe het Farao hom vrygelaat; die heerser oor volke het hom bevry. Hy het hom aangestel oor sy huis, met gesag oor al sy eiendomme. Hy kon aan sy beamptes bevele gee, en sy hoofamptenare wysheid leer.

Video vir PSALMS 105:1-22

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 105:1-22